





















Oorspronklike uitgawe is in Engels gepubliseer onder die titel
The Lion Children’s Bible deur Lion Hudson IP Ltd, deel van die Society for Promoting Christian Knowledge (SPCK) Group, Londen, Engeland.
Kopiereg © 2022 SPCK
Kopiereg op teks © 1981 en 1991 Pat Alexander
Kopiereg op illustrasies © 1991 Carolyn Cox
Hierdie Afrikaanse uitgawe in Suid-Afrika gepubliseer deur Christian Media Publishing
Posbus 3228, Matieland Poskantoor, Stellenbosch, 7602, Suid-Afrika Reg no 2010/008573/07 www.christianmediapublishing.com
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie boek mag sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer gereproduseer word nie, hetsy elektronies of op enige ander manier.
In Afrikaans vertaal deur Andries en Sonja Cilliers
Taalversorging deur Aletta van der Westhuizen en Hester Steenkamp
Eerste CMP uitgawe © 2025
ISBN 978-1-928437-40-6
10 9 8 7 6 5 4 3 2 1
’n
DRUKNAAM VAN Christian Media Publishing
Die
Die verhaal van Jesus en sy volgelinge
Die meisie Maria
“Sy naam is Johannes”
162
. 164
Die Koning word in ’n stal gebore . 167
Die vreemdelinge en ’n ster
Die Seun in die tempel
Die Koning se boodskapper
Jesus word getoets
Jesus se werk begin
Jesus woon ’n troue by
Jesus se twaalf vriende
Lesse in die buitelug
Groot opdragte
Jesus se gebed
Die twee huisbouers
Die verlamde man
Die storm
Jesus besoek Jerusalem
171
175
177
179
. 180
181
182
184
186
187
189
191
192 Die geheime besoeker
Die vrou by die put
Probleme oor die sabbat
Koning Herodes se verjaardag
Glo, en vergewe
Die goeie herder
Sy leef weer!
God se koninkryk
Die onkruid
Die verborge skat
Die pêrel
Die honger mense
Op die berg
192
193
Die verhaal van God se volk
Ons begin reg by die begin, nog voordat die wêreld gemaak is .
In die begin was God daar.
God het die wêreld en alles daarin gemaak . God het die eerste mense gemaak .
Toe dinge begin skeefloop, het God ’n plan gemaak .
God het een man gekies .
Uit daardie man is God se volk gebore, en uit daardie volk ons Verlosser!
Die Bybel is ’n boek vol wonderlike verhale .
Dit is ook een groot verhaal …
Lank, lank gelede, nog voordat enigiets bestaan het, het God ons wêreld gemaak . Hy het die son gemaak vir lig in die dag . Hy het die maan en die sterre gemaak vir lig in die nag . God het ook die lug en die see en die land geskep .
God het voëls gemaak om in die lug te vlieg, visse om in die see te swem en diere om op die land te leef . God het gekyk na alles wat Hy gemaak het . God het gesien dit is mooi . Sy wêreld was reg vir mense om in te woon . Toe maak God ’n man en ’n vrou . Hulle name was Adam en Eva .
God het vir Adam en Eva gevra om vir sy nuwe wêreld te sorg . Hulle moes al die plante en bome, voëls, visse en diere versorg . Hy het vir hulle ’n pragtige plek gegee om in te woon . Daar was koel riviere, skaduryke bome en heerlike vrugte om te eet . Dit was die tuin van Eden .
Adam en Eva was baie gelukkig in die tuin . God het net een ding gevra: dat hulle nooit van die vrugte van die boom van alle kennis sou eet nie . God het gesê hulle sou sterf as hulle van daardie vrugte eet . Adam en Eva het in die tuin gewoon . Hulle was God se vriende . Hulle het gedoen wat God gevra het .
Ongelukkig was daar iemand wat God se mooi wêreld wou bederf . Eendag het Eva by die boom van alle kennis verbygeloop . Toe hoor sy die sagte, sissende stem van die slang .
“Kyk hoe lekker is hierdie boom se vrugte . Laat dit nie jou mond water nie? Wil jy nie daaraan proe nie? As jy van hierdie vrugte eet, sal jy slim word . Jy sal net so slim soos God wees . ”
Eva het na die slang se woorde geluister. Sy het na die vrugte gekyk . En net daar het sy vergeet hoe goed en vol liefde God is . Eva wou net so slim soos God wees . Sy wou doen wat sý wou doen .
Eva het haar hand na die boom toe uitgesteek en ’n vrug gepluk . Sy het dit geëet . Sy het ook vir Adam van die vrug gegee .
Van daardie oomblik af het alles verkeerd geloop . God het geweet wat Adam en Eva gedoen het . Niemand kan iets vir God wegsteek nie . Adam en Eva was nie meer God se vriende nie . God het hulle weggestuur uit sy tuin .
Hulle moes die tuin van Eden, waar hulle so gelukkig was, verlaat . In die tuin kon hulle saam met God gaan stap en met Hom gesels . Nou het ’n engel met ’n swaard wag gestaan by die tuin om te keer dat hulle ooit terugkom .
Adam en Eva moes van toe af baie hard werk, so hard dat hulle doodmoeg geword het . Hulle het geleer wat pyn is . Die ergste van alles was dat hulle geweet het God se waarskuwing sou waar word: Hulle sou eendag oud word en sterf .
Nadat hulle die tuin van Eden verlaat het, het Adam en Eva twee seuns gehad . Hulle name was Kain en Abel . Kain het ’n saaiboer geword . Hy het geploeg en geplant . Abel het ’n veeboer geword . Hy het met diere geboer.
Met oestyd het Kain ’n deel van sy oes vir God as geskenk gebring . Dit was sy manier om vir God dankie te sê . Abel het vir God een van sy lammers gegee . Dit was goeie geskenke, maar ons kan nie God se liefde met geskenke koop nie . God kyk nie net na ons geskenke nie . God kyk ook na ons harte .
Abel was ’n goeie mens . Daarom was God tevrede met Abel se geskenk . Maar Kain se hart was vol woede en jaloesie . Hy het sy broer gehaat . Kain het geweet God was nie tevrede met sy offer nie .
Eendag toe hulle alleen in die veld was, het Kain sy broer Abel doodgemaak . Hy het gedink niemand sien hom nie, maar God het geweet wat hy gedoen het .
God het vir Kain gestraf deur hom weg te stuur uit sy land en weg van sy mense af . God se wêreld, wat so goed begin het, was toe nie meer so mooi en goed nie .
Baie jare het verbygegaan . Mense is gebore . Mense het kinders gehad . En mense het gesterf . In God se wêreld het alles van kwaad tot erger gegaan . Die mense het met mekaar baklei . Hulle het nie van mekaar gehou nie . Hulle het mekaar seergemaak . Niemand het vir God omgegee nie . Niemand het hulle gesteur aan hoe God wou hê hulle moes leef nie . Niemand het na God geluister nie . En God was jammer dat Hy ooit mense gemaak het . God kon net een ding doen: Hy moes van voor af begin, met nuwe mense . Daarom het God besluit om alle lewe op die aarde te vernietig deur ’n groot vloed te stuur.
Daar was egter een man wat soos God se vriend geleef het . Sy naam was Noag . God het met Noag oor die vloed gepraat en sy plan vir hom verduidelik . God wou Noag en sy familie red . God het vir Noag gesê hy moet ’n groot boot van hout bou . Dit is ’n ark genoem . Die ark moes groot genoeg wees vir Noag, sy vrou, hulle drie seuns, Sem, Gam en Jafet, en hulle vrouens . Noag moes ook twee van elke soort dier en voël by hulle in die ark kon neem . En daar moes genoeg plek wees vir kos vir hulle almal vir ’n lang tyd . Noag het fyn geluister na alles wat God gesê het en gedoen presies wat God gevra het . Die mense het kom kyk hoe Noag aan sy ark werk . Hy en sy seuns het baie lank aan die boot gebou .
Dag na dag het die mense vir Noag gevra waarmee hy besig is . Dan het Noag vir hulle vertel wat God gesê het oor die vloed wat die aarde sou vernietig . Die mense het hulle nie aan Noag gesteur nie . Hulle het gedink Noag is van sy verstand af . Stel jou voor om ’n boot so ver van ’n rivier of die see af te bou . Noag het hom nie aan hulle gesteur nie . Hy het net aangegaan met die werk wat God vir hom gegee het . En uiteindelik was die ark klaar.
Die reën het begin val .
Daardie dag het Noag en sy familie en al die diere en voëls by die ark ingegaan, net soos God gesê het . God self het die deur styf agter hulle toegemaak .
Die reën het neergestort . Dag en nag het dit gereën en gereën . Sommer gou het al die riviere se walle oorstroom . Die water het oor die land begin vloei . Die water het tot by die ark gekom . Dit het al hoër gestyg en al wilder om die ark begin kolk . Die water het die ark opgelig en dit het op die water begin dryf .
Steeds het dit nie ophou reën nie . Die water het aanhou styg totdat alles onder water was . Niemand en niks kon die water oorleef nie . Selfs die bergspitse was toe onder die water.
Net Noag en sy familie en die diere saam met hulle in die ark het bly leef . Die wêreld was weer woes en leeg .
Uiteindelik het die reën ophou val . Stadig, stadig het die water weggesak . Die ark het op ’n berg tot rus gekom . Noag wou uitvind of die aarde al droog genoeg was om die ark te verlaat . Hy het ’n venster oopgemaak en ’n kraai laat uitvlieg . Toe die kraai nie terugkom nie, het Noag ’n duif losgelaat . Die aarde was nog nie droog genoeg vir die duif nie . Sy het teruggekom en Noag het haar weer by die ark ingelaat .
Noag het ’n tweede keer die duif losgelaat . Sy het met ’n vars olyfblaar in haar bek teruggekom . Toe het Noag geweet die aarde was amper droog . Die derde keer toe hy die duif losgelaat het, het sy glad nie teruggekom nie . Gou daarna kon Noag self die droë grond sien .
God het vir Noag gesê dit was tyd om die ark te verlaat . Hulle kon van voor af begin in ’n vars, skoon wêreld . Wat ’n opwindende dag moes dit gewees het! Mens en dier het oor mekaar gestruikel in hulle haas om by die ark uit te kom en weer op droë grond te staan . Noag en sy familie het gelag en gesing en rondgehardloop . Toe het hulle vir God dankie gesê dat Hy hulle veilig gehou het .
Noag het ’n hoop groot klippe op mekaar gepak en hout daarop gesit . Dit was ’n altaar waarop hulle vleis kon verbrand om op ’n spesiale manier vir God dankie te sê . Die son het deur die wolke gebreek . Toe hulle opkyk, was daar ’n pragtige, kleurryke reënboog in die lug . God het vir Noag belowe om nooit weer die aarde met ’n vloed te vernietig nie . Die reënboog was ’n teken wat almal kon sien en weet: God sal altyd sy belofte hou .
Na die groot vloed het Noag en sy seuns begin boer. Hulle het ’n wingerd geplant . Noag se kinders het kinders gehad, en hulle kinders het kinders gehad . Sommer gou was daar so baie mense op een plek dat sommige families moes wegtrek om genoeg gras te hê vir hulle diere om te eet .
Al die mense het nog dieselfde taal gepraat . Almal kon mekaar verstaan . Daarom was dit vir hulle maklik om planne te maak en saam te werk .
Van die mense het op ’n vlakte in Sinar gaan woon . Hulle het geleer om stene te maak en dit te bak om dit hard en sterk te maak . Hulle het ook ontdek dat hulle teer kan gebruik om die stene stewig aan mekaar vas te plak . Toe kon hulle regtig begin bou!
“Kom ons bou vir ons ’n stad,” het die mense eendag gesê . “En kom ons bou ’n toring in die stad, die hoogste toring wat mense nog ooit gebou het . Die toring moet aan die hemel raak . Dan sal ons almal van ons weet . ”
Almal het saamgestem dat dit ’n goeie idee was . Toe begin almal saam hard werk aan die stad en die toring van Babel .
God het gekyk hoe die mense werk . Hy het gesien hoe die mure van die stad al hoër word . God het gesien hoe die toring al hoër in die lug strek . Hy het gesien hoe die mense al meer idees kry oor wat hulle alles kan doen . En God het geweet dit gaan moeilikheid veroorsaak . Die mense het begin dink hulle kan enigiets doen . Hulle het begin dink hulle is soos God .
God het nie gewag totdat die mense se toring klaar was voordat Hy ingegryp het nie . Hy het geweet as mense verskillende tale praat, sou hulle mekaar nie meer kon verstaan nie . Hulle sou nie meer so maklik kon saamwerk nie . Daarom het God hulle verskillende tale laat praat . Die mense kon mekaar nie meer verstaan nie . Hulle het weggetrek van mekaar af en oor die hele wêreld gaan woon .
Die mense het noord, suid, oos en wes getrek . Party het langs die kus gaan woon, of op die eilande aan die oostekant van die Middellandse See . Ander het in Egipte en Afrika ’n tuiste gevind . En nog ander het in Assirië en Arabië gaan bly .
Die mense wat van Noag afgestam het, het groot volke geword . Elke volk het in sy eie land gewoon . Elke volk het hulle eie taal gepraat . Hulle kon nooit weer so maklik saamwerk en saam planne maak soos met die toring van Babel nie . Wanneer mense ook al die verhaal van die toring van Babel oorvertel het, het hulle onthou hoekom hulle in soveel verskillende tale “babbel” .
In die stad Ur, in die land van die Galdeërs, het ’n man met die naam Abraham gewoon . Sy vrou se naam was Sara . Eendag het God vir Abraham gesê:
“Ek wil hê jy moet uit Ur wegtrek . Gaan na die land Kanaän ver van hier. As jy doen wat Ek sê, sal Ek jou die vader van ’n groot nasie maak . ”
Abraham en Sara het nie kinders gehad nie . Tog het hulle die Here geglo . Hulle het gedoen wat Hy gevra het . Hulle het vir Lot, Abraham se broerskind, en hulle dienaars, hulle kleinvee en hulle grootvee geneem en Ur verlaat . Hulle het hulle huis, familie en vriende, al die mense en plekke wat hulle so goed geken het, agtergelaat en na ’n onbekende land vertrek .
Hulle het stadig gereis en die pad na Kanaän was lank . Maar uiteindelik het hulle daar aangekom . Abraham en sy mense het hulle tente opgeslaan by Mamre, naby Hebron . Daar het hulle lank en gelukkig saamgeleef . Maar hulle skape en beeste het al meer geword, totdat daar later nie meer genoeg weiding en water vir almal was nie . Die mans wat Abraham se diere opgepas het en die mans wat Lot se diere opgepas het, het met mekaar begin rusie maak .
Abraham en Lot het toe besluit dit is tyd dat hulle uitmekaar gaan . Abraham het vir Lot eerste laat kies waarheen hy wou trek . Lot het besluit om weg te trek van die heuwels af, na die groen vallei van die Jordaanrivier, naby aan die stad Sodom . Daar sou baie water en gras vir sy diere wees . Abraham het in die heuwels agtergebly, waar daar minder water was en die gras bruin en skaars was .
Al het die vallei vir Lot so groen en mooi gelyk, het hy verkeerd gekies . Die mense wat in die stad Sodom gewoon het, was hoogmoedig en gierig en lui . Hulle was wrede mense wat van geweld gehou het . Die mense in Sodom het baie lelike dinge gedoen en niemand was jammer of skaam daaroor nie .
Maar God is regverdig . Hy kyk nie weg wanneer mense doelbewus kies om te doen wat verkeerd is nie . God het besluit om Sodom te straf .
Een warm middag, terwyl Abraham in die skadu van sy tent gerus het, het hy drie vreemde mans na hom toe sien aankom . Abraham het hulle vriendelik gegroet en hulle genooi om in sy tent te kom rus en saam met hom te eet . Sara en haar dienaresse het gewoel en gewerskaf om vars brood te bak en ’n kalf te braai . Abraham het die brood en vleis saam met bakke vol botter en melk aan sy gaste voorgesit .
Na die ete het die mans vir Abraham vertel hoekom hulle daar is . Abraham en Sara was toe al baie oud, maar God het goeie nuus vir hulle gehad . Binnekort sou die seun wat hulle so graag wou hê, gebore word . Hulle was baie verbaas, maar ook baie bly .
Maar die mans het ook slegte nuus vir hulle gehad . God het besluit om Sodom, die stad waar Lot gewoon het, te vernietig .
Lot en sy familie was die enigste mense in Sodom wat die Here gedien het . Daarom het God sy boodskappers gestuur om Lot te waarsku om uit Sodom weg te vlug voordat dit te laat was .
Maar Lot se mense wou nie uit Sodom weggaan nie . God se boodskappers het hulle net betyds veilig uit die stad weggekry . Hulle was skaars buite die stad toe hulle ’n groot gedruis hoor. Die aarde het gebewe . Vuur en swael het op Sodom neergereën . Die lug was die ene stof en rook . Lot se vrou wou nog altyd nie weggaan nie . Toe gaan staan sy stil en kyk om na die stad . Sy het net daar in ’n soutpilaar verander. Net Lot en sy twee dogters het uit Sodom ontsnap . God het hulle lewe gered .
Toe God vir Abraham geroep het om Ur te verlaat, het Hy belowe om hom die vader van ’n groot nasie te maak . God het vir Abraham ’n seun belowe . Hy het gesê Abraham se nageslag sal so baie wees soos die sterre in die lug .
Abraham moes baie jare wag vir hierdie belofte om waar te word . Aand na aand het hy na die sterre opgekyk en God se belofte onthou . En uiteindelik, toe Abraham en Sara al baie oud was en amper moed verloor het, is Isak gebore . Sara het na haar seuntjie gekyk en sy was so gelukkig dat sy van blydskap gelag het .
Die jare het verbygegaan . Isak het groot en sterk geword . Toe besluit God om vir Abraham te toets .
“Abraham,” het God gesê, “Ek wil hê jy moet vir Isak, jou enigste seun wat jy so liefhet, na die land Moria neem . Daar moet jy hom vir My offer.”
Abraham kon nie glo dat God so iets van hom vra nie .
Wou God regtig hê hy moes sy seun doodmaak, na alles wat God aan hom belowe het? Tog het Abraham geleer dat hy altyd op God kon vertrou . Abraham was aan God gehoorsaam . Vroeg die volgende oggend het hulle na Moria vertrek . Isak het die hout gedra . Abraham het die mes by hom gehad, en die vuurklip om die hout mee aan die brand te steek .
Drie dae lank het hulle gereis . Abraham wou nie eens dink aan wat op hom gewag het nie . Hy het nie ’n woord met Isak daaroor gepraat nie . Hulle was al amper daar toe Isak vra: “Pa, ons het die hout en die vuurklip om vir God ’n offer te bring, maar waar is die lam?”
Abraham het swaar gesluk . “God self sal die lam voorsien,” het hy geantwoord . Maar toe hulle by die plek aankom en die altaar bou en die hout daarop pak, het Abraham vir Isak op die altaar vasgebind . Hy het die mes opgetel om vir Isak dood te maak …
Net mooi op daardie oomblik het God na hom geroep:
“Abraham! Wag! Moenie aan jou seun raak nie . Ek weet nou dat jy My met jou hele hart vertrou . Ek weet jy sal aan My gehoorsaam wees, al vra Ek wat van jou . Kyk na die bosse . Jy sal daar ’n skaapram sien wat aan sy horings in ’n bos vassit . Offer die ram vir My . ”
Abraham het sy bewende seun losgesny . Dankbaar en vol blydskap het hulle die ram geslag en hom op die altaar vir God geoffer. God het al sy wonderlike beloftes en seëninge aan Abraham herhaal omdat hy aan God gehoorsaam was toe God hom getoets het .
Abraham was oud en Sara het al gesterf . Dit was tyd vir Isak, hulle seun, om te trou . Isak kon nie met ’n vrou van Kanaän trou nie . Hy moes trou met ’n meisie wat deel van sy eie mense was . Abraham se familie het baie ver weg gewoon en hy was al te oud om te reis . Toe roep Abraham sy getroue dienaar nader.
“Ek wil hê jy moet Mesopotamië toe gaan,” het Abraham gesê . “My broer Nahor woon daar. Gaan kies daar vir Isak ’n vrou . ”
“En as die meisie nie saam met my wil terugkom nie?” het die man gevra . “Moet ek dan vir Isak na haar toe neem?”
“Nee, dit mag jy nie doen nie,” het Abraham geantwoord, “want God het hierdie land aan my nageslag belowe . ”
Die dienaar het mense en kamele met hom saamgeneem . Hy het ook spesiale geskenke vir die meisie en haar familie ingepak . Die reis was lank en hulle het moeg geraak, maar uiteindelik het hulle by die stad aangekom waar Nahor gewoon het . Die dienaar het sy kamele laat kniel by die fontein buite die stad waar die vroue kom water skep het .
Die dienaar het tot God gebid, soos hy so dikwels vir Abraham met God hoor praat het . “Here my God,” het hy gesê, “help my om die regte vrou vir Isak te kies . Ek sal vir een van die meisies vra: ‘Laat my water uit jou kruik drink . ’ As sy sê: ‘Ek sal ook vir jou kamele water bring,’ sal ek weet sy is die regte vrou vir Isak . ”
Hy het skaars klaar gebid toe hy ’n pragtige meisie sien naderkom . Sy het haar kruik by die fontein vol water gemaak .
Toe Abraham se dienaar vir haar water vra om te drink, het sy dadelik haar kruik vir hom gegee . Nadat hy genoeg gedrink het, het die meisie ook vir sy kamele water gebring .
Dit was die teken waarvoor hy gebid het! Die dienaar het dadelik vir die meisie ’n goue ring en twee goue armbande gegee . Toe vra hy vir haar wie sy is en of hulle dalk die nag by haar pa se huis kon oorbly .
“My naam is Rebekka,” het sy gesê . “Ek is die dogter van Betuel . My oupa se naam is Nahor.”
“God het my reguit na my eienaar se familie toe gelei!” het die dienaar uitgeroep en vir God dankie gesê vir sy hulp .
Rebekka het die man net daar laat staan en vinnig huis toe gehardloop . Daar het sy vir haar familie haar geskenke gewys en vir hulle vertel wat gebeur het . Toe haar broer Laban haar storie hoor, het hy dadelik die vreemdeling gaan verwelkom .
By die huis het die kamele voer gekry . Die mans het gewas en daar was lekker warm kos om te eet . Maar Abraham se dienaar wou niks eet nie . Hy wou eers vir Betuel en Laban vertel hoekom hy na hulle toe gekom het . Hy het vir hulle vertel van Abraham en Isak en hoe die Here hulle geseën het .
Hy het ook vir hulle vertel dat hy daar by die fontein gebid het en dat God hom geantwoord het . Toe vra hy hulle of Rebekka saam met hom kon teruggaan om met Isak te trou . Hoe kon Betuel en Laban weier? Dit was duidelik dat God alles presies so beplan het . Hulle almal het saam geëet en feesgevier.
Die volgende oggend was Abraham se dienaar haastig om terug te gaan huis toe . Rebekka het saam met hom gegaan .
Terwyl Isak een aand in die veld geloop het, het hy die kamele sien aankom . Die mans kon nie wag om hulle storie vir hom te vertel nie . Maar Isak het nie regtig na hulle geluister nie . Hy het hom verkyk aan die pragtige meisie wat so ver gereis het om sy bruid te wees . Isak het Rebekka as sy vrou geneem en hy was baie lief vir haar.
Tyd het verbygegaan . ’n Tweeling is vir Isak en Rebekka gebore . Die seuns se name was Esau en Jakob . Toe hulle gebore is, het God gesê Esau en Jakob se nageslagte sal teen mekaar oorlog maak . Esau, die oudste seun, sou vir Jakob, die jongste seun, dien .
Esau het grootgeword en hy was ’n goeie jagter. Dit was vir hom lekker buite in die veld . Hy het wilde diere gejag en die vleis huis toe gebring . Dan het hy heerlike bredies van die wildsvleis gekook . Sy pa, Isak, was baie lief vir Esau en vir die kos wat hy gemaak het . Jakob was baie anders . Hy was ’n stil mens . Hy het eerder by die huis gebly . Jakob was Rebekka se gunsteling .
Isak het blind en oud geword . In daardie tyd het pa’s gewoonlik voor hulle dood vir God gevra om ’n spesiale seën aan hulle oudste seun te gee . Isak het geweet dit is tyd om vir Esau te seën . Maar eers het hy vir Esau gestuur om te gaan jag en vir hom ’n lekker bredie van die vleis te kook .
Rebekka het gehoor wat Isak vir Esau gesê het . Sy wou hê dat Isak eerder vir Jakob moes seën . Omdat Isak blind was, kon Jakob maak of hy Esau is . Isak sou dit nie eens agterkom nie .
Terwyl Esau gaan jag het, het Rebekka twee jong bokke laat slag . Toe kook sy ’n smaaklike, geurige bredie van die vleis . Sy het die bokke se velle om Jakob se gladde arms en nek gedraai sodat hy vir Isak soos die harige Esau sou voel .
Jakob het ook sy broer se klere aangetrek sodat hy soos Esau sou ruik . Toe neem Jakob vir Isak die kos . Isak is om die bos gelei deur die geurige kos en die bokvelle wat om Jakob gedraai was .
Tog het Isak gedink Esau se stem klink anders .
“Is jy regtig Esau?” het hy gevra .
“Ek is,” het Jakob gejok .
Isak vra toe die Here om sy rykste seën, die seën van die oudste seun, vir Jakob te gee .
Toe Esau terugkom uit die veld en hoor wat gebeur het, was dit te laat . Jakob is in sy plek geseën . Esau was so kwaad vir Jakob dat Rebekka bang was hy maak vir Jakob dood . Sy het Isak oorreed om vir Jakob weg te stuur om by haar mense in Paddan-Aram te gaan woon en daar vir hom ’n vrou te kies .
Jakob het vertrek . Hy was bang en alleen . Teen sononder het hy by ’n plek gekom waar hy die nag kon slaap . Jakob het ’n klip vir ’n kopkussing gebruik . Terwyl hy geslaap het, het Jakob gedroom . In sy droom het hy ’n groot leer gesien wat aan die hemel raak . Engele het op en af teen die leer geklim . God self het met Jakob in sy droom gepraat .
“Ek sal die land waarop jy nou lê vir jou en jou nageslag gee,” het God gesê . “Ek is by jou . Ek sal altyd vir jou sorg, waarheen jy ook al gaan . En Ek sal jou na hierdie land terugbring . ”
Toe Jakob wakker skrik, was hy baie bang, al het hy die Here se trooswoorde in sy droom onthou . Hy het besef God self het met hom gepraat . Jakob het toe ’n belofte aan God gemaak .
“As U my beskerm,” het hy gesê, “en as U my veilig teruglei na my huis toe, sal U my God wees . ”
Na ’n lang reis het Jakob uiteindelik by sy ma se mense uitgekom . By ’n put het hy vir die veewagters oor sy oom Laban uitgevra . Terwyl hulle gesels het, het ’n meisie daar aangekom om vir haar pa se vee water te gee . Dit was Ragel, Laban se dogter. Jakob het van blydskap gehuil toe hy vir haar vertel wie hy is .
Laban het vir Jakob as deel van die familie verwelkom . Jakob het vir Laban begin werk . Nadat hy al ’n maand gewerk het, het sy oom vir hom vra wat hy as betaling wil hê .
“Ek sal sewe jaar by Oom werk as ek met u dogter Ragel kan trou,” het Jakob geantwoord .
Laban het ingestem . Jakob was so lief vir Ragel dat die sewe jaar vir hom soos sewe dae gevoel het . Maar toe die dag van die bruilof aanbreek, het Laban vir Jakob bedrieg . Hy het vir Lea, Ragel se suster, vir hom as bruid gegee . Sy verskoning was dat die oudste dogter eerste moes trou . Jakob kon ook met Ragel trou, maar dan moes hy nog sewe jaar vir Laban werk .
Jakob het toe twee vrouens gehad, maar hulle was nie ’n gelukkige familie nie . Jakob was liewer vir Ragel as vir Lea . Dit het vir Lea baie hartseer gemaak . Maar die Here het vir Lea kinders gegee . Ragel het kinderloos gebly, al het sy ’n kind met haar hele hart begeer. Die jare het verbygegaan . Lea het later ses seuns en ’n dogter gehad . Eers toe het die Here ook vir Ragel haar eerste seun gegee . Sy het hom Josef genoem .
Jakob het al baie huis toe verlang, maar sy oom wou hom nie laat gaan nie . Jakob het Laban gehelp om ryk te word .
“Bly by my,” het Laban gesê . “Ek sal jou betaal net wat jy vra . ” Dit was Jakob se kans .
Jakob het ingestem . “As betaling wil ek al die swart skape en bokke hê en almal wat gestreep of bont is,” het hy gesê . Laban het weer vir Jakob probeer bedrieg, maar God het vir Jakob gehelp . Jakob se veetroppe het al groter geword . Hy het so ryk geword dat Laban se seuns hom begin haat het .
Jakob het geweet Laban sal hom nooit laat gaan nie . Daarom het hy gewag totdat sy oom besig was om skape te skeer.
Toe, een nag, het hy stilletjies met sy vrouens en kinders en sy dienaars en vee oor die Eufraatrivier gevlug . Laban het hom agternagesit, maar kon Jakob nie oortuig om terug te kom nie .
Jakob het verder gereis, terug Kanaän toe . Hoe nader hy aan sy huis gekom het, hoe banger het hy geword . Was Esau nog altyd baie kwaad vir hom? Jakob het boodskappers vooruit gestuur om vrede met Esau te maak . Maar hulle het teruggekom en vir Jakob vertel dat Esau met 400 mans na hom toe op pad was . Jakob het God gevra om hom te help .
“Here my God,” het hy gebid, “U het gesê ek moet hierheen terugkom . Ek verdien dit nie dat U so goed is vir my nie . Red my tog uit Esau se hand . ”
Toe kies Jakob ’n groot klomp bokke, skape, kamele, beeste en donkies uit om dit vir Esau as geskenke te gee . Hy het sy dienaars vooruit gestuur met die diere . Daarna het hy sy familie deur die Jabbokdrif laat trek . Jakob het alleen agtergebly . Daardie nag, terwyl Jakob alleen en bang was, het iets vreemd gebeur. ’n Man het na Jakob toe gekom en die hele nag lank met hom gestoei, tot dagbreek toe . Jakob het die man nie geken nie, maar hy het geweet God het hom gestuur. Jakob het geweier om die man te laat gaan voordat God hom geseën het .
Na daardie nag het Jakob altyd mank geloop, maar hy was ’n nuwe mens met ’n nuwe naam . Hy was nie meer Jakob, die man wat sy broer bedrieg het nie . Hy was nou Israel, die man wat vir God ontmoet het .
Die volgende oggend toe die son opkom, het Jakob vir Esau en sy manne na hom toe sien aankom . Hy het groot moeilikheid verwag, maar Esau het na hom toe gehardloop en hom omhels . Hulle rusie van vroeër was vergete . Hulle albei was baie bly om mekaar weer te sien .
“Wie is al hierdie mense?” het Esau gevra toe Jakob se familie naderstaan . “En wie se baie diere het ek langs die pad teëgekom?”
“Die diere is my geskenk aan jou,” het Jakob geantwoord . “Neem hulle asseblief vir jou . Toe jy my met soveel liefde verwelkom het, het dit vir my gevoel of ek by God is en sy liefde ervaar.”
Jakob het twaalf seuns gehad: Ruben, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon (Lea se seuns); Gad en Aser (seuns van Silpa, Lea se dienares); Dan en Naftali (seuns van Bilha, Ragel se dienares), en Josef en Benjamin (Ragel se seuns) .
Josef was Jakob se gunsteling . Hy moes geweet het dit sou groot probleme veroorsaak . Maar Jakob was baie lief vir Ragel en sy is dood met Benjamin se geboorte . Daarom kon Jakob nie help om haar seuns die liefste te hê nie . Hy het nie eens probeer om almal ewe lief te hê nie . Jakob het vir Josef bederf . Hy het vir hom ’n pragtige, kleurryke jas gegee . Eintlik moes Jakob so ’n jas vir Ruben, sy oudste seun, gegee het .
Josef se broers het baie jaloers geraak op hom . Hulle het niks van Josef gehou nie . Boonop het Josef se drome alles erger gemaak . Josef het gedroom sy broers en sy pa buig voor hom . Selfs Jakob was vies vir Josef omdat hy so grootgepraat het oor sy drome .
Eendag het Jakob vir Josef gestuur om te gaan kyk hoe dit met sy broers gaan waar hulle die vee in die veld opgepas het . Hulle het vir Josef van ver af sien aankom en besluit om hom dood te maak . Ruben, die oudste broer, wou Josef se lewe red . Hy het die ander oortuig om Josef nie dood te maak nie .
Verkoop as ’n slaaf
“Gooi hom liewer in hierdie droë put,” het Ruben gesê . Die ander het ingestem . Maar terwyl Ruben by die skape was, het handelaars daar verbygereis op pad na Egipte . Josef se broers het hom vir twintig stukke silwer aan die handelaars verkoop . Toe Ruben terugkom, was dit te laat .
Die broers het Josef se spesiale jas geneem en dit met bloed besmeer. Hulle het huis toe gegaan en die jas vir hulle pa gewys . Jakob het bitterlik gehuil . Hy het geglo wilde diere het vir Josef verskeur. Niemand kon hom troos nie .
In Egipte is Josef as ’n slaaf aan Potifar verkoop . Potifar was ’n amptenaar van die farao, die koning van Egipte . Josef was ’n slaaf in ’n vreemde land, maar hy was nie alleen nie . God was by hom . Potifar was so tevrede met sy nuwe dienaar dat hy sommer gou vir Josef aangestel het om te sorg vir sy huis en alles wat hy besit het .
Josef was ’n aantreklike man en Potifar se vrou het op hom verlief geraak . Maar Josef was getrou aan sy eienaar. Hy het geweier om haar lief te hê . Potifar se vrou het so kwaad geword vir Josef dat sy leuens oor hom aan haar man vertel het . Sy het gesê Josef het haar aangeval .
Potifar was woedend . Hy het vir Josef in die koning van Egipte se tronk laat gooi . Maar God was nog altyd by Josef . Daar in die tronk het Josef die bewaarder se vertroue gewen . Die bewaarder het vir Josef oor al die ander gevangenes aangestel . Een van die gevangenes was die koning se skinker. ’n Ander een was die koning se bakker.
Een nag het die skinker en die bakker albei vreemde drome gehad . Toe Josef die volgende oggend vir hulle kos neem, het hulle albei baie bekommerd gelyk . Wat kon hulle drome tog beteken? In daardie tyd het die Egiptenaars geglo elke droom het ’n spesiale betekenis .
“God kan vir ons sê wat julle drome beteken,” het Josef gesê . Toe vertel hulle vir Josef wat hulle gedroom het, en God het vir Josef gewys wat die drome beteken .
Die skinker het van ’n wingerdstok met drie lote gedroom . Hy het die druiwe gepluk, die sap in die koning se beker uitgedruk en dit vir die koning gegee om te drink .
“Oor drie dae,” het Josef vir die skinker gesê, “sal die koning jou vrylaat . Jy sal jou werk terugkry . Dan moet jy asseblief vir die koning van my vertel en my help om uit die tronk te kom . ”
Die skinker het belowe .
Die bakker het gedroom hy dra drie broodmandjies op sy kop . Die mandjies was vol lekkernye vir die koning, maar die voëls het dit opgeëet .
“Oor drie dae,” het Josef gesê, “sal die koning jou laat haal, maar hy sal jou laat doodmaak . ”
Alles het gebeur presies soos Josef gesê het . Maar die skinker het van sy belofte aan Josef vergeet .
Twee jaar later het die koning van Egipte ’n eienaardige droom gehad . Niemand kon vir hom sê wat dit beteken nie . Toe eers onthou die skinker van Josef . Die koning het dadelik vir Josef uit die tronk laat haal . Hy het vir Josef van sy vreemde droom vertel .
Die koning het gedroom hy staan langs die Nyl . Sewe vet koeie het uit die rivier gekom en op die rivier se wal gaan wei . Na hulle het sewe maer koeie uit die rivier gekom . En die maer koeie het die vet koeie opgeëet .
God het vir Josef gewys wat hierdie droom beteken . “Vir sewe jaar sal daar net goeie oeste in die land wees,” het Josef verduidelik . “Dan sal daar vir sewe jaar hongersnood wees . Bêre in die goeie jare genoeg kos weg sodat die mense in die land nie van die honger doodgaan in die slegte jare nie . ”
Die koning was baie bly dat Josef vir hom kon sê wat sy droom beteken . Hy het besef God was by Josef . En die koning het besluit Josef is net die regte man om te sorg dat hulle genoeg graan wegbêre . Die koning het toe sy goue ring aan Josef se vinger gesteek, ’n goue ketting om sy nek gehang en hom die onderkoning van die hele Egipte gemaak .
Na sewe jaar van goeie oeste, was daar skielik geen oeste meer nie, net soos Josef voorspel het . In baie ander lande was daar nie genoeg kos vir die mense om te eet nie . Maar in Egipte was daar genoeg kos .
In Kanaän het Josef se pa en broers amper niks meer graan gehad om brood te bak nie . Uiteindelik het Jakob besluit om al sy seuns, behalwe vir Benjamin, Egipte toe te stuur.
Jakob se tien seuns het voor die onderkoning van Egipte gaan staan, diep gebuig en hom gevra of hulle koring by hom kon koop . Nie een van hulle het hulle broer herken nie, maar Josef het dadelik geweet wie hulle was . Hy het besluit om uit te vind of sy broers nog altyd so wreed was . Hy het hulle kwaai aangekyk .
“Julle is spioene!” het hy hard uitgeroep en hulle in die tronk laat gooi . Na drie dae het hy hulle weer vrygelaat . Hulle kon die koring huis toe neem, maar hulle moes terugkom en hulle jongste broer, Benjamin, met hulle saambring . Om seker te maak die broers kom terug, het Jakob vir Simeon in die tronk in Egipte laat agterbly . Hy het ook sy dienaars beveel om die geld wat sy broers vir die koring betaal het in hulle sakke terug te sit .
Toe die broers hulle sakke oopmaak en die geld daarin kry, was hulle baie bekommerd .
Hartseer het hulle met die koring na Kanaän teruggereis . Hoe sou hulle ooit vir Jakob kon oorreed om sy jongste seun te laat gaan? Toe hulle kos uiteindelik weer opraak, was daar geen ander uitweg nie . Hulle moes teruggaan
Egipte toe en Benjamin met hulle saamneem . Anders sou hulle van die honger doodgaan .
Weer het die broers voor die onderkoning van Egipte gebuig .
Toe Josef vir Benjamin sien, het hy na sy kamer gegaan en daar gaan huil . Hy het sy gesig gewas en teruggegaan na sy broers toe . “Hoe gaan dit met julle pa?” het hy gevra . “En is dit julle jongste broer?”
Josef se dienaars het vir hulle ’n ete voorberei en die broers het gaan sit om te eet . Toe die kos bedien word, het Benjamin vyf keer meer kos as die ander gekry . Josef het nog altyd nie vir hulle gesê wie hy regtig is nie .
Die volgende oggend het Josef se dienaars sy broers se sakke vol koring gemaak . Josef het hulle beveel om sy silwerbeker in Benjamin se sak weg te steek .
Die broers het nog nie ver gereis nie, toe haal Josef se dienaars hulle in . Hulle het gesoek na die “dief” wat Josef se silwerbeker gesteel het .
Toe hulle Benjamin se sak oopmaak, het die beker daar gelê . Die broers was diep geskok . Hulle almal het teruggegaan na Josef toe . Hulle het op hulle knieë voor hom neergeval .
“Die een in wie se sak die silwerbeker gekry is, moet my slaaf word,” het Josef gesê . Hy wou hulle toets .
“Die res van julle kan teruggaan na julle land toe . ”
Die broers wou niks hiervan hoor nie . Hulle het nie kans gesien om vir Jakob te gaan vertel dat Benjamin ook van hom weggeneem is nie .
“As Benjamin nie saam met ons teruggaan nie,” het Juda gesê, “sal ons pa hom doodtreur. Ek het belowe om die seun veilig terug te neem . Neem my in sy plek as u slaaf . ”
Toe Josef hierdie woorde hoor, het hy geweet sy broers was regtig jammer oor wat hulle aan hom gedoen het . Josef het sy dienaars by die vertrek uitgestuur. Toe begin hy huil .
“Ek is Josef,” het hy vir sy broers gesê . “Leef my pa nog?” Al die broers was bang . Sê nou Josef wil hulle nou terugkry vir wat hulle aan hom gedoen het? Wat sou hy aan hulle doen?
Maar Josef het weer met hulle gepraat . “Moenie bang wees nie,” het hy gesê . “Dit was God wat my hierheen gestuur het om ons almal se lewe te red . Daar sal vir nog vyf jaar swak oeste wees . Baie mense sal van die honger doodgaan . Gaan terug en bring ons hele familie hierheen sodat hulle naby aan my kan bly, in die gebied van Gosen . ” Josef het sy broers omhels terwyl die trane oor sy wange gestroom het .
Jakob en Josef se broers het toe saam met hulle vrouens en kinders, hulle dienaars en veetroppe uit Kanaän weggetrek . Hulle het in Egipte gaan woon . Josef het vir Jakob paleis toe geneem om die koning van Egipte te ontmoet . Hulle almal het in Gosen, die mooiste deel van die land, gaan woon .
Baie jare het verbygegaan . Jakob se nageslag, die Israeliete, het ’n groot en sterk volk geword . Die Egiptenaars het bang begin raak vir hulle . Egipte het ’n nuwe koning gekry . Hy het nie geweet wat Josef vir die land gedoen het nie . En hy het besluit om in te gryp voordat dit te laat is .
Die koning het die Israeliete sy slawe gemaak . Wrede slawedrywers het hulle gedwing om stene te maak om nuwe stede vir die koning te bou . Hulle het van die oggend tot die aand baie hard gewerk . Tog het hulle steeds al meer geword .
Toe beveel die wrede koning dat al die babaseuntjies wat vir die Israeliete gebore word in die Nyl verdrink moet word .
In hierdie tyd het ’n Israelitiese vrou met die naam Jogebed ’n babaseuntjie gehad . Sy het toe reeds twee ander kinders gehad . Haar seun se naam was Aäron en haar dogter se naam was Mirjam . Toe Jogebed sien haar nuwe baba is ’n seuntjie, was sy baie bang . Vir drie maande kon Jogebed haar baba in die huis wegsteek . Maar die baba het groter geword en al meer geluide gemaak . Wat moes sy doen?
Toe kry Jogebed ’n slim plan . Sy het ’n mandjie van biesies gevleg en teer en pik daaraan gesmeer om dit waterdig te maak . Sy het haar seuntjie in die mandjie neergelê en hom tussen die hoë riete langs die Nyl gaan neersit . Sy het sy suster, Mirjam, gevra om daar by hom te bly en te kyk wat gebeur.
Kort daarna het die koning se dogter in die rivier kom swem, net soos Jogebed verwag het sy sou doen . Die prinses het die mandjie tussen die riete gesien en haar dienares gestuur om dit te gaan haal . Toe hulle die mandjie oopmaak, het die prinses die mooiste baba ooit gesien . Hy het gehuil . Die prinses het geweet dit was ’n Israelitiese baba, maar sy het nie kinders gehad nie . Daarom het sy besluit om die seuntjie soos haar eie kind groot te maak . Sy het hom Moses genoem .
Die prinses het omgedraai en Mirjam na haar toe sien stap . “Kan ek vir u iemand gaan roep wat die baba vir u kan versorg?” het sy gevra . Die prinses het ingestem en natuurlik het Mirjam die baba se eie ma gaan haal!
Toe Moses oud genoeg was, het hy in die koning se paleis gaan bly . Daar het hy grootgeword en alles geleer wat die Egiptenaars geleer het . Tog het hy nooit vergeet dat hy ’n Israeliet is nie . Moses was altyd baie hartseer wanneer hy gesien het hoe wreed die Egiptiese slawedrywers sy mense behandel . Eendag het hy gesien hoe ’n Egiptenaar ’n Israeliet met ’n sweep slaan . Moses het die Egiptenaar aangeval en hom doodgemaak . Die koning het hiervan gehoor en Moses se lewe was in gevaar. Die koning wou vir Moses doodmaak . Daarom het Moses uit Egipte gevlug en na die woestyn gegaan .
Moses het in Midian gaan woon, daar met ’n vrou getrou en sy skoonpa se diere opgepas . In Egipte het dit al slegter met die Israeliete gegaan . Hulle het hard na God geroep om te help .
Eendag, terwyl Moses sy skoonpa se diere opgepas het, het hy iets baie vreemd gesien . Voor hom was ’n doringbos wat gebrand het, maar die bos het nie uitgebrand nie .
Moses het nader gestap om beter te kan sien . “Moses!” het ’n stem gesê . “Moenie nader kom nie . Trek jou skoene uit . Jy staan op heilige grond . ”
Moses was baie bang . Die stem het weer met hom gepraat:
“Ek is God, die God wat jou voorgeslagte geken en aanbid het . Ek het gesien dat my volk baie swaarkry daar in Egipte . Jy moet na die koning van Egipte toe gaan en hom vra om my volk vry te laat . Bring hulle dan hier na My toe . ”
“Maar wie is ek?” het Moses gestamel . “Wat kan ek tog sê? En wat kan ek doen? Die koning en die Israeliete sal nie na my luister nie . Stuur tog asseblief liewer iemand anders!”
“Nee,” het God gesê . “Ek het jóú gekies . Neem jou broer, Aäron, saam met jou . Hy sal met die Israeliete en met die koning van Egipte praat . Ek self sal vir julle die regte woorde gee . Ek sal vir julle krag gee om wonders te doen . Ek is die lewende God . ”
Moses en Aäron het na die farao, die koning van Egipte, gegaan en vir hom gesê: “Die God van Israel het gesê: ‘Laat my volk die woestyn in trek sodat hulle daar vir My ’n offer kan bring . ’”
“Ek ken nie julle God nie! Hoekom sou ek my aan Hom steur? Ek sal nie die Israeliete laat gaan nie . ”
Die farao was baie kwaad . Hy het die lewe vir die Israeliete nog swaarder gemaak .
“Van nou af gee niemand meer vir die Israeliete die strooi wat hulle met die klei moet meng om die stene te maak nie,” het hy beveel . “Hulle kan self die strooi gaan haal . En hulle moet nog net so baie stene maak soos altyd . ”
Moses was baie ontsteld . Sonder hoop het hy na God geroep om te help .
“Nou sal julle sien wat Ek met die koning van Egipte gaan doen,” het God gesê . “Ek is God . Ek sal my volk bevry en jy sal hulle uit
Egipte lei . Gaan weer na die koning van Egipte toe . Sê vir hom Ek sal groot swaarkry oor Egipte bring as hy nie doen wat Ek vra nie . Dan sal die hele Egipte weet Ek is die enigste ware God . ”
Moses en Aäron het weer na die koning toe gegaan . “As julle God julle regtig gestuur het, wys vir my ’n wonderwerk,” het die koning gevra . Aäron het sy kierie op die grond neergegooi en dit het in ’n groot slang verander. Maar Egipte se towenaars kon presies dieselfde wonder doen . Die koning het vir Moses en Aäron weggejaag uit sy paleis uit .
Toe gryp God in, net soos Hy gewaarsku het . God het tien plae oor Egipte gestuur. Voor elke plaag het God die koning van Egipte gewaarsku, maar hy wou nie na God luister nie .
Heel eerste het die water van die Nyl in bloed verander. Dit het aaklig geruik en al die visse het doodgegaan .
’n Week later was die hele land oortrek met paddas . Die koning het Moses gesmeek om die paddas te laat verdwyn . Maar toe Moses dit doen, het die koning weer geweier om die Israeliete te laat trek .
Toe stuur God swerms en swerms muggies en steekvlieë om die Egiptenaars te byt . Hulle was oral, net nie in Gosen waar die Israeliete gewoon het nie .
“Julle kan trek!” het die koning uitgeroep . Maar toe die insekte verdwyn, het hy weer van plan verander.
Die Egiptenaars se vee het begin doodgaan, maar nie die Israeliete se vee nie . Nog altyd het die koning geweier dat die Israeliete trek .
Toe kry almal die seerste wonde op hulle lywe, selfs die towenaars . Maar nog altyd het die koning nee gesê .
Moses en Aäron het weer voor die koning gaan staan .
“Ons God sê: ‘Jy het my krag gesien . Daar kom nog meer swaarkry as jy nie na My luister en my mense laat trek nie . Môre sal dit oral in die land hael . ’”
So ’n haelstorm het niemand nog ooit gesien nie . Die haelkorrels het die oeste verniel en die diere doodgemaak . Die hael het oral geval, net nie in Gosen waar die Israeliete was nie .
Na die hael het God swerms sprinkane gestuur. Die sprinkane het alles opgevreet wat die hael nie vernietig het nie . Daarna was dit vir drie dae stikdonker in die land . Maar die koning van Egipte het steeds geweier om God se volk te laat trek .
Toe gebeur die ergste ramp ooit in Egipte . In een enkele nag het die oudste seun van elke familie in Egipte gesterf, ook die koning se oudste seun .
In Gosen was die Israeliete veilig . Niemand het ’n seun verloor nie, want God het vir hulle gesê wat hulle moes doen .
Daardie aand het elke familie ’n lam geslag en die bloed aan hulle huise se deurkosyne gesmeer. Hulle het die lam gaargemaak en die vleis saam met kruie en plat brode geëet .
Die brode is sonder suurdeeg gebak . Die dood het by die Israeliete se huise verbygegaan en hulle seuns het bly leef . (Van daardie dag af het die Israeliete een keer per jaar hierdie ete geëet sodat hulle kon onthou hoe God hulle uit Egipte gered het . Hulle het hierdie fees die paasfees genoem .)
Die Egiptenaars was bitter hartseer. Hulle kon nie gou genoeg van die Israeliete ontslae raak nie . Hulle het selfs vir hulle goue en silwergoed en mooi klere gegee om saam met hulle te neem .
Maar die Israeliete was skaars weg, toe verander die koning weer van plan . Hy het sy soldate beveel om op hulle strydwaens te spring en die Israeliete agterna te sit .
God se volk het al tot by die see getrek toe hulle sien die Egiptenaars agtervolg hulle en haal hulle vinnig in . Die Israeliete was verskriklik bang . Voor hulle was die see en agter hulle was die koning van Egipte se soldate . Maar Moses het sy kierie gelig en sy arm oor die see uitgestrek . Toe stuur God ’n oostewind . Die wind het die hele nag gewaai en ’n pad deur die see gemaak .
Die Israeliete kon op droë grond deur die see trek .
Die Egiptenaars het die Israeliete bly agtervolg . Maar die water het oor die droë pad teruggespoel . Al die soldate van Egipte het verdrink . So het God sy volk uit Egipte gered en hulle vrygemaak .
Die volk Israel het uit Egipte weggetrek . Hulle was nie meer slawe nie . Hulle was vry! Moses en Aäron se suster, Mirjam, het die vroue met haar tamboeryn begelei terwyl hulle van blydskap gesing en gedans het .
“Sing ’n lied vir die Here, want Hy het ’n wonderlike oorwinning behaal . Perde en ruiters het Hy in die see geslinger.”
Ongelukkig het die Israeliete baie gou vergeet hoe sleg hulle as slawe in Egipte behandel is . Hulle het vergeet van die slawedrywers en hulle wrede swepe . Al waaraan hulle kon dink, was die heerlike kos wat hulle in Egipte kon eet . Die vis en die vleis . Die sappige spanspekke . Die groente, komkommers en uie . Wat het hulle daar in die woestyn gehad om te eet?
Die Israeliete het begin mor en kla . Hulle het teen Moses en Aäron in opstand gekom .
“Dit sou vir ons beter gewees het om in Egipte dood te gaan,” het hulle gesê, “as om hier in die woestyn van die honger te sterf . ”
God het gehoor hoe ontevrede sy mense is en hoe hulle kla . Hy het met Moses gepraat .
“Sê vir die mense Ek sal vir hulle alles gee wat hulle nodig het . Ek het hulle gered . Nou sal Ek ook vir hulle kos gee . Vanaand sal daar vleis wees om te eet . En môreoggend sal hulle brood uit die hemel kry . Dit sal van nou af elke dag gebeur. Behalwe op die sesde dag van die week . Dan moet hulle genoeg manna bymekaarmaak vir twee dae sodat niemand op die sabbat hoef te werk nie . Dan sal almal op die sabbat kan rus en My kan dien . ”
Moses het vir die volk vertel wat God belowe het . En sowaar! Daardie aand het ’n groot swerm kwartels tussen hulle tente kom sit . Die Israeliete het baie vleis gehad om te eet .
Die volgende oggend was daar ’n groot wolk oor die kamp . Toe die wolk wegtrek, was daar oral fyn wit vlokkies op die grond . Dit was die brood wat God vir hulle belowe het . Dit het soos ryp gelyk en die mense het dit vinnig opgetel voordat die son dit laat smelt het . Hulle het die vlokkies “manna” genoem . Die manna was baie lekker. Dit het gesmaak soos koek wat met heuning gebak is .
Die hele tyd terwyl die Israeliete in die woestyn was, het God vir hulle manna gegee . Elke dag . Hulle was nooit honger nie .
Maar hulle het ander probleme gehad . Die son het warm op hulle neergebrand . Daar was min water in die woestyn . Toe begin die Israeliete weer kla .
“Gee vir ons water, Moses . Hoekom het jy ons hierheen gebring? Moet ons hier van die dors doodgaan?”
Weer het Moses vir God gevra om te help .
“Neem jou kierie en loop ’n entjie voor die mense uit,” het God gesê . “Jy sal ’n rots sien . Slaan die rots met jou kierie . Daar sal genoeg water uitkom vir almal om te drink, soveel as wat hulle wil hê . ”
Moses het die rots geslaan en die water het uit die rots gestroom . Dit was nie reg van die Israeliete om aanmekaar ontevrede te wees nie . Tog het God hulle elke keer gehelp .
Veertig jaar lank het God daar in die woestyn vir sy mense gesorg . Hy het al sy beloftes aan hulle nagekom . Elke dag het Hy vir hulle kos en water gegee sodat hulle kon leer om net op Hom te vertrou .
EKSODUS 19–24, 32–34
Moses het die volk Israel uit Egipte gelei, deur die woestyn en tot by die berg Sinai . Dit was die plek waarheen God gesê het Moses die volk moes bring . God self het voor die volk uit getrek om vir hulle die pad te wys . Die mense het geweet God is by hulle, want in die dag kon hulle ’n wolkkolom voor hulle sien . En snags was daar ’n vuurkolom wat hulle gelei het . Toe hulle by Sinaiberg kom, het hulle hulle tente aan die voet van die berg opgeslaan .
God het deur Moses met die mense gepraat .
“Ek het julle veilig uit Egipte gebring . Ek wil hê julle moet my spesiale volk wees . Sal julle aan My gehoorsaam wees?”
Soos een mens het die volk geantwoord: “Ja!”
“Oormôre sal Ek afkom na Sinaiberg toe,” het God belowe, “sodat almal My kan sien . ” Vir twee dae het die Israeliete hulleself en hulle klere gewas . Hulle het alles skoongemaak sodat hulle gereed kon wees om God te ontmoet .
Op die derde dag was daar donderslae en weerlig .
Op die berg was daar ’n donker wolk . Die volk was baie bang . Hulle het geweet God is naby .
Moses en Aäron het teen die berg op gegaan . Daar het God vir hulle tien reëls gegee . Die Israeliete moes aan hierdie reëls gehoorsaam wees . Dié reëls het vir hulle gewys hoe hulle moes leef .
“Ek is die Here julle God,” het God gesê . “Julle mag net vir My aanbid en dien .
“Julle mag nie vir julle afgode maak en hulle aanbid nie .
“Julle moet my Naam met respek gebruik .
“Op die sewende dag, die sabbat, moet julle rus . Dan mag julle nie werk nie .
“Julle moet respek hê vir julle vader en moeder.
“Julle mag nie ander mense doodmaak nie .
“Julle moet in die huwelik aan mekaar getrou wees .
“Julle mag nie steel nie .
“Julle mag nie leuens vertel nie .
“Julle mag nie gierig wees en alles wil hê wat ander mense het nie . ”
Dit was God se tien reëls, sy tien gebooie .
God het vir Moses verduidelik hoe die mense hierdie reëls kon volg in allerhande verskillende situasies wat in die lewe kan opduik . Moses het dit weer vir die volk verduidelik . Die hele volk het belowe om aan die Here se reëls gehoorsaam te wees . God het gesê Hy sal die tien gebooie op twee kliptafels neerskryf sodat die volk dit goed kon bewaar.
Moses het weer teen die berg op gegaan om die kliptafels by God te gaan haal . Hierdie keer het Moses baie lank weggebly . Die volk het later kwaad en ongeduldig geword .
“Ons weet nie wat van Moses geword het nie . Wie sal ons nou lei?” het hulle by Aäron gaan gekla . “Maak jy vir ons ’n ander god om ons te lei . ”
Aäron het die volk gevra om al hulle goue oorbelle vir hom te bring . Hy het dit gesmelt en ’n goue kalf daarvan gemaak, soos een van die gode van Egipte . Toe bou hy ’n altaar en die mense het begin feesvier.
“Hier is ons god wat ons uit Egipte bevry het,” het hulle gesê . Hulle het gesing en gedans en ’n groot lawaai gemaak .
Toe God sien hoe gou sy volk hulle belofte aan Hom verbreek en ’n ander god begin dien het, was Hy baie kwaad . En toe Moses teen die berg af gaan en sien wat die mense gedoen het, was hy so kwaad dat hy die twee kliptafels met God se tien gebooie daarop op die grond stukkend gegooi het . Toe smelt hy die kalf en maal die goud fyn totdat dit poeier was .
“Julle het iets verskrikliks gedoen,” het Moses vir die mense gesê .
Maar Moses was nog altyd lief vir sy mense . Daarom het hy vir God gevra om hulle te vergewe en hulle nog ’n kans te gee . God het weer sy tien reëls op twee kliptafels neergeskryf .
Toe Moses hierdie keer van die berg af terugkom, was daar geen goue kalf nie en geen feesvierings nie . Die volk het geluister terwyl Moses God se wet aan hulle verduidelik het . God het uiteindelik sy ooreenkoms, sy verbond, met sy volk gesluit .
EKSODUS 25–30; LEVITIKUS
By Sinai het God vir Moses baie reëls gegee wat hy weer vir die volk moes gee . Daar was reëls oor wat reg en wat verkeerd is, oor hoe om gesond te bly, en oor seën en straf . God het vir sy mense gesê hoe hulle moes optree, hoe hulle mekaar moes behandel en hoe hulle Hom moes aanbid en dien .
God is goed . Hy is bly oor alles wat goed, regverdig en waar is . Hy haat alles wat sleg en verkeerd en onregverdig is . Die volke wat in daardie tyd rondom die Israeliete gewoon het, het nie die Here geken nie . Hulle het baie ander gode aanbid . Hulle feeste was ’n verskoning om dronk te word . Die mans het hulle vrouens sleg behandel . Hulle het toorkuns beoefen . Hulle het selfs hulle kinders aan hulle afgode geoffer. God het al hierdie dinge gehaat .
“Die ander volke walg My met hulle goddelose lewe,” het God gesê . “Julle mag nie doen wat hulle doen nie . Julle moet altyd heilig wees en net aan My behoort . ”
Toe het God vir Moses verduidelik watter soort feeste, offers en aanbidding Hy wil hê . Moses het dit weer aan die volk gaan verduidelik .
“Ek het belowe om altyd by julle te wees,” het God gesê . “Bou daarom vir My ’n spesiale tent, die tabernakel, om tussen julle tente te staan . Maak dit van bokvelle . Voer dit uit met fyn rooi, pers en blou linne waarop engele geborduur is . Maak ’n voorhof rondom die tent waar julle offers kan bring . Verdeel die binnekant van die tent met ’n gordyn in twee vertrekke .
“Niemand behalwe die priesters mag by die eerste vertrek van die tent ingaan nie . Ek wil hê julle moet ’n goue altaar, ’n tafel en ’n kandelaar met sewe lampies maak en dit daar neersit .
“Die tweede vertrek is vir My alleen . Net een keer per jaar, op die Groot Versoendag, mag die hoëpriester daar ingaan om vir die mense se sonde vergifnis te vra .
“Ek wil ook hê julle moet ’n kis van doringhout maak en dit met goud oortrek . Dit is die verbondsark . Hierdie kis moet in my spesiale vertrek in die tent staan .
“Bêre die kliptafels waarop my tien gebooie geskryf is daarin . Die kis se deksel moet van suiwer goud gemaak word . Twee goue engele met hulle vlerke uitgesprei moet weerskante van die verbondsark staan . In daardie tent sal Ek julle ontmoet . ”
Die mense het alles gedoen wat God gevra het . Hulle het hulle goud en silwer en brons met ’n bly hart gegee . Hulle het ook linne en diervelle gegee, olie vir die lampe gebring en speserye om as wierook te brand . Die beste vakmanne het wol en linne gespin en geweef en gekleur. Hulle het kosbare edelstene geslyp en blinkgevryf . Hulle het goud en silwer gesmelt en gesmee . Die volk het God se tent gemaak presies soos God gevra het . En dit was baie mooi .
Toe die tent klaar was, het ’n wolk daaroor neergesak en dit bedek . Die heerlikheid van die Here het die hele tent gevul . Dit was God se teken dat Hy by sy volk was .
God het vir Aäron as die eerste hoëpriester gekies . Hy moes al die feeste lei en die offers bring . Sy seuns was priesters en die Leviete (die nageslag van Levi, een van Jakob se seuns) het vir Aäron en sy seuns hiermee gehelp .
Moses het die volk herinner dat God altyd by hulle was . Hulle was God se kinders en God wou hê hulle moes Hom alleen aanbid . Tog kon hulle God nie sommer aanbid net soos hulle wou nie . God is volmaak . Niks en niemand wat vol sonde is, kan in God se teenwoordigheid kom nie .
Daar is nie een mens wat so volmaak goed is soos God nie . En die verkeerde dinge wat mense doen, skei hulle van God . Die straf vir sonde – om aan God se opdragte ongehoorsaam te wees – is die dood .
God was egter baie lief vir sy mense . Daarom het Hy dit aanvaar wanneer ’n lam of ’n bokkie gesterf het in die plek van die mense wat gedoen het wat verkeerd is . Só het God dit vir sy mense moontlik gemaak om ’n prys vir hulle sonde te betaal . Dan kon hulle weer soos God se vriende tot Hom nader.
Aäron, die priesters en die Leviete moes die offers bring . Daar was sondeoffers, skuldoffers en soenoffers . Wanneer hulle hierdie offers gebring het, het God hulle vergewe . Een keer per jaar, op die Groot Versoendag, het Aäron spesiale offers gebring vir die sondes van die hele volk . Só is sy eie en die volk se verhouding met God reggemaak .
God het ook sy volk beveel om die sewende dag van die week as ’n rusdag te vier. Dit was die sabbat . God het die wêreld in ses dae gemaak . Op die sewende dag het God gerus . Sy volk moes ook op daardie dag ophou werk en die sewende dag geniet as ’n dag van rus en om God se liefde te vier.*
* Die Jode vier vandag steeds die sabbat op ’n Saterdag . Omdat Jesus op ’n Sondag uit die dood opgestaan het, vier Christene hulle spesiale dag op ’n Sondag .
God het ook vir sy volk feeste gegee om te vier. Daar was ’n fees vir al die besonderse dae en tye van die jaar. In die lente het hulle die paasfees en die fees van die ongesuurde brood gevier. Dan het hulle teruggedink aan hoe God hulle uit Egipte bevry het . In die vroeë somer het hulle die fees van die eerstelinge van die oes gevier. In die herfs het hulle die oesfees en die fees van die ramshorings en die huttefees gevier.
God het al hierdie reëlings vir sy mense gegee . Dit is hoe God aanbid wou word . Elke keer wanneer die Israeliete na God se spesiale tent gekyk het, het hulle onthou dat God by hulle was . Elke sabbat het hulle gerus en onthou dat God die wêreld en alles daarin gemaak het . Op die feesdae het hulle heerlik saamgeëet en hulle was saam bly oor God se groot liefde vir hulle . Die offers het hulle altyd herinner aan hulle verkeerde dade en dat God volmaak goed is . Maar dit het hulle ook herinner aan God se liefde wat dit vir hulle moontlik gemaak het om naby aan Hom te kom en sy vriende te wees .
NUMERI 13–14, 17, 21
Van Sinaiberg af, waar God sy reëls vir die lewe vir sy volk gegee het, het die Israeliete deur die woestyn gestap tot by die grens van Kanaän, die land wat God aan hulle belowe het .
By Kades het hulle een man uit elke stam gekies . Hierdie stamme was die nageslag van Jakob se twaalf seuns . Die twaalf mans is uitgestuur om die land te gaan verken . Dit was in daardie tyd van die jaar toe die eerste druiwe net besig was om ryp te word .
Na veertig dae het die verkenners teruggekom . Twee van hulle het saam ’n reusagtige tros druiwe gedra .
“Kanaän is ’n goeie land,” het hulle gesê . “Kyk net na die druiwe en vye en granate wat ons met ons saamgebring het! Maar die stede is baie sterk . En daar is mense wat so groot soos reuse is . Hulle sal ons soos sprinkane plattrap!”
Die mense het alle hoop verloor toe hulle hierdie woorde hoor. “Hoekom is ons ooit weg uit Egipte?” het hulle uitgeroep . “Ons moet teruggaan daarheen!”
Josua en Kaleb, twee van die verkenners, het heeltemal anders gedink . “Moenie dat daardie mans julle bang praat nie,” het hulle gesê . “Kanaän is ’n goeie land . En julle vergeet van God . Omdat God die land saam met ons sal inneem, hoef ons vir niks bang te wees nie . Hy sal vir ons die land gee . Ons mag nie nou teen God draai nie . ”
Die volk wou nie na hulle luister nie . “Wanneer sal julle dan leer om My te vertrou?” het God toe vir sy volk gevra . “Hoe vinnig vergeet julle van alles wat Ek vir julle gedoen het . Omdat julle My nou nie vertrou het nie, sal julle nog veertig jaar in die woestyn rondswerf totdat almal wat my wonderdade in Egipte gesien het, gesterf het . Net Josua en Kaleb sal die land wat Ek aan julle belowe het, ingaan omdat hulle op My vertrou het . ”
Die mense was baie hartseer toe hulle dit hoor. Maar party van hulle het nog altyd nie die Here vertrou nie . Hulle het teen die mense van Kanaän gaan oorlog maak, al het God gesê hulle mag dit nie doen nie . Hulle is verslaan .
Die jare het verbygegaan . Die volk het moeg geword vir die lewe in die woestyn . Hulle het gekla oor hulle leiers en teen hulle gedraai . Later het God se volk openlik in opstand gekom .
“Wie het vir Moses en Aäron die reg gegee om baas te speel oor ons?” het hulle gevra .
“Laat God besluit wie sy volk moet lei,” het Moses geantwoord . “Elke stam moet ’n leier kies en sy naam op ’n amandeltak skryf . Aäron sal die leier van sy stam, die Leviete, wees . Vannag sal ons die twaalf amandeltakke in God se tent neersit . Die man wie se tak blom, sal die leier wees wat God gekies het . ”
Hulle het gedoen wat Moses gesê het . Die volgende oggend was daar knoppies en bloeisels en selfs ryp amandels aan Aäron se tak! Die ander takke was kaal . Die mense wat in opstand gekom het, het toe stilgebly .
Na ’n paar jaar het Aäron gesterf . Die mense het weer begin kla .
“Hoekom het ons ooit uit Egipte weggetrek? Hier is nie eens kos en water in die woestyn nie . En ons is al so moeg daarvan om dag na dag manna te eet!”
Hierdie keer het God die mense gestraf omdat hulle in opstand gekom het . Giftige slange het die mense gepik . Baie mense is dood . Die ander het besef dat hulle verkeerd was om so te kla .
“Moses,” het hulle gesê, “dit was nie reg dat ons teen God in opstand gekom het nie . Vra vir God om die slange weg te neem . ”
Moses het tot God gebid en God het hom geantwoord .
“Maak ’n koperslang en maak dit hoog aan ’n paal vas sodat almal dit kan sien . Elkeen wat gepik is, kan maar net na die koperslang kyk . Dan sal hulle bly leef . ” Almal wat in God geglo en gedoen het wat Hy gevra het, het gesond geword .
Veertig jaar het verbygegaan . Toe Moses sterf, het God vir Josua gekies om sy volk se leier te wees . Die tyd het gekom om Kanaän, die beloofde land, in te neem . Die Israeliete het kamp opgeslaan anderkant die Jordaan, oorkant die stad Jerigo . Josua het twee verkenners oor die rivier gestuur.
Om te keer dat mense agterdogtig raak oor hulle, het hulle die nag in Ragab, ’n prostituut, se huis gaan wegkruip . Maar die koning van Jerigo het daarvan uitgevind . Hy het sy soldate gestuur om hulle te gaan vang . Ragab het die verkenners gougou weggesteek onder die vlas wat op haar huis se dak gelê het om droog te word . Toe die koning se soldate daar aankom, het sy vir hulle gesê die twee mans was reeds weg . Daarna het Ragab na die twee verkenners toe gegaan .
“Ek weet julle God het hierdie land vir julle gegee,” het Ragab vir hulle gesê . “Ons het gehoor hoe julle God julle uit Egipte bevry het . Ons almal is bang . Belowe my dat ek en my huisgesin veilig sal wees wanneer julle die stad inneem . ”
“Jy het ons lewe gered,” het die verkenners vir Ragab gesê . “Ons belowe jou dat jy veilig sal wees . Moet net nie vir enigiemand vertel wat ons gedoen het nie . ”
Ragab het in ’n huis in die stadsmuur gewoon . Sy het die twee mans met ’n tou deur die venster tot op die grond laat sak . Só het hulle ontsnap om alles vir Josua te gaan vertel . Maar voordat hulle weg is, het hulle vir Ragab ’n bloedrooi tou gegee wat sy aan ’n venster in haar huis moes vasmaak . Só sou die Israeliete weet watter huis se mense gespaar moes bly wanneer hulle die stad inneem .
Dit was lente . Die Jordaanrivier het sterk gevloei . Die water het oor die oewers gestyg . Die volk Israel het gereedgemaak om die rivier oor te steek . Daar was nie ’n brug of ’n drif waar hulle veilig kon oorgaan nie, maar God het vir hulle gesê hulle moes daardie dag die rivier oorsteek . Die priesters het heel voor geloop met die spesiale kis waarin God se tien gebooie bewaar is . Die mense het gewag om te sien wat sou gebeur.
Toe die priesters tot in die vlakwater loop, het die water skielik ophou vloei . Hoër op in die rivier het die water begin opdam . Naby Jerigo kon die volk op droë grond deur die Jordaan loop . God, wat hulle uit Egipte bevry het, het weer gewys hoe sterk Hy is . Hy het sy mense tot in die beloofde land gelei .
Toe die volk veilig aan die ander kant van die rivier kom, het hulle twaalf klippe van die droë rivierbedding af opgetel . Daar was een klip vir elke stam . Hulle het hierdie klippe op die wal van die rivier op mekaar gepak .
“Laat hierdie klippe ’n teken wees,” het God gesê . “Wanneer julle kinders dit eendag sien, kan julle vir hulle vertel op watter wonderlike manier Ek julle oor die Jordaan tot in hierdie land gelei het . ”
Die water van die rivier het weer sterk begin vloei . Die water het oor die walle begin stroom, net soos voor die Israeliete op droë grond deurgestap het . Net die stapel klippe het hulle herinner aan wat daar gebeur het .
Die Israeliete het naby Jerigo kamp opgeslaan . Dit was tyd vir die paasfees . Die volgende dag het hulle brood gebak en vir die eerste keer koring geëet wat uit Kanaän, die beloofde land, gekom het . Van daardie dag af het hulle nooit weer manna geëet nie . Hulle tyd in die woestyn was verby . Hulle kon die vrug van die land geniet .
Jerigo was ’n stad met ’n baie lang geskiedenis . Reg rondom die stad was baie dik mure . Die stad se hekke was dig gesluit om die Israeliete buite hou . Niemand kon by die stad in- of uitgaan nie .
God het met Josua gepraat .
“Jerigo behoort aan jou . Ek gee die stad, sy koning en al sy soldate aan jou . Luister mooi na wat julle moet doen .
“Vir ses dae moet julle elke dag een keer reg rondom die stad loop . Sewe priesters moet voor loop en my spesiale ark van hout dra . Hulle moet op hulle ramshorings blaas . Die res van julle moet in stilte loop .
“Op die sewende dag moet julle sewe keer reg rondom die stad loop . Wanneer die priesters op hulle ramshorings blaas, moet die volk hard skreeu . Die stadsmure sal inmekaartuimel en Jerigo sal julle s’n wees . ”
Josua het aan die volk verduidelik wat hulle moes doen . Hulle het gedoen presies wat God vir hulle gesê het . Op die sewende dag het hulle sewe keer om die stad geloop . Die ramshorings het weerklink . “Skreeu hard!” het Josua vir die volk gesê . “God gee hierdie stad vir ons!”
Almal het hard geskree . Die dik mure van die stad Jerigo het inmekaargestort . Die Israeliete het die stad ingeneem . Niemand was veilig nie . Net Ragab en haar huisgesin het bly leef, soos die verkenners vir haar belowe het . Die volk het silwer, goud, brons en yster uit die stad geneem om God se tent nog mooier te maak . Daarna het hulle die stad aan die brand gesteek . God het aan sy volk hulle eerste oorwinning in Kanaän gegee . Josua het oral beroemd geword . Al die volke was baie bang vir hom .
JOSUA 7–9, 14, 24
God het aan sy volk die opdrag gegee om die stad Jerigo te vernietig . Hulle mag niks vir hulle geneem het nie . Maar een man was ongehoorsaam aan hierdie opdrag . Sy naam was Akan . Hy het pragtige klere en goud en silwer gesteel .
Niemand het hom gesien nie . Tog het God geweet wat hy gedoen het . Toe die volk Israel se soldate teen die stad Ai optrek, is hulle verslaan . God sou nie saam met hulle gaan en aan hulle oorwinnings gee as hulle nie aan Hom gehoorsaam was nie .
Akan is gestraf . Toe het Josua reggemaak om weer die stad Ai aan te val . Hierdie keer het God vir hom gesê hy moet die mense verras .
Josua het ’n slim plan uitgedink . Daardie nag het hy van sy beste soldate gestuur om aan die ander kant van die stad te gaan wegkruip . Die volgende oggend het hy sy soldate na die stad se hekke toe gelei . Die soldate van Ai het by die stad uitgestorm om teen hulle te kom veg . Josua het sy soldate die opdrag gegee om om te draai en te vlug sodat die vyand hulle sou agtervolg, weg van die stad af .
Toe gee Josua die teken vir die soldate wat gaan wegkruip het . Hulle het reguit tot in die stad geloop en dit aan die brand gesteek . Toe Josua en sy soldate die rook sien, het hulle omgedraai . Die soldate van Ai was vasgekeer tussen die twee groepe soldate van Israel .
Die mense van Gibeon, ’n stad naby aan Ai, het gehoor hoe
Josua die stad Jerigo en Ai verslaan en vernietig het . Hulle wou nie dieselfde oorkom nie . Hoe kon hulle Josua oortuig om te belowe om in vrede met hulle te leef?
’n Paar dae later het Josua ’n groep moeë reisigers na die kamp toe sien aankom . Hulle sandale was gelap en hulle klere verflenter. Hulle brood was al gemuf .
“Wie is julle?” het Josua gevra . “En waar kom julle vandaan?”
“Ons kom van ’n land baie ver van hier af,” het hulle gesê . “Ons het gehoor hoe God julle uit Egipte gered het . Ons het kom vrede maak . ”
Josua en sy mense het ’n belofte aan hierdie mans gemaak om hulle nooit aan te val nie .
Drie dae later het Josua uitgevind dat die “moeë reisigers” eintlik van die stad Gibeon daar naby gekom het . Hy was baie kwaad, maar hy moes sy belofte nakom .
Intussen het die konings van ander stede in Kanaän besluit om saam te staan en teen hierdie nuwe vyand te veg en hulle te verslaan .
Josua het sy soldate deur twee moeilike oorloë gelei, die een in die suide en die ander in die noorde van die land . Hulle het groot oorwinnings oor hulle vyande behaal . Stukkie vir stukkie het die Israeliete Kanaän, die beloofde land, verower. Maar hulle kon dit nie regkry om al die vyandige volke uit Kanaän te verdryf nie .
Baie jare vroeër het Kaleb die beloofde land saam met Josua en tien ander verkenners gaan verken toe Moses hulle daarheen gestuur het . Kaleb was nou al oud . Hy was 85, maar nog net so sterk en dapper soos altyd . En hy het op God vertrou .
“Gee vir my die bergwêreld waar die reusagtige mense woon,” het hy vir Josua gesê . “Met God se hulp sal ek hulle verdryf . ”
Josua het vir Kaleb die stad Hebron gegee . Kaleb het toe die reuse verdryf .
Josua het die land Kanaän verdeel . Elke stam het sy eie gebied gekry . Die Israeliete het hulle in die beloofde land gevestig en daar begin boer.
Toe Josua al baie oud was, het hy die volk geroep om bymekaar te kom .
“God het vir ons al die goeie dinge gegee wat Hy aan ons belowe het,” het Josua vir hulle gesê . “God het elke belofte wat Hy gemaak het, nagekom . Sal julle nou julle belofte aan God nakom? Sal julle die Here dien?”
“Ons sal die Here dien . Die Here is ons God,” het die volk belowe . So lank Josua bly leef het, het die volk hulle belofte nagekom .
Die jare het verbygegaan . Josua het gesterf . God se volk het alles vergeet wat God vir hulle gedoen het . Hulle het vergeet van hulle belofte om God alleen te dien . Hulle het die gode van ander volke begin aanbid .
Toe het vyande uit die noorde en die suide, uit die ooste en die weste die lewe vir die Israeliete moeilik begin maak . Elke keer wanneer die Israeliete gesê het hulle is jammer oor hulle verkeerde dade en God gesmeek het om hulle te help, het Hy iemand gestuur om hulle vyande te verdryf:
Otniël, Ehud, Samgar, Debora, Barak, Gideon …
In Gideon se tyd was die Israeliete se groot vyand die Midianiete, ’n stam uit die woestyn . Die Midianiete het met hulle kamele soos ’n swerm sprinkane oor die land getrek, te veel om te tel .
Hulle het die Israeliete se skape en beeste en donkies gesteel . Hulle het al hulle oeste vernietig .
Die Israeliete het na God geroep om hulle te help . God het sy boodskapper na Gideon toe gestuur.
“Ek het jou gekies om die Israeliete van die Midianiete te bevry,” het God vir Gideon gesê .
Gideon was skoon verstom . En hy was bang . Hy het vir God ’n teken gevra sodat hy kon weet hy sou die vyand verslaan .
“Ek gaan wol op die grond neersit,” het Gideon vir God gesê . “As daar môreoggend dou op die wol is, maar die grond is droog, sal ek weet U wil my gebruik om Israel te red . ”
Die volgende oggend kon Gideon ’n bak vol water uit die wol druk, maar die grond was kurkdroog .
Tog het Gideon nog ’n teken van God gevra . Hierdie keer moes die wol droog en die grond nat wees . God het weer vir Gideon die teken gegee, net soos hy gevra het .
Daarna het Gideon al die stamme bymekaargeroep om te gaan veg . Saam met al sy soldate het hy by En-Garod kamp opgeslaan . Die Midianiete was oorkant hulle in die vallei .
“Jy het te veel soldate by jou,” het God vir Gideon gesê . “Sê vir almal wat bang is hulle kan huis toe gaan . ” Daar het 22 000 soldate huis toe gegaan . Net 10 000 het oorgebly .
“Julle is nog altyd te veel,” het God gesê . “Neem jou soldate na die water toe . Kyk wie die water met hulle hande opskep om dit te drink, en wie kniel om te drink . ” Net 300 soldate het die water met hulle hande opgeskep .
“Stuur dié wat gekniel het huis toe,” het God gesê . “Ek sal aan jou die oorwinning gee met net hierdie 300 soldate . ”
Daardie nag het Gideon die Midianiete aangeval . Hy het sy soldate in drie groepe verdeel . Elke soldaat het ’n ramshoring en ’n kruik met ’n fakkel daarin gehad . Hulle het rondom die vyand se kamp gaan staan . Toe Gideon die teken gee, het hulle almal
saam op hulle ramshorings geblaas en die kruike gebreek sodat die fakkels helder geskyn het . Daar was skielik ’n verskriklike lawaai en ’n verblindende lig .
“Die swaard van die Here en Gideon!” het almal saam uitgeroep . Die vyand het ontsettend groot geskrik . Hulle was verward en het begin vlug . Party het mekaar selfs om die lewe gebring . Met die hulp van die ander stamme van Israel het Gideon se soldate die Midianiete agtervolg .
Só het God vir Gideon die oorwinning oor Israel se groot vyand gegee . Daarna was daar veertig jaar vrede in die land .
God het sy volk so baie keer gered, maar elke keer het hulle weer van Hom vergeet . Hulle het aangehou om die afgode van die ander volke te aanbid . Dit het hulle altyd weer in die moeilikheid laat beland .
Veral die Filistyne het baie probleme vir die Israeliete veroorsaak . Hulle het veertig jaar lank oor Israel geheers .
Eendag het God ’n boodskap gestuur na Manoag en sy vrou wat in Sora gewoon het . “Julle sal ’n seun hê,” het God vir hulle belowe . “Hy sal grootword en die Israeliete van die Filistyne verlos . ”
Manoag en sy vrou was toe al jare getroud en hulle het nie kinders gehad nie . Hulle was daarom baie verbaas oor hierdie nuus . Maar die Here het sy belofte nagekom . Hulle het ’n seun gekry . Hulle het hom Simson genoem . Simson se hare is nooit gesny nie . Dit was ’n teken dat hy op ’n besonderse manier aan God behoort het . Simson het grootgeword . Hy was baie sterk .
Eendag, terwyl Simson deur ’n wingerd geloop het, het ’n leeu hom bespring . Simson het die leeu met sy kaal hande verskeur. Simson het toe besef dat God vir hom baie krag gegee het . Hy het begin om sy krag teen die Filistyne te gebruik . Almal het oor hom begin praat .
“Het julle gehoor hoe Simson die Filistyne se koringlande aan die brand gesteek het? Hy het fakkels aan ’n klomp jakkalse se sterte vasgebind en hulle het die hele oes afgebrand!”
“Het julle gehoor hoe Simson 1 000 Filistyne afgemaai het met ’n donkie se kakebeen?”
“Het julle gehoor hoe Simson uit Gasa ontsnap het? Hy het die hek en die pale sommer net so uit die grond gelig . ”
“Het julle gehoor …?”
Die Filistyne was so kwaad, hulle het op hulle tande gekners .
Hulle wou vir Simson doodmaak .
Simson het verlief geraak op ’n pragtige Filistynse vrou . Haar naam was Delila . Simson se vyande het dit as hulle kans gesien .
Hulle het vir Delila gebruik om vir Simson te vang . (Die koning van die Filistyne het vir haar baie silwermuntstukke belowe as sy kon uitvind wat Simson se geheim was .)
“As jy my liefhet,” het Delila elke dag by Simson gepleit, “sal jy vir my vertel wat jou geheim is . Wat maak jou so sterk?”
Eers het Simson haar geterg .
“Bind my met sewe nuwe boogsnare vas . Dan sal ek so swak soos enige ander mens wees . ”
“Weef my hare in jou weefstoel vas …”
Maar uiteindelik het Simson die waarheid gepraat . “My hare is nog nooit gesny nie,” het hy vir haar vertel . “Dit is die teken dat ek aan God behoort . My krag kom van God af . ”
Delila het oor Simson se hare gestreel totdat hy aan die slaap geraak het . Toe verraai sy hom aan sy vyande . Die Filistyne het ingekom en sy hare afgeskeer. Simson se krag was weg! Hulle het Simson se oë uitgesteek en hom met kettings gebind . Toe neem hulle hom na hulle stad Gasa . Daar moes hy koring maal by die tronk se meul .
Die tyd het verbygegaan . Simson se hare het weer gegroei . Hy het toe besef sy krag is regtig nie sy eie nie . God het dit met ’n spesiale doel vir hom gegee .
Die Filistyne het ’n groot fees vir hulle afgod Dagon gehou . Hulle het vir Simson tempel toe geneem om met hom te spot . Die tempel was stampvol mense . Simson het vir God gevra om vir oulaas vir hom krag te gee . Toe gryp hy die twee middelste pilare van die tempel styf vas en trek met al sy krag . Die tempel het inmekaargestort . Al die Filistyne in die tempel is dood .
Dit was Simson se laaste en grootste daad .
In die stad Betlehem was almal honger. Die veld was stowwerig en droog .
“Ons kos is heeltemal op,” het Elimelek eendag vir sy vrou, Naomi, gesê . “Pak alles in wat ons nodig het . Môre moet ons saam met ons seuns op ’n lang reis gaan . ”
“Waarheen gaan ons?” het Naomi gevra .
“Oor die Jordaanrivier na die land Moab,” het Elimelek geantwoord . “Daar is meer as genoeg kos . ”
Elimelek, Naomi en hulle twee seuns het in Moab gaan woon . Die seuns het later met Moabitiese meisies getrou . Hulle name was Orpa en Rut . ’n Rukkie later het Elimelek gesterf . Ongeveer tien jaar later het Naomi se twee seuns ook gesterf . Naomi het alleen agtergebly .
Toe Naomi uit Betlehem die nuus hoor dat die hongersnood verby was, het sy besluit om huis toe te gaan .
“U kan tog nie alleen reis nie,” het Rut vir haar gesê . Orpa het saamgestem . Hulle twee het saam met Naomi na Betlehem vertrek . Op pad daarheen het Naomi hulle probeer oortuig om terug te draai na hulle mense toe en weer te trou . Hulle wou haar nie verlaat nie, maar sy het daarop aangedring .
Orpa het gehuil toe sy vir Naomi groet, maar sy het teruggegaan na haar huis . Rut het bly weier om Naomi alleen te laat .
“Moet my nie vra om om te draai nie,” het sy gesê . “Ek sal gaan oral waar u gaan . U volk is my volk . U God is my God . ”
Die twee vroue het toe verder gereis . Dit was al oestyd toe hulle in Betlehem aankom . Die boere was besig om die graan te oes . Naomi se vriende was baie bly om haar weer te sien, maar sy was baie hartseer. Sy was tuis, maar sonder haar man en haar twee seuns .
Naomi en Rut was baie arm . Rut het elke dag na die landerye toe gegaan . Sy het agter die werkers aangeloop en die koringare wat hulle laat val het, opgetel . Elke aand het sy die koring gemaal om meel vir brood te maak . Sy het dit nie geweet nie, maar die landerye waar sy gaan are optel het, het behoort aan Boas, ’n ryk familielid van Naomi .
“Wie is die meisie?” het Boas eendag vir sy werkers gevra toe hy vir Rut op die land sien .
“Dit is die Moabitiese vrou wat saam met Naomi hierheen gekom het,” het hulle geantwoord . “Sy tel al van vroegoggend af are op . Sy werk baie hard . ”
“Bly by hierdie land saam met my werkers,” het
Boas vir Rut gesê . “As jy dors word, kan jy uit hulle waterkruike drink . Ek het gehoor hoe goed jy vir Naomi is en dat jy jou mense verlaat het om by haar te bly . Mag God jou daarvoor beloon . ”
Toe sy by die huis kom, het Rut vir Naomi vertel wat gebeur het . Naomi was baie bly . Sy het geweet Boas was ’n goeie man . Sy wou hê Rut moes weer trou .
In daardie tyd in Israel was daar ’n gebruik dat wanneer ’n man sterf, sy naaste familielid vir sy gesin moes sorg . Naomi wou op hierdie gebruik aanspraak maak . Sy wou vir Boas vra om met Rut te trou .
Naomi het geweet Boas sou in die nag by sy dorsvloer slaap om te sorg dat niemand sy koring steel nie . Sy het vir Rut na hom toe gestuur, in die geheim, toe dit al donker was .
“Sê vir Naomi ek sal dit doen,” het Boas vir Rut gesê . “Ek sal met jou trou . Daar is egter ’n man wat nader familie aan haar is as ek . Ek sal hom eers moet gaan vra . ”
Die volgende dag het Boas Naomi se ander familielid by die stad se poort ontmoet . Hierdie man het reeds sy eie gesin gehad . Hy wou nie met Rut trou nie .
Boas het toe met Rut getrou .
En toe Rut aan haar eerste seun geboorte skenk, was niemand in Betlehem blyer as Naomi nie .
In die dorpie Rama, in die heuwels naby Jerusalem, het ’n man met die naam Elkana gewoon . Hy het twee vrouens gehad . Daar was Peninna, wat baie seuns en dogters gehad het . En dan was daar Hanna, wat kinderloos was . Hanna was baie hartseer hieroor, al het sy geweet Elkana is baie lief vir haar.
Elke jaar het Elkana sy familie na Silo geneem om God daar te aanbid . Daarna het hulle saam in die huis van God feesgevier.
Dan het Peninna, omring deur haar baie kinders, met Hanna gespot . Dit het Hanna nog meer hartseer en alleen laat voel .
Eenkeer, toe hulle klaar geëet het, het Hanna na die tempel toe gestap . Sy het baie gehuil terwyl sy vir God vertel het hoe swaar sy kry en hoe sy na ’n kind verlang .
“Gee vir my ’n seun, Here,” het sy gepleit . “Ek belowe dat hy U sy hele lewe lank sal dien . ”
God het Hanna se gebed gehoor, soos Hy altyd sy kinders se gebede hoor.
Eli, die hoëpriester, het Hanna die hele tyd dopgehou . Hy het gedink sy is dronk .
“Moet asseblief nie sleg dink van my nie,” het Hanna vir hom gesê . “Ek is nie dronk nie . Ek is net baie hartseer.” Sy het hom alles vertel .
“Gaan in vrede,” het Eli geantwoord . “Mag God vir jou die seun gee wat jy begeer.”
Hanna het haar trane afgedroog en getroos huis toe gegaan . God het haar gebed geantwoord . Hy het vir haar ’n pragtige babaseuntjie gegee . Hanna het hom Samuel genoem .
“Sodra hy oud genoeg is, sal ek hom Silo toe neem om God te dien,” het sy gesê . “Hy sal sy hele lewe daar bly, net soos ek belowe het . ”
Hanna het gedoen wat sy vir God belowe het .
“Hier is die seun waarvoor ek gebid het,” het sy vir Eli gesê . “God het hom vir my gegee . Nou gee ek hom vir God terug . Sorg asseblief vir hom en leer hom hoe om die Here se werk te doen . ”
’n Paar dae later het die hele familie teruggegaan Rama toe . Samuel het by Eli agtergebly . God het geweet hoe swaar dit vir Hanna was om haar seun daar te los . Daarom het Hy vir haar nog drie seuns en twee dogters gegee om lief te hê en te versorg .
Hanna het Samuel een keer per jaar gesien wanneer hulle na Silo gereis het . Elke keer het sy vir hom nuwe klere gegee wat sy self gemaak het . Hy was ’n goeie seun en almal was lief vir hom .
Eli was al oud . Sy seuns moes vir die huis van God sorg . Ongelukkig was Eli se seuns nie soos hulle pa nie . Hulle was gierig en hulle was nie lief vir die Here nie . God het vir Eli gewaarsku dat Hy nie sulke priesters wil hê om Hom te dien nie .
“Ek sal ’n priester kies wat aan My getrou sal wees,” het God gesê . “Hy sal doen wat Ek van hom vra . ”
Een nag het Samuel in die huis van God geslaap . Skielik het hy wakker geskrik . Iemand het sy naam geroep . Samuel het na Eli toe gehardloop, maar dit was nie die priester wat hom geroep het nie .
Samuel het weer sy naam gehoor.
“U het my geroep,” het hy vir Eli gesê . “Hier is ek . ” Maar dit was nie Eli wat na Samuel geroep het nie . Die priester het besef dit was God wat vir Samuel geroep het .
Toe die stem ’n derde keer na hom roep: “Samuel! Samuel!” het die seun geantwoord soos Eli vir hom gesê het .
“Praat, Here, u dienaar luister.”
“Ek gaan Eli se seuns straf,” het God vir Samuel gesê . “Sy familielede sal nooit weer my priesters wees nie . ”
Die volgende oggend het Eli vir Samuel gevra wat God vir hom gesê het . Samuel wou nie vir hom vertel nie, maar die priester het hom gedwing om te praat . Hartseer het hy na die seun se woorde geluister.
“Laat God doen wat reg is,” het hy gesê . ’n Rukkie daarna het die Israeliete weer teen die Filistyne oorlog gemaak en verloor. Hulle het besluit om die verbondsark, met God se tien gebooie daarin, uit Silo te laat haal en na hulle toe te bring . Hulle het gedink dit sal hulle help om die oorlog te wen . Eli se twee seuns het dit by die kamp ingedra . Dit het die Israeliete niks gehelp nie . Die Filistyne het ’n groot oorwinning oor hulle behaal . Hulle ook die ark gesteel en Eli se twee seuns doodgemaak .
Eli was al baie oud en feitlik blind . Toe hy hierdie hartseer nuus hoor, het hy agteroor geval en sy nek gebreek .
Die Filistyne het met ’n groot gejuig na hulle stad Asdod teruggekeer. As ’n teken van hulle oorwinning het hulle die verbondsark in die tempel van Dagon, hulle god, neergesit . Die volgende dag het Dagon se standbeeld plat op sy gesig voor die ark gelê . Die Filistyne het die standbeeld opgetel . Die volgende dag het dit weer plat voor die ark gelê, maar hierdie keer was dit stukkend .
Toe breek ’n plaag boonop in die stad uit . Die mense het baie bang geword . “Dit is Israel se God wat dit doen,” het hulle gesê .
“Ons moet liewer van die ark ontslae raak . ”
Hulle het die ark na die stad Gat gestuur. Van Gat af is dit na Ekron toe, maar oral waar die ark was, het die plaag uitgebreek .
Die Filistyne was baie bekommerd . Hulle het hulle priesters en towenaars vir raad gevra .
“Stuur die ark terug na Israel, saam met ’n geskenk vir hulle God,” was die raad van die wyse mense . “Dan sal julle gesond word . Onthou wat die Here in Egipte gedoen het!”
Die Filistyne het die ark op ’n wa gelaai . Toe span hulle twee koeie in wat nog nooit ’n wa getrek het nie . Hulle het gewag om te kyk wat gebeur. Die koeie het die wa getrek soos ’n span geleerde osse . Hulle het reguit na Bet-Semes in Israel gestap . Die Israeliete was baie bly oor die ark wat weer by hulle was .
Die Filistyne het besef hulle moet respek vir die God van Israel hê .
Na Eli se dood het God vir Samuel as sy priester gekies . Hy moes die Israeliete leer hoe om God reg te dien . Samuel het die Here liefgehad en hy was gehoorsaam aan die Here . Sy seuns was ongelukkig net so sleg soos Eli se seuns . Hulle was gierig en oneerlik . Die volk het na Samuel toe gekom en gesê: “U word oud . Ons wil nie hê u seuns moet ons lei nie . Gee ons ’n koning, net soos die ander volke se konings . ”
Samuel was baie ongelukkig hieroor. God was ook teleurgesteld in sy mense . God was die ware Koning van Israel, die Een wat hulle uit Egipte gered het . Hy het net die beste vir sy mense gegee, en tog het hulle sy gesag verwerp .
“Julle wil ’n koning hê, net soos die ander volke,” het Samuel gesê . “Het julle gedink wat ’n koning sal doen? Hy sal julle seuns soldate in sy leër maak . Julle sal vir hom moet boer. Julle sal vir hom wapens moet maak . Hy sal julle beste diere en oeste en landerye vir hom vat . Julle sal niks beter as slawe wees nie . Dit is wat konings doen . Julle sal nog jammer wees dat julle ooit vir ’n koning gevra het!”
Die mense het egter aangehou neul . Hulle wou hê ’n koning moes oor hulle regeer en hulle in hulle oorloë lei .
“Doen wat hulle vra,” het God vir Samuel gesê . “Gee vir hulle ’n koning . ”
Israel se eerste koning was ’n lang, sterk en aantreklike man . Sy naam was Saul . Saul het na sy pa se verlore donkies gesoek toe Samuel hom ontmoet het . “Hierdie man moet oor die volk regeer,” het God vir Samuel gesê . Samuel het toe ’n kruik olie geneem en dit oor Saul se kop uitgegooi . Daarmee het Samuel gewys dat God vir Saul as Israel se koning gekies het en hom sou help .
Aan die begin was Saul ’n goeie koning . Hy was dapper. Hy het sy volk in oorloë gelei en baie oorwinnings behaal . Hy was ook baie gewild onder die mense . Dit het Saul egter hoogmoedig en hardkoppig gemaak . Hy wou nie meer na Samuel luister nie . Hy wou nie meer maak soos God beveel het nie .
Op ’n dag het God vir Samuel gesê: “Saul kan nie meer die koning wees nie . Ek het ’n man gekies wat na hom koning kan wees . Gaan Betlehem toe en salf daar ’n nuwe koning . Dit is een van Isai se seuns . Hou dit eers geheim . ”
Samuel was baie hartseer oor Saul, maar hy het geweet Saul sou nie verander nie . Samuel is dadelik Betlehem toe . Hy het gesê hy wil daar ’n offer vir die Here gaan bring . In Betlehem het Samuel vir Isai en sy seuns genooi om saam met hom fees te vier. Isai was daar, saam met sewe van sy seuns . Hulle almal was lank, sterk en aantreklik . Samuel het met elkeen gepraat en elke keer het hy gedink: Dit moet beslis hierdie man wees wat God gekies het . Maar elke keer het God nee gesê .
“Moenie kyk na hoe mooi hy is nie,” het God gesê . “Ek kyk na wat in mense se harte aangaan, of hulle liefdevol en opreg is . ”
“Het jy nog ’n seun?” het Samuel vir Isai gevra .
“Ja,” het Isai geantwoord . “My jongste pas die skape in die veld op . ”
“Laat kom hom,” het Samuel gevra . “Ons kan nie sonder hom feesvier nie . ”
Isai het vir Dawid laat roep . Toe Dawid daar aankom, het God vir Samuel gesê: “Dit is die man wat jy moet salf!”
Samuel het die olie geneem en dit oor Dawid se kop uitgegooi .
Na die fees het Samuel huis toe gegaan . Dawid het nog altyd sy pa se skape in die heuwels rondom Betlehem opgepas, maar van daardie dag af was God by Dawid .
Dawid het elke dag sy pa se skape opgepas . Soms het een van hulle weggedwaal en dan het hy hulle gaan soek en teruggebring . Dit het soms ook gebeur dat ’n jakkals, of selfs ’n beer of ’n leeu, een van die skape aangeval het . Dan het Dawid al sy krag en vaardighede nodig gehad om die wilde diere te verdryf en die skape te red .
Die meeste van die tyd was daar egter min om te doen terwyl hy die skape opgepas het . Hy moes die skape net elke nou en dan na ’n nuwe weiveld neem, waar die gras welig en groen gestaan het . Nie dat Dawid verveeld was nie! Hy het gereeld met sy slingervel geoefen totdat hy ’n doodskoot met ’n klip kon gooi . Hy het ook op sy harp gespeel en liedere gesing wat hy self geskryf het . Hy het selfs as musikant bekend begin word . Die mense het na hom kom luister, want sy musiek was baie mooi .
In daardie tyd het dit nie goed gegaan in die koning se paleis nie . Koning Saul was ’n ongelukkige man . Samuel het nooit meer by hom gaan kuier nie . God was nie meer by Saul nie . Alles het verkeerd geloop . Saul het al meer buierig geraak . Iets moes gedoen word .
“Die koning het musiek nodig,” het een van sy dienaars gesê . “Dit sal hom kalmeer en hy sal van sy probleme vergeet . ”
“Ek ken iemand wat mooi musiek kan maak,” het ’n ander dienaar gesê .
So het dit gekom dat Dawid vir die koning in sy paleis op sy harp gaan speel het . Sy musiek was beter as medisyne . Saul se gemoed het bedaar. Hy was gou beter en Dawid is terug huis toe .
Maar toe trek die Filistyne, die ou vyande van die Israeliete, weer teen hulle op . Hulle het in die Elavallei kamp opgeslaan .
Die Filistyne se leër was aan die een kant van die vallei en die Israeliete s’n aan die ander kant . Tussen die twee leërs was ’n stroompie .
Die Filistyne het ’n geheime wapen gehad . Sy naam was Goliat . Hy was ’n reus van ’n man . Hy was drie meter lank en sy spies was so dik soos ’n man se arm . Dag na dag het Goliat hoogmoedig heen en weer geloop en op die Israeliete geskree en met hulle God gespot .
“Waar is die held van Israel? Laat hy teen my kom veg, as hy dit sal waag!”
Niemand het kans gesien om teen Goliat te gaan veg nie . Almal was te bang .
Drie van Dawid se broers was in Saul se leër. Dawid se pa het hom met kos na hulle toe gestuur om te hoor hoe dit met hulle gaan . Dawid het gehoor hoe Goliat met die Here spot . “Wie is hierdie man,” het Dawid gevra, “dat hy die leër van die lewende God uitdaag? Ek sal teen hom gaan veg!”
Die soldate het net vir hom gelag . Saul het egter gehoor wat Dawid gesê het en hom laat roep . “Jy is nog maar ’n seun,” het hy gesê . “Wat kan jy teen hierdie groot vegter uitrig?”
“Ek het al teen leeus en bere baklei wanneer hulle my pa se skape wou aanval,” het Dawid geantwoord . “God was toe by my . God sal ook nou by my wees . ”
“Nou maar reg,” het die koning gesê . “Gaan . En mag God by jou wees . ”
Saul het vir Dawid sy oorlogsklere en sy swaard gegee, maar dit was so swaar dat Dawid nie eens kon loop nie . “Ek kan nie hiermee gaan veg nie,” het hy gesê en die klere uitgetrek . Dawid het sy herderstaf en sy slingervel geneem en vyf gladde klippies by die rivier gaan optel en in sy sak gesit . Daarna het hy na Goliat toe gestap .
Goliat het vir Dawid sien aankom . Hy het so gelag dat hy amper omgeval het . “Is dít julle held?” het hy die Israeliete gespot . Dawid het geantwoord: “Vandag gee God jou in my hand oor. Almal sal weet dat daar ’n God in Israel is . ”
Dawid het ’n klippie uit sy sak geneem en dit in sy slingervel gesit . Hy het sy slingervel geswaai en die klippie het weggeskiet . Die klippie het Goliat so hard teen sy voorkop getref dat dit deur sy skedel gegaan het . Dawid het na die reus toe gehardloop, sy swaard gegryp en sy kop afgekap .
Die Filistyne was baie bang . Hulle het hard geskree, omgeswaai en gevlug . Die Israeliete het hulle agternagesit . God het aan sy volk die oorwinning gegee .
Dawid se oorwinning oor Goliat het hom beroemd gemaak . Saul het hom selfs in die paleis laat bly . “Jy sal met my dogter trou,” het die koning gesê .
Saul se seun, Jonatan, het dadelik van Dawid gehou . Hulle was gou baie goeie vriende . Hulle het vir mekaar belowe om vir altyd vriende te wees, maak nie saak wat gebeur nie .
Dawid het ’n goeie soldaat geword . Gou was hy ’n groot held en baie gewild . Die mense het oral sy lof besing . Dit het Saul baie jaloers laat word .
Dawid was verloof aan die koning se dogter, Merab, maar die koning het aanmekaar die troue uitgestel . Eendag, terwyl Dawid vir Saul op sy harp gespeel het, het Saul sy spies na Dawid toe gegooi . Dit was die begin van baie probleme .
Saul het vir Merab met ’n ander man laat trou en so sy belofte aan Dawid verbreek . Toe hy hoor dat Mikal, sy ander dogter, op Dawid verlief is, het Saul ’n plan bedink om Dawid se dood te veroorsaak .
“Jy kan met Mikal trou,” het Saul vir Dawid gesê . “Jy hoef nie vir my enige geskenke te gee nie . Maak net vir my 200 Filistyne dood . ” Saul het gedink dit was ’n slim plan . Hy was seker dat die Filistyne vir Dawid sou doodmaak . Dawid en sy manne het egter die koning se bevel uitgevoer. Dawid het toe met Mikal getrou .
Jonatan was hartseer oor sy pa se gesindheid teenoor Dawid . Hy het vir Dawid gewaarsku dat Saul hom wou doodmaak .
Jonatan het by sy pa gepleit om Dawid se lewe te spaar. Saul het ingestem, maar nie sy woord gehou nie .
Een aand, terwyl Dawid op sy harp gespeel het, het die koning weer sy spies na hom toe gegooi . Dit het in die muur langs Dawid vasgeslaan . Die paleis was nie meer ’n veilige plek vir Dawid nie . Daardie nag het Mikal vir Dawid help ontsnap .
Hy het met ’n tou deur hulle venster geklim terwyl die wagte anderpad gekyk het . Dawid en Jonatan het mekaar hartseer gegroet . Hulle sou mekaar nooit weer sien nie .
Daarna het Dawid soos ’n vlugteling in die berge en in grotte gewoon . Hy het ’n groep mans bymekaargemaak om by hom te bly . Hulle was dikwels in groot gevaar. Saul se soldate was soms so naby aan hulle dat dit gelyk het of hulle nooit sou kon ontsnap nie . God was egter altyd by Dawid . En God sou Dawid veilig hou tot op die dag dat hy koning sou word .
Die mense het dikwels vir Saul gesê waar Dawid wegkruip . Saul het hom dan agtervolg . Eenkeer het Saul met sy leër naby die dorp Sif oornag . In die middel van die nag het Dawid en twee van sy manne by die wagte verbygesluip, tot by die plek waar Saul gelê en slaap het . Saul se spies was langs hom in die grond gesteek .
“Maak hom dood, dan is al jou probleme iets van die verlede,” het sy manne vir Dawid gefluister. “God gee hom in jou hand oor.”
Maar Dawid wou dit nie doen nie . “Ek sal nooit die man vir wie God as koning gekies het kwaad aandoen nie . Laat hom sterf wanneer God dit so wil hê . ”
Niemand het gesien hoe hulle die kamp verlaat nie . Hulle het Saul se spies en waterkruik met hulle saamgeneem . Hulle was al ver van die kamp af weg toe Dawid hard roep om die soldate wakker te maak .
“Julle is darem goeie wagte!” het hy spottend geroep . “Julle moet die koning beter oppas . Kyk, ek het sy spies!”
Saul het Dawid se stem herken . Hy het besef Dawid het sy lewe gespaar. Saul was skaam omdat hy Dawid so lelik behandel het . Toe het hy Dawid ’n ruk lank met rus gelaat . Dit was egter nie lank nie, toe het Saul weer vir Dawid begin soek .
Dawid was nêrens in Israel meer veilig nie . Hy het in die Filistynse stad Siklag gaan skuil en voorgegee dat hy aan hulle kant was . Hy was in Siklag toe die Filistyne weer teen die Israeliete opgetrek het . Hulle het naby Sunem kamp opgeslaan . In die berge van Gilboa het ’n bloedige geveg plaasgevind . Jonatan het daardie dag in die geveg gesterf, saam met die koning se ander seuns .
Saul was so erg gewond dat hy op sy eie swaard geval het . Hy wou nie hê die Filistyne moes hom gevange neem nie . Die volgende dag het die vyand sy liggaam daar gekry . Hulle het sy kop afgekap en sy liggaam teen die stadsmuur van Bet-San vasgemaak . Dapper manne het Saul se liggaam later gaan afhaal en hom begrawe . Die hele volk het oor Saul gehuil .
Dawid was bitter hartseer toe hy hoor dat Saul en Jonatan gesterf het . Hy het ’n klaaglied oor hulle gesing: “Saul en Jonatan, geliefde mense, in lewe en dood is hulle nie geskei nie . Hoe het die helde geval, in die hitte van die stryd!” Dawid het oor Saul en Jonatan gehuil totdat hy geen trane meer gehad het nie .
Die trompette het geskal . Die volk het gejuig .
“Dawid word gekroon as koning van Israel!” het hulle geroep . “Lank leef koning Dawid!”
Dawid se dae as vlugteling was verby . Dit was egter nie die einde van sy probleme nie . Saul, die vorige koning, se volgelinge het nog altyd teen Dawid geveg . En die Filistyne was ook reg vir oorlog maak . In die hart van sy ryk het ’n Kanaänitiese stam nog die beheer oor die sterk stad Jerusalem gehad .
Dit was ’n dag van groot blydskap toe Dawid hierdie stad ingeneem en Jerusalem sy hoofstad gemaak het .
Uiteindelik was daar vrede . Dawid kon iets doen wat hy lankal wou doen . Hy het die opdrag gegee dat die verbondsark met God se tien gebooie na Jerusalem gebring moes word . Hoe het God se mense nie daardie dag feesgevier en gesing en gedans nie! Dawid het heel voor gedans, so bly was hy . Jerusalem was meer as sy hoofstad . Dit was van toe af ook die stad van God .
Dawid was ’n goeie koning, ’n vaardige soldaat en ’n regverdige leier. Hy het baie seuns en dogters gehad . Sy mense was lief vir hom . Hy het sy lewe lank aan God getrou gebly . Tog was daar tye toe die lewe vir Dawid lelik skeefgeloop het .
Een middag in die lente, terwyl Dawid se soldate besig was om teen die Ammoniete oorlog te maak, het Dawid by die huis gebly . Hy het op sy paleis se plat dak gaan staan, want dit was koeler daar. Dawid het af gekyk en sy oë het geval op die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het .
“Wie is daardie vrou?” het hy gevra .
“Batseba, die vrou van Urija,” was die antwoord . Urija was een van Dawid se dapperste soldate, en hy was besig om vir die koning oorlog te maak . Dawid het nie daaraan gedink nie . Hy het vir Batseba na sy paleis laat kom en sy het by hom geslaap .
’n Paar weke later het Batseba ’n boodskap na die paleis gestuur. Sy het ’n baba verwag, Dawid se kind . Wat sou gebeur wanneer Urija dit hoor? Dawid moes vinnig iets doen . Hy het ’n bevel aan die aanvoerder van sy leër gestuur: “Stuur vir Urija na heel voor. Maak seker hy sterf in die geveg . ”
Dit alles het Dawid in die geheim gedoen . Niemand anders het daarvan geweet nie . Altans, so het Dawid gedink . Hy het van God vergeet .
Urija is toe dood in die oorlog . Dawid het met Batseba getrou . Hulle kind, ’n seun, is gebore . Dawid het gedink niemand sal ooit sy geheim uitvind nie .
Maar, op ’n dag het Natan, ’n boodskapper van God, na die koning toe gekom en vir hom ’n storie vertel .
“Eendag,” het hy begin, “was daar twee mans . Die een was baie ryk en die ander een was baie arm . Die ryk man het groot troppe skape gehad . Die arm man het net een lammetjie gehad . Die lammetjie was vir hom soos ’n kind . Op ’n dag het die ryk man ’n besoeker ontvang . Hy moes ’n lam vir ete slag . In plaas daarvan om een van sy baie lammers te slag, gaan steel hy die arm man se enigste lam . Hy het die lam geslag, gaargemaak en aan sy gas voorgesit . ”
Hierdie storie het vir Dawid baie kwaad gemaak . Hoe kon iemand so wreed wees? “So ’n man moet doodgemaak word!” het hy uitgeroep . Natan het weer met Dawid gepraat . En sy woorde het Dawid soos ’n pyl in die hart getref .
“Jý is die man,” het Natan vir hom gesê . “God het jou koning gemaak en vir jou alles gegee wat jou hart begeer. Tog het jy
Urija se vrou gevat en hom laat doodmaak . God het dit alles gesien . Moenie dink jy kan daarmee wegkom net omdat jy die koning is nie! As straf vir wat jy gedoen het, sal jou kind sterf . ”
Dawid was diep geskok en baie jammer oor wat hy gedoen het . Hy kon nie sy seun se lewe red nie . Die seun is dood .
Dawid het vir Batseba getroos . God het vir Dawid vergewe . God het vir hulle nog ’n seun gegee . Hulle het hom Salomo genoem .
In die jare daarna was koning Dawid baie besig . Hy het dikwels oorlog gevoer en sy ryk het baie sterk geword . Maar Dawid het een groot begeerte gehad: om vir God ’n huis, ’n tempel, te bou . Maar God het vir Dawid gesê dit is nie sy taak nie .
“Salomo sal dit doen,” het God gesê .
Dawid moes tevrede wees daarmee om die planne vir die tempel te teken, om baie hout, goud en silwer, brons en yster en kosbare edelstene bymekaar te maak sodat alles net reg kon wees vir Salomo om die tempel te begin bou . Dawid het ook die aanbidding in die tempel beplan, veral die musiek . Dawid was baie lief vir musiek en het baie liedere geskryf . *
Dawid was ’n baie goeie koning . Hy het baie sukses behaal . In sy familie het dit egter nie so goed gegaan nie . Dawid kon die land regeer, maar hy kon nie sy seuns beheer nie . En hy het duur betaal vir hierdie swakheid .
Die hele volk was lief vir Dawid se aantreklike seun Absalom . Maar Absalom was nie met liefde tevrede nie . Hy wou koning
* Van Dawid se liedere is in die boek Psalms in die Bybel opgeneem .
word . Toe sweer hy met ander saam teen sy pa . In Hebron het Absalom homself as koning laat salf . Daarna het hy opgeruk teen die stad Jerusalem . Dawid moes vir sy lewe vlug . Die land se burgers het teen mekaar oorlog begin maak .
Agitofel, die slimste van Dawid se raadgewers, het Absalom se kant gekies . Die toekoms het donker gelyk, maar God het nie van Dawid vergeet nie . God was lief vir Dawid en Hy was altyd by hom . God sou ook in hierdie tyd by Dawid bly .
Gusai, Dawid se getroue vriend, het voorgegee om aan Absalom se kant te wees . Maar eintlik het hy vir Dawid van al Absalom se geheime planne vertel . Agitofel het vir Absalom die raad gegee om vir Dawid te agtervolg en hom onverwags aan te val . Gusai het vir Absalom oortuig om eers te wag . Dit het vir Dawid tyd gegee om sy soldate bymekaar te roep .
Daar was ’n groot geveg tussen Absalom en Dawid se soldate . Dawid se soldate het gewen . Absalom het probeer ontsnap, maar hy het met sy muil onderdeur ’n boom gery . Sy hare het in die takke vasgehaak . Daar het Dawid se soldate hom gekry . Al het die koning dit verbied, het hulle vir Absalom doodgemaak .
Dawid se hart was gebreek . “O my seun, Absalom, my seun,” het hy gehuil . “Hoe wens ek ek kon in jou plek gesterf het! O, Absalom, my seun!”
Die blye oorwinning het in hartseer geëindig . Dawid het teruggegaan Jerusalem toe en die mense wat teen hom in opstand gekom het, gestraf . Niemand wou meer Dawid se troon van hom afvat nie . Na Absalom se dood het koning Dawid oud en moeg begin voel . Die volk het begin wonder wie van Dawid se seuns die volgende koning van Israel sou wees .
3, 4, 10
Koning Dawid het oud en swak geword . Die mense het gestry oor wie hom as koning sou opvolg . Na Absalom se dood was Adonia die seun wat daarop kon aandring om koning te word . Maar Dawid het ander planne gehad . Hy het vir Sadok, die priester, Natan, die profeet, en Benaja na hom toe laat kom .
“Salomo moet na my dood koning word,” het Dawid gesê . “Hy moet op my muil na die Gihonfontein toe ry . Sadok en Natan sal hom daar as koning salf . Julle moet op die ramshoring blaas en uitroep: ‘Lank leef koning Salomo!’”
Sadok, Natan en Benaja en die koning se soldate het gedoen wat hy gevra het . Salomo is as koning gesalf . Al die mense het uitgeroep: “Lank leef koning Salomo!”
Daarna het hulle vir Salomo teruggebring stad toe, op hulle fluite gespeel en van blydskap gesing .
Dawid het sy laaste opdragte aan Salomo gegee . “Wees ’n sterk koning,” het hy gesê . “Dien die Here en wees gehoorsaam aan Hom . Dan sal dit met jou goed gaan . As jy die Here dien, sal God sy belofte nakom dat iemand uit my nageslag altyd op die troon sal sit . ”
Koning Dawid het gesterf . Salomo het hom as koning in Jerusalem opgevolg . Salomo se koninkryk was sterk en het saamgestaan . Salomo was lief vir God, net soos Dawid .
Een nag het God in ’n droom met Salomo gepraat . “Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?” het God vir hom gevra .
“Ek is nog baie jonk,” het Salomo gesê . “Ek moet oor so baie mense regeer. Gee asseblief vir my wysheid sodat ek regverdig kan wees en doen wat reg is . ”
God was baie bly dat Salomo wysheid gevra het . “Ek sal vir jou baie wysheid gee,” het God belowe . “Ek sal ook vir jou rykdom en roem gee . ”
Soos God belowe het, het Salomo meer wysheid gehad as al die wyse mense van die ooste, en meer as al die geleerdes van Egipte .
Koning Salomo het meer as 3 000 spreuke geskryf .* Hy het nooit vergeet dat God vir hom hierdie wysheid gegee het nie . Wysheid is iets anders as om slim te wees . Niemand kan regtig wys wees as hulle nie vir God dien en aan Hom gehoorsaam is nie .
Salomo was oral beroemd . Handelaars het verhale oor sy wysheid oor die woestyn tot in die land Skeba gedra . Die koningin van Skeba het nie al die stories wat sy gehoor het, geglo nie . Maar sy was nuuskierig om uit te vind watter soort mens die wyse koning Salomo regtig was . Sy het ’n lys gemaak van al die moeilikste vrae waaraan sy kon dink om hom te toets . Toe het sy op ’n lang reis vertrek, saam met al haar dienaars . Haar kamele was swaar gelaai met seldsame kruie, goud en edelstene .
Die mense van Jerusalem was gewoond aan vreemde besoekers, maar hulle het met groot oë gestaan en kyk toe die koningin van Skeba daar aankom .
* Van Salomo se spreuke is opgeteken in die boek Spreuke in die Bybel .
Die koningin is na die paleis geneem . Daar het sy vir Salomo al die vrae op haar lys gevra . En hy kon elke vraag antwoord . Salomo het vir haar die hele paleis gewys . Sy het gesien hoe baie kos vir die koning se feeste gemaak is . Sy het die dienaars in die paleis se pragtige uniforms gesien . Dit het haar asem weggeslaan .
“Ek kon nie glo wat hulle alles oor jou vertel nie,” het die koningin vir die koning gesê . “Maar nou het ek alles self gesien . God het vir sy volk ’n wyse koning gegee omdat Hy hulle liefhet . ”
Die koningin van Skeba het vir Salomo seldsame kruie, baie edelstene en goud gegee . Die koning het vir haar ook geskenke gegee, enigiets wat haar hart begeer het . Daarna is die koningin en haar dienaars terug na Skeba .
5–8, 11–12
Salomo was al vier jaar lank koning toe hy vir God ’n huis begin bou het . Groot stene is by die steengroewe gekap vir die fondamente en die mure van God se tempel . Salomo het baie sederhout nodig gehad . Die beste seders het gegroei in Libanon, die land van koning Hiram van Tirus .
Salomo en Hiram het ’n ooreenkoms aangegaan . Die sederhout is oor die see na Jerusalem toe gebring . Die stompe is aan mekaar vasgebind om vlotte te maak . Dan het dit al met die kus langs tot in Israel gedryf .
Die tempel was nie baie groot nie, maar dit was so mooi soos wat Salomo dit kon maak . In die tempel was daar twee vertrekke . Die voorste vertrek was reghoekig, en die binneste vertrek was vierkantig .
In die binneste vertrek, wat geen venster gehad het nie, het die ark met God se tien gebooie daarin gestaan . Bokant die ark was twee engele met hulle vlerke uitgestrek . Hulle is van olyfhout gemaak en met goud oorgetrek . Hierdie vertrek was God se heilige plek . Net die hoëpriester kon een keer per jaar, op die Groot Versoendag, daar ingaan .
In die voorste vertrek was daar ’n altaar en tien kandelare . Dit het nie soos ’n kerk van vandag gelyk nie . Die mense het nie by die tempelgebou ingegaan nie . Dit was God se huis .
Die mure van die tempel was met panele van sederhout bedek . Hierdie panele is versier met gerubs, palms en blomknoppe . Alles was met goud oorgetrek, selfs die vloer wat van sipreshout gemaak was .
Buite die tempel was die voorhof . Daarheen kon die mense gaan om diere te bring, wat die priesters aan God kon offer.
’n Beroemde vakman het uit Tirus gekom om twee bronspilare vir die ingang van die tempel te maak . Hy het ook ’n reusewaterbak gemaak wat op die rûe van tien bronsbulle gerus het . Daar was tien versierde bronswaentjies op wiele . Op elke waentjie was daar ’n waskom .
Baie werkers het sewe jaar lank aan God se tempel gewerk . Uiteindelik was die pragtige gebou klaar. Net die beste was goed genoeg vir God .
Salomo het al die mense bymekaar laat kom . Die priesters het vir God offers gebring . Hulle het die ark met God se tien gebooie gebring en dit in die binneste vertrek neergesit . Die heerlikheid van God se teenwoordigheid het hele die tempel gevul .
Salomo het voor die volk gaan staan .
“O Here, God van Israel,” het hy gebid, “daar is geen ander God as U nie . U het ons lief en U hou u beloftes . Bewaar u tempel . Hoor u volk se gebede . Vergewe ons en help ons, vir altyd . ”
Salomo het na die volk toe gedraai . “Mag God met ons wees soos Hy by ons voorgeslagte was,” het hy gesê . “Bly getrou aan God en doen sy wil . ”
Na die inwyding van die tempel het die mense ’n week lank feesgevier. Daarna is hulle almal na hulle huise toe .
Toe Salomo koning was, was dit vir Israel ’n goue tyd . Salomo het skepe gebou en sy handelaars het kosbare vragte na die land toe teruggebring . Salomo het nuwe geboue laat bou en sterk vestingstede opgerig .
Maar nie alles was so goed nie . Die koning het al meer mense en al meer geld nodig gehad vir al sy bouwerk . Die mense moes begin belasting betaal . Die mans moes vir die koning werk in plaas van op hulle eie grond .
Koning Salomo het ook met baie buitelandse prinsesse getrou . Dit was goed vir handeldryf en om in vrede te kon leef . Hierdie prinsesse het egter hulle eie gode met hulle saamgebring . Later het hulle vir Salomo omgepraat om hulle gode te aanbid .
God het toe met Salomo gepraat .
“Omdat jy nie aan My gehoorsaam gebly het nie, sal Ek die koninkryk van jou seun wegneem . ”
God se woorde het waar geword . Na Salomo se dood het sy ryk geskeur. Juda, die twee stamme in die suide, het getrou gebly aan Salomo se seun, koning Rehabeam . Die tien stamme in die noorde het vir Jerobeam, ’n amptenaar van Salomo, hulle koning gemaak .
Jerobeam het twee goue kalwers gemaak sodat die mense dit kon aanbid . Hy het een by Bet-El in die suide neergesit en die ander by Dan in die noorde . Jerobeam wou nie hê die mense moes na Jerusalem gaan om God te aanbid nie . Dit was verkeerd van hom en dit het baie moeilikheid veroorsaak .
Jerobeam was die eerste koning van Israel, die Noordryk . Nie een van sy opvolgers was aan God gehoorsaam nie . Hulle almal het die volk aangemoedig om Jerobeam se afgode te aanbid . Agab, die sewende koning, was goddeloser as al die ander. Hy was getroud met ’n wrede en bose vou, Isebel . Sy was die dogter van die koning van Sidon . Agab het ’n tempel gebou vir Baäl, die god wat Isebel en haar mense aanbid het .
Koningin Isebel het baie van God se profete doodgemaak . Hulle was die mense wat God se mense moes leer hoe om God lief te hê en Hom alleen te dien .
Maar daar was nog een man in Agab se koninkryk wat God se boodskap dapper verkondig het . Sy naam was Elia .
Eendag het God vir Elia gesê: “Gaan na Agab toe . Gaan sê vir hom Ek weet van al die verkeerde dinge wat hy doen . Sê vir hom daar sal geen reën in Israel val nie . Eers wanneer Ek so sê, sal dit weer reën . ”
Elia het die boodskap vir Agab gaan gee . Toe stuur God vir Elia na ’n veilige plek, oorkant die Jordaan by die Kritspruit . Elia het water uit die spruit gedrink en God het elke dag kraaie gestuur om vir hom kos te bring .
Later het die spruit opgedroog omdat dit nie gereën het nie . “Gaan na die dorp Sarfat naby Sidon,” het God vir Elia gesê . “Daar is ’n weduwee wat vir jou sal kos gee . ”
Elia het gemaak soos God gesê het . By die dorp het hy ’n vrou gesien wat besig was om hout op te tel . “Bring asseblief vir my ’n bietjie water om te drink,” het Elia vir haar gevra, “en ’n stukkie brood om te eet . ”
“Ek het nie brood nie,” het die vrou geantwoord . “Al wat ek het, is ’n handjie vol meel en ’n paar druppels olyfolie . Hierdie hout tel ek op om vir my en my seun ’n laaste ete te maak . Daarna sal ons van die honger sterf . ”
“Moenie bekommerd wees nie,” het Elia gesê . “Bak eers vir my ’n broodjie . God sal sorg dat jou meel en jou olie nie opraak voordat die droogte verby is nie . ”
Die vrou het gemaak soos Elia gesê het . Dadelik het sy gesien Elia was reg . Haar meel en olie het nie opgeraak nie . Dag na dag kon sy brood bak . Daar was altyd net genoeg meel en olie .
Eendag het die weduwee se seun baie siek geword . Dit het al slegter met hom gegaan . Toe sterf die seun .
“Wat het jy nou gedoen?” het die weduwee vir Elia gevra . “Word ek nou gestraf? Het jy vir God van my sondes vertel?” Sy was baie hartseer en ontsteld .
“Gee die seun vir my,” het Elia vir haar gesê . Hy het die seun met die trap op gedra tot in sy kamer. Daar het Elia hom op sy bed neergelê .
“U weet hoe goed hierdie weduwee vir my was,” het Elia hardop tot God gebid . “Maak tog haar seun weer lewend . ”
Drie keer het Elia tot God gebid . En God het die kind weer laat leef . Die weduwee het haar seun in haar arms geneem . “Nou weet ek dat jy regtig ’n man van God is,” het sy vir die profeet gesê, “en dat jy die waarheid praat . ”
Vir drie jaar het dit glad nie gereën nie . Die mense het van die honger gesterf .
God het weer vir Elia na koning Agab toe gestuur.
“Wat kom soek jy hier?” het die koning kwaad gesê . “Jy is ’n regte moeilikheidmaker, die ergste een in Israel . ”
“Dit is nie waar nie,” het Elia gesê . “Jy is die een wat die moeilikheid oor Israel bring . Jy is ongehoorsaam aan God en jy dien vir Baäl . Sê die hele volk en al Baäl se priesters moet op Karmelberg bymekaarkom . ”
Die koning het dit gedoen . Toe almal daar was, het Elia met hulle begin praat .
“Dit is tyd dat julle besluit,” het hy vir die mense gesê . “Julle kan nie vir God dien én dan nog vir Baäl ook nie . Ons sal vandag sien wie die enigste ware God is . As die Here God is, moet julle Hom dien . As Baäl god is, kan julle hom dien . ”
Toe praat Elia met die priesters van Baäl .
“Kom, laat ons offers bring . Julle offer ’n bul aan Baäl en ek offer ’n bul aan my God . Die een wat self vuur stuur om die offer te verbrand is die ware God . ”
Die priesters van Baäl het ’n altaar gebou . Hulle het hout op die altaar gepak en hulle bul op die altaar neergelê . Die hele dag het hulle uitgeroep: “Baäl, luister tog na ons!” Hulle het gedans en geroep, maar hulle het geen antwoord gekry nie . Niks het gebeur nie . Geen vuur het hulle offer verbrand nie .
Toe was dit Elia se beurt . Hy het ook ’n altaar gebou, hout op die altaar gepak en die bul daarop neergelê . Toe gooi Elia die hele altaar vol water sodat die hout deurnat was . Hy het ook ’n sloot rondom die altaar gegrawe en dit vol water gemaak .
“O Here, God van Israel,” het Elia gebid, “laat die volk sien dat U die enigste ware God is . ”
God het vuur gestuur. Groot vlamme het die water in stoom laat verdamp . Dit het die hele offer verteer. Die volk het op die grond neergeval toe hulle dit sien .
“Die Here, die Here is God! Die Here is God!” het hulle hard uitgeroep .
Hulle het al die Baälpriesters gegryp en doodgemaak voordat een van hulle kon ontsnap .
Elia het vir God gevra om reën te stuur. Kort daarna het die wind begin waai . Die lug het donker geword en die reën het begin val . Dit was ’n groot dag vir Elia . Hy was so vol krag en moed dat hy tot in Jisreël voor die koning se strydwa uit gehardloop het .
Maar die volgende dag het alles verander. Elia moes weer hardloop, maar hierdie keer om sy lewe te red . Koningin Isebel het belowe sy sal vir Elia laat doodmaak . Elia het al verder gevlug, tot by Sinaiberg . Maar Elia was nie alleen daar nie . In die stilte kon hy ’n stem hoor. Dit was God se stem .
“Wat maak jy hier, Elia?”
“Hulle het al u profete doodgemaak,” het Elia hartseer gesê . “Ek is die enigste een wat oorgebly het . En nou wil hulle my ook doodmaak . ”
“Gaan terug,” het God vir Elia gesê . “Daar is nog werk vir jou om te doen . Jy kan koning Agab en koningin Isebel aan My oorlaat . Gaan na Elisa toe, want na jou sal hy my profeet wees . En moenie dink jy is alleen nie . Daar is nog 7 000 mense in Israel oor wat nog nooit vir Baäl aanbid het nie . ”
Hierdie woorde het vir Elia moed gegee . Hy het Elisa op die landerye gekry waar hy besig was om te ploeg . Elia het sy mantel om Elisa se skouers gehang om vir hom te wys dat hy die volgende profeet in Israel sou wees . Elisa het sy huis verlaat en saam met Elia gegaan .
Langs Agab se paleis in Jisreël was daar ’n wingerd . Hierdie wingerd het aan ’n man met die naam Nabot behoort .
“Ek kan ’n heerlike kruietuin maak waar daardie wingerd staan,” het die koning gesê .
Hy het Nabot ontbied en hom gevra of hy die wingerd aan hom sal verkoop . Agab sou vir Nabot ’n ander wingerd gee in ruil vir syne . Nabot het nee gesê .
“Daardie wingerd het nog altyd aan my familie behoort,” het hy gesê . “Ek wil dit aan my seun nalaat wanneer ek die dag sterf .
God se reëls verbied my om dit aan enigiemand anders te verkoop . ”
Koning Agab was gewoond daaraan om sy sin te kry . Mense het nie sommer vir hom nee gesê nie! Nabot se antwoord het die koning baie kwaad gemaak . Hy was sommer in ’n slegte bui . Dit was so erg dat koningin Isebel vir hom gevra het wat fout is .
“Is jy dan nie die koning nie?” het sy gevra toe Agab vir haar die storie van die wingerd vertel . “Laat dit aan my oor. Die wingerd sal joune wees . ”
Koningin Isebel het altyd gekry wat sy wou gehad het . Sy het nie omgegee hóé sy dit kry nie . Sy het Nabot van verraad laat aankla . Hy is gevange geneem en met klippe doodgegooi, al was hy heeltemal onskuldig .
Toe gaan koningin Isebel na die koning toe . “Nabot is dood,” het sy vir hom gesê . “Niks keer jou nou om sy wingerd vir jou te vat nie . ”
Die koning was in die wingerd toe Elia met hom kom praat het . “God sê jou bloed sal vloei, net soos Nabot s’n . Isebel sal hier in Jisreël sterf . Jou hele familie sal uitgewis word . ”
Agab het geskrik vir Elia se woorde . Hy het sy lewe probeer verander, maar hy het gou weer gedoen wat verkeerd was .
Drie jaar later het koning Agab saam met koning Josafat van Juda teen die Siriërs gaan oorlog maak . Daar was ’n groot geveg by Ramot in Gilead . Soos gewoonlik het Josafat sy koninklike klere aangehad . Agab het gedink dit sal veiliger wees as hy soos ’n gewone soldaat aantrek . Een van die vyand se soldate het sy boog gespan . Sy pyl het deur ’n opening in die koning se harnas gedring . Agab het in sy strydwa doodgebloei . God se woorde het waar geword .
2 KONINGS 2, 4–5
Elia was al oud en gereed om sy laaste reis te onderneem . Soos gewoonlik het Elisa saam met hom gegaan . ’n Groep profete het hulle van Jerigo af gevolg en na hulle gestaan en kyk toe hulle by die Jordaan kom . Elia het sy mantel opgerol en op die water daarmee geslaan . ’n Pad het deur die water voor hulle oopgemaak . Hulle kon op droë grond tot aan die ander kant loop .
Aan die oorkant het Elia vir Elisa gesê: “Ek moet jou binnekort verlaat . Is daar enigiets wat jy wil vra voordat ek gaan?”
“Ek sal jou werk alleen verder moet doen,” het Elisa geantwoord . “Ek is jou erfgenaam . Gee vir my twee keer meer krag as wat jy gehad het . ”
“Dit sal baie moeilik wees,” het Elia gesê, “maar as jy my kan sien wanneer ek van jou af weggeneem word, sal jy kry wat jy gevra het . ”
Hulle het nog gestaan en praat toe ’n wa en perde van vuur voor hulle verskyn . Elisa het gesien hoe Elia in ’n geweldige stormwind in die hemel opgeneem word . Toe was hy alleen daar.
Hartseer het Elisa Elia se mantel opgetel en teruggestap rivier toe . Daar het hy met die mantel op die water geslaan . “Waar is die Here, die God van Israel?” het hy gevra .
Weer het daar ’n pad deur die rivier oopgegaan . Die profete wat na Elisa gestaan en kyk het, het toe geweet dat hulle Elia nooit weer sou sien nie . Hulle het besef God het vir Elisa in Elia se plek gekies .
Elisa het baie rondgereis om die mense van God te leer. Eendag het hy by Sunem aangekom . Hy was baie moeg en honger en vuil . ’n Ryk vrou het hom daar sien verbystap en hom vir ete genooi .
“Kom terug wanneer jy ook al wil,” het sy vir Elisa gesê .
Elisa het van die vrou gehou en gereeld by haar gaan kuier.
“Kom ons bou vir die man van God sy eie kamer,” het die vrou later vir haar man gesê . “Dan kan hy hier kom rus elke keer wanneer hy in Sunem kom . ”
Hulle het die kamer op die plat dak van hulle huis gebou . Toe dit klaar was, het die vrou ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp in die kamer gesit . Elisa was baie bly oor sy kamer.
“Hierdie mense het so baie moeite vir ons gedoen,” het hy vir Gehasi, sy dienaar, gesê . “Is daar iets wat ons vir hulle kan doen?”
“Hulle is baie ryk,” het Gehasi geantwoord . “Hulle het alles wat hulle harte begeer, net nie ’n kind nie . ”
Elisa het die vrou geroep .
“Volgende jaar hierdie tyd sal julle ’n seun hê,” het hy vir haar belowe .
Tot die vrou se groot blydskap het Elisa se woorde waar geword . ’n Paar jaar later het iets tragies egter gebeur. Die seun was besig om sy pa met die oes te help toe hy skielik uitroep: “My kop is seer! My kop is seer!” Sy pa het hom huis toe gestuur na sy ma toe, maar binne ’n paar uur het die seun gesterf .
Die seun se ma het hom na Elisa se kamer toe gedra en die deur toegemaak . Toe Elisa in Sunem kom, het hy alleen by die kamer ingegaan . Hy het die seun dood daar op die bed sien lê .
“O, Here my God,” het Elisa gebid . “Gee tog aan hierdie kind sy lewe terug . ”
Hy het sy mond oor die kind se mond gesit en die seun se lyf het begin warm word . Toe nies die seun sewe keer en maak sy oë oop .
“Kom gou!” het Elisa die vrou geroep . “Jou seun leef weer!”
Die Siriese bevelvoerder
Naäman was ’n belangrike man in Sirië . Hy was die bevelvoerder van die koning se leër. Hy het alles gehad wat ’n mens kan begeer: mag, rykdom, roem, ’n groot huis en baie dienaars om hom te versorg . Maar, Naäman het ’n pynlike velsiekte gehad wat niemand in daardie tyd kon gesond maak nie . Hy en sy vrou was baie hartseer en ontsteld .
Tydens ’n oorlog het die Siriërs ’n jong Israelitiese meisie gevange geneem . Sy het ’n diensmeisie van Naäman se vrou geword .
“Daar is ’n profeet in Israel wat vir Meneer kan gesond maak,” het die dogtertjie vir Naäman se vrou gesê .
Die koning van Sirië het gereël dat Naäman veilig Israel toe kon reis . In Israel het Naäman na Elisa gaan soek .
Elisa se dienaar het die deur vir hom oopgemaak . “Die profeet sê jy moet jou sewe keer in die Jordaan gaan was,” het hy vir Naäman gesê . “Dan sal jy gesond wees . ”
Wat ’n teleurstelling! Naäman het iets baie meer dramaties verwag . Hy was sommer vies oor hierdie opdrag .
“Daar is baie mooier riviere in Sirië as ek my dan nou net moet was,” het hy gesê . Sy dienaars het hom egter oortuig om tog die profeet se raad te volg . En dit het gewerk! Naäman het hom sewe keer in die water van die Jordaan gewas . Hy het heeltemal gesond geword .
Haastig is hy terug om vir die profeet te gaan dankie sê .
“Nou weet ek die God van Israel is die enigste ware God,” het hy gesê .
Daar was weer oorlog tussen Sirië en Israel . Die Siriërs het vir die Israeliete ’n hinderlaag gestel, maar Elisa het die koning van Israel gewaarsku om van daardie plek af weg te bly . Elke keer as die Siriërs ’n plan gemaak het, het Elisa die koning van Israel gewaarsku .
“Gaan soek vir Elisa en neem hom gevange,” het die koning van Sirië van woede gebrul .
Hulle het gehoor dat Elisa by Dotan was . Die koning van Sirië het perde en strydwaens gestuur om die stad in die nag te omsingel . Toe Elisa se dienaar dit sien, was hy doodsbenoud .
“Ons is vasgekeer,” het hy vir Elisa gesê . “Wat gaan ons doen?”
Elisa was nie bekommerd nie .
“Ag, Here,” het hy gebid . “Maak tog my dienaar se oë oop . ”
Die dienaar het opgekyk en baie perde en strydwaens van vuur gesien wat die Siriese leër omring het . Toe het hy besef dat God sy profeet sou beskerm .
Elisa het baie wonderlike dade gedoen . Hy het so beroemd geword dat selfs konings sy raad kom vra het . Maar altyd het Elisa tyd gehad vir die gewone mense . Toe hy sterf, was die hele volk baie hartseer.
In Israel, die Noordryk, waar Elia en Elisa gewoon het, was daar altyd ’n rusie oor wie as koning moes regeer. Nie een van die konings was aan God gehoorsaam nie . Daar was gedurig oorloë en opstande .
In Juda, die Suidryk, het dit beter gegaan . In Jerusalem, die hoofstad, het die een koning na die ander geheers . Almal was deel van Dawid se nageslag . Die meeste van hierdie konings was goeie konings en aan God gehoorsaam . Die ander was soos die konings van Israel . Hulle het hulle nie aan die lewende God gesteur nie . Hulle het eerder afgode soos Baäl aanbid .
Na Salomo het sy seun Rehabeam koning geword . Na Rehabeam het sy seun Abia koning geword . En daarna sy seun Asa … en sy seun Josafat … en sy seun Joram .
Koning Joram het ’n dwase ding gedoen . Hy het getrou met Atalia, die dogter van koning Agab van Israel . Hy moes geweet het hierdie huwelik sou net probleme veroorsaak . En dit het ook .
Maar die heel ergste ding het gebeur nadat koning Joram dood is .
Die nuwe koning, Ahasia, die seun van koning Joram en koningin
Atalia, het besluit om by die koning van Israel te gaan kuier. Ongelukkig het hy ’n baie slegte tyd gekies om daarheen te gaan . Terwyl hy daar was, het ’n generaal van die leër met die naam Jehu teen die koning in opstand gekom . Die koning van Israel is doodgemaak . Isebel, die koning se ma, is by ’n paleisvenster in Jisreël uitgegooi en het na haar dood geval . Wat God oor haar gesê het, het inderdaad gebeur.
Ahasia het in sy strydwa gespring en probeer ontsnap . Jehu se soldate het hom ingehaal en gewond . Hy het gesterf voordat hy by die huis kon kom .
Toe koningin Atalia dit hoor, was sy woedend . Sy het haar soldate beveel om al die lede van die koningshuis van Juda te gaan doodmaak . Sy self wou oor Juda regeer.
Dit sou beteken Dawid se nageslag sou nie meer konings wees nie, maar God het ’n belofte aan Dawid gemaak . “Jou nageslag sal altyd op die troon bly,” het God gesê .
Atalia het almal in die koning se familie doodgemaak, behalwe een seun . Ahasia se babaseuntjie, Joas, is deur sy tannie gered . Sy het hom in die tempel weggesteek .
Ses jaar lank het die hoëpriester Jojada daar vir Joas gesorg . Dit was ’n groot geheim waarvan niemand geweet het nie . Toe Joas sewe word, het Jojada die bevelvoerders van die koninklike wag laat kom en hulle van alles vertel .
“Luister nou mooi wat julle moet doen,” het hy gesê en vir hulle sy plan vertel .
Op die sabbatdag het al die soldate wat klaar diens gedoen het reguit tempel toe gegaan . Jojada het vir Joas buitentoe geneem .
Al die soldate het rondom hom gestaan met hulle swaarde in hulle hande . Jojada het die kroon op Joas se kop gesit en verklaar dat hy die ware koning van Juda is . Die volk was baie bly .
“Lank leef die koning!” het hulle uitgeroep . Koningin Atalia het die gejuig gehoor en vinnig tempel toe gestap . Daar het sy vir Joas sien staan .
“Verraad! Verraad!” het sy gegil .
Maar niemand het haar gehelp nie . Koningin Atalia was ’n wrede vrou . Almal was bang vir haar en het niks van haar gehou nie . Die soldate het haar daar weggeneem en doodgemaak .
Die volk het die afgodsbeelde en altare in die tempel van Baäl afgebreek en stukkend gekap . Hulle was weer vry om God te aanbid en in vrede te leef .
Joas het veertig jaar regeer. Jojada, die hoëpriester, het hom van kleins af geleer om God se wil te doen en net aan God gehoorsaam te wees . Joas het dit nooit vergeet nie .
God se tempel was verwaarloos . Die heel eerste ding wat Joas as koning gedoen het, was om te sorg dat die tempel reggemaak word . Joas was beroemd omdat hy as so ’n jong seun koning geword het en omdat hy God se tempel weer mooi gemaak het .
Ongeveer sewentig jaar nadat koning Joas gesterf het, het sy agter-agterkleinseun, Hiskia, koning van Juda geword . Hiskia het baie probleme gehad .
Die koninkryk van Assirië het baie sterk geword . Die Assiriese soldate het oor die land se grense gestroom na hulle buurlande . Hulle het stede aangeval en geplunder en die mense doodgemaak .
Stories oor hoe wreed die Assiriërs was, het almal bang gemaak . Een vir een het Assirië die klein koninkryke verower en hulle deel van die magtige Assiriese Ryk gemaak .
Hiskia was nog maar vier jaar koning toe die Assiriërs teen Israel oorlog begin maak het . Hulle het Samaria, die hoofstad van die Noordryk, vir amper drie jaar omsingel . Baie mense het van die honger doodgegaan voordat die Assiriërs die stad ingeneem het .
Die Assiriërs het die koning van Israel gevange geneem . Hulle het die Israeliete gedwing om hulle land te verlaat en ’n lang en moeilike reis na ’n ver land aan te pak . Hulle het nooit weer teruggekom na hulle land toe nie .
Vreemde volke is na die land Israel gebring . Hulle het in Samaria gaan woon . Hulle het hulle vreemde afgode met hulle saamgeneem .
Dit was ’n baie hartseer ding wat gebeur het . En dit het gebeur omdat die Israeliete geweier het om na God te luister en aan Hom gehoorsaam te wees . Keer op keer het die Here hulle gewaarsku, maar hulle het hulle doof gehou .
In Juda het dit nie juis beter gegaan nie . Die volk het afgode begin aanbid . Hulle het van God vergeet . Tog het een ding in die volk van Juda se guns getel: Hiskia was hulle koning . En Hiskia was ’n goeie koning wat in God geglo het .
Hiskia het beveel dat die mense al die afgodsbeelde moes afbreek en stukkend kap .
“My volk moet op God vertrou, soos ek,” het hy gesê .
Die volk Juda het nog iets in hulle guns gehad: God het vir Jesaja as sy profeet na hulle toe gestuur. Jesaja het vir die mense gesê wat God vra hulle moet doen .
“Moet tog nie soos die volk Israel wees nie,” het Jesaja gewaarsku . “Julle sien wat van hulle geword het . Julle moet God liefhê en aan Hom gehoorsaam wees . Die Assiriërs is op pad, maar God is by ons . ”
Sewe jaar later het die Assiriërs vir Juda aangeval . Hulle het al die stede op die grens van die land ingeval . Al nader het hulle gekom, totdat hulle voor die hekke van Jerusalem gestaan het .
Koning Hiskia en Jesaja was saam met die mense van Jerusalem vasgekeer, soos voëltjies in ’n hok .
Drie van die aanvoerders van Assirië se leër het voor die stadspoort gestaan . Hulle het hard geroep dat die koning na hulle toe moes kom . Drie van Hiskia se raadgewers het na hulle toe gegaan . Die mense van Jerusalem het op die mure gestaan en kyk en luister wat gebeur. Hulle het skoon gebewe so bang was hulle toe hulle die son sien skitter op die skilde en spiese van die rye en rye Assiriese soldate .
“Luister na die woorde van Sanherib, die groot koning van Assirië,” het die Assiriërs se boodskappers gesê . “Maak vrede terwyl julle nog kan . Julle is in ons mag . Dink julle julle God kan julle red? Kon die gode van die ander volke hulle uit die mag van ons koning red? Het iemand Samaria gered? Moenie dat Hiskia julle mislei om te dink God sal julle red nie . Gee julle nou dadelik oor!”
Die mense het nie geantwoord nie .
Hiskia het mans na Jesaja toe gestuur om sy raad te vra . Die profeet het geluister na wat hulle vertel het .
“Sê vir Hiskia hy moenie bang wees nie,” het Jesaja geantwoord . “God kan die stad red . En God sal . ” Sanherib het vir Hiskia ’n brief gestuur.
“Ek gaan jou stad vernietig,” het hy gesê . “Jou God sal jou nie kan red nie . ”
Hiskia het die brief na die tempel toe geneem en met God daaroor gepraat .
“U is die enigste God,” het Hiskia gebid . “U het die wêreld gemaak . U is die Koning van alle konings . Red ons tog van die Assiriërs!”
Jesaja het weer ’n boodskap na Hiskia toe gestuur.
God het die koning van Assirië se belediging gehoor. “Ek het aan hom mag gegee,” het die Here gesê, “maar nou gaan Ek hom keer. Hy sal nie in hierdie stad inkom nie . Sy soldate sal nie eens ’n pyl op die stad afskiet nie . Ek sal Jerusalem beskerm en veilig hou . ”
Daardie nag het iets vreemd in die Assiriërs se kamp gebeur.
Duisende van Assirië se soldate het skielik doodgegaan . Niemand het geweet hoekom nie . Die volgende oggend was hulle kamp vol dooie soldate .
Die koning van Assirië het gerugte gehoor dat sy land ingeval is . Haastig is hy terug na Nineve, sy hoofstad . Kort daarna het sy eie seuns hom doodgemaak . In Jerusalem was daar vrede .
Toe Hiskia al baie oud was, het mense van die koning van Babel na hom toe gekom . Hiskia het hulle soos vriende behandel en met trots al sy skatte vir hulle gewys .
Jesaja het met die koning gepraat . “Die Babiloniërs is nou ons vriende, maar God sê al jou skatte en baie van jou mense sal nog eendag na Babel toe weggevoer word . ”
God het vir Jesaja gewys wat sou gebeur.
“God het Jerusalem van die Assiriërs gered,” het Jesaja die volk gewaarsku, “maar as julle God nie met julle hele hart vertrou en aan Hom gehoorsaam is nie, sal Jerusalem eendag vernietig word . Julle vyand se soldate sal julle almal wegneem om in ’n vreemde land te gaan woon . Maar God sal julle nooit verlaat nie . Hy sal julle eendag na julle eie land terugbring . ”
Die profeet se oë het geblink . Hy het geweet watter wonderlike dinge God beplan . Dit sou nie dadelik of binnekort gebeur nie .
Maar in die toekoms sou God sy plan laat waar word: God sou sy eie Koning stuur.
“God stuur vir ons ’n Kind wat oor ons sal heers . Hy sal genoem word Wonderbare Raadsman, Sterke God, Ewige Vader en Vredevors . Ons moet ’n pad gereed maak vir God se Koning,” het Jesaja gesê .
“Berei vir Hom ’n weg voor deur die woestyn . Vul die valleie op . Maak die berge gelyk . Oral moet die mense die heerlikheid van die Here sien . ”
Alles wat Jesaja gesê het, het waar geword . Nie dadelik nie, maar eers baie, baie jare later.
Die konings wat vir Hiskia opgevolg het, het al sy goeie werk tot niet gemaak . Die volk het weer afgodsbeelde gemaak en die afgode aanbid . Hulle het selfs hulle kinders doodgemaak en aan hierdie afgode geoffer. Hulle het toorkuns gedoen en die son en die sterre aanbid .
Juda het die slegte voorbeeld van Israel gevolg . Daarom sou hulle ook uiteindelik vernietig word . Maar hulle het nog een koning gehad wat aan God getrou was . Sy naam was Josia .
Soos Joas, was Josia ook nog maar net ’n jong seun toe hy koning geword het . Toe hy agttien jaar lank koning was, het hy die opdrag gegee dat God se tempel reggemaak moet word .
Terwyl hulle die tempel skoongemaak en reggemaak het, het die mense ’n ou boekrol daar ontdek . Dit was in ’n pakkamer weggesteek . Gilkija, die priester, het dit vir die koning se sekretaris gegee om vir Josia voor te lees . Terwyl Josia geluister het, het hy al meer ontsteld begin raak .
“Dit is die boek met al God se reëls vir die lewe,” het hy gesê . “Dit is nou al jare en jare laas dat ons God se reëls gevolg het . Ons het ons belofte aan God verbreek . Ons moet uitvind wat God wil hê ons nou moet doen . ”
“Kom ons gaan vra vir Gulda,” het Gilkija voorgestel .
Gulda was God se profetes . Sy was bekend vir haar wysheid . Vinnig het hulle na haar huis in die stad gegaan .
“Wat beteken dit alles?” het hulle vir Gulda gevra . “Wat moet ons doen?”
“Luister na God se woord,” het Gulda geantwoord . “God sê: ‘My volk was ongehoorsaam aan My . Hulle het afgode aanbid .
Hulle gaan gestraf word, maar omdat die koning aan My getrou is, sal Ek hulle nie in sy leeftyd straf nie . ’”
Koning Josia het al die leiers en die hele volk laat bymekaarkom .
Hulle het voor die tempel gestaan . Daar het Josia die wetboek hardop aan hulle voorgelees . Die hele volk het belowe om aan God se opdragte gehoorsaam te wees .
Daarna het Josia die land begin skoonmaak . Hy het al die beelde van Baäl en die ander gode wat die volk aanbid het, laat afbreek . Die houtbeelde het hy laat verbrand . Die altare van die afgode het hy afgebreek .
Die plek in die Hinnomdal, waar die mense hulle kinders as offers aan Molek verbrand het, het hy verwoes . Josia het selfs die strydwaens wat gebruik is om die son te aanbid aan die brand gesteek .
Deur die hele koninkryk heen het Josia al die heidense aanbiddingsplekke wat die vorige konings van Juda laat bou het, verwoes . Die priesters van Baäl, die towenaars en die waarseêrs is uit die land weggejaag .
“Nou kan ons die paasfees vier,” het Josia gesê, “net soos God se volk dit gevier het toe hulle uit Egipte bevry is . ”
So ’n groot paasfees is baie en baie jare laas in Juda gevier. Duisende skape, bokke en bulle is geslag en gebraai . Elke familie het saamgeëet . Die fees het sewe dae geduur. Die volk het
God aanbid .
Koning Josia het God met sy hele hart liefgehad . Voor hom en na hom was daar nie weer so ’n koning in Juda nie . Ongelukkig het koning Josia in ’n oorlog gesterf .
Daarna het die volk weer met hulle ou sondes begin . Al wat die koning kon doen, was om God se straf uit te stel .
Josia was nog die koning van Juda toe God vir Jeremia as sy profeet geroep het . Jeremia was nog jonk en baie skaam . Hy het nie die moed gehad om met groot groepe mense te praat nie . “Ek het jou al voor jou geboorte gekies om my profeet te wees,” het God vir Jeremia gesê . “Moenie bang wees nie . Ek ken jou beter as wat jy jouself ken . Ek sal vir jou die regte woorde gee wat jy moet sê . Ek sal jou veilig hou . ”
Jeremia het nie ’n keuse gehad nie . God se boodskap het soos vuur in hom gebrand . Hy kon dit nie vir homself hou nie . Hy moes vir almal sê wat God sê .
Jeremia het in ’n moeilike tyd geleef . Juda is van alle kante bedreig deur die groot nasies wat aanmekaar oorlog gemaak het . Dit was hoe Josia gesterf het . Die koning van Egipte wou deur Juda trek om vir Assirië teen Babel te help . Josia wou hom keer. Dit het hom sy lewe gekos .
Vier jaar later het Nebukadnesar van Babel ’n groot oorwinning behaal . Hy het Egipte verslaan en beheer oor Juda gekry .
In hierdie tyd het Jeremia aangehou om God se boodskappe aan die volk oor te dra . Hy het hulle gewaarsku teen al die verskriklike dinge wat sou gebeur as hulle aanhou weier om God te dien .
Jeremia se woorde het geen verskil aan die mense se lewe gemaak nie . Hulle het net aangegaan om afgode te aanbid . Hulle het hulle nie aan Jeremia gesteur nie . Die mense was doof vir die woord van God en blind vir die ramp wat hulle binnekort sou tref .
Jeremia het sy boodskap met alledaagse prentjies aan die volk probeer oordra . Hy het eendag gaan kyk hoe die pottebakker werk . Terwyl die pottebakker se wiel al in die rondte gedraai het, het die pottebakker die klei gevorm . Partykeer het daar iewers iets skeefgeloop . Dan het die pottebakker die klei weer in ’n balletjie gerol en van voor af begin .
“Die volk Israel is soos klei in my hande,” het God vir Jeremia gesê, “net soos hierdie klei in die hand van die pottebakker. Ek het die reg om hulle te vernietig en oor te begin met hulle . En Ek sal as hulle nie na My luister nie . Hulle moet ophou om te doen wat verkeerd is . Hulle behoort self te weet wat hulle doen, is verkeerd . ”
Jeremia het God se boodskap vir die volk gaan gee, maar hulle wou nog altyd nie luister nie .
Op ’n dag het Jeremia voor die tempel gaan staan . “Luister na wat God vir julle sê: As julle nie na My luister nie en nie aan my opdragte gehoorsaam is nie, sal Ek die tempel vernietig . Ek sal die hele stad Jerusalem verwoes . ”
Dit was net te erg vir die priesters . Hulle het geweier dat Jeremia ooit weer naby die tempel kom . Hulle het hom gevange laat neem en laat slaan .
Maar niemand kan God se stem stil maak nie! Jeremia is nie meer toegelaat om God se boodskap in woorde oor te dra nie .
Maar niemand het gesê hy mag nie briewe skryf nie . Jeremia het ’n baie lang boekrol vol geskryf met sy boodskap . Iemand het dit vir die koning voorgelees . Jeremia se woorde het die koning so kwaad gemaak dat hy die boekrol stuk vir stuk afgeskeur en in die vuur gegooi het .
Selfs dit het nie gehelp nie . Jeremia het God se woorde net weer neergeskryf .
“God se woord is soos vuur,” het Jeremia gesê . “Julle sal dit nooit kan blus nie . Dit is soos ’n hamer wat die hardste rots aan stukke kan kap . ”
Die koning van Juda het geweier om belasting aan koning Nebukadnesar van Babel te betaal . Hy het in opstand gekom .
Dit het hom sy troon gekos .
Nebukadnesar se leër het na Jerusalem opgetrek en die koning na Babel weggeneem, saam met duisende en duisende ander gevangenes .
Onder hierdie gevangenes was ’n man met die naam Esegiël . *
Nebukadnesar het vir Sedekia koning gemaak . Hy was Juda se heel laaste koning . God se volk het nog altyd nie hulle les geleer uit alles wat met hulle gebeur het nie .
“God sê julle moet julle aan die Babiloniërs oorgee,” het Jeremia gesê, “anders sal hulle julle vernietig . Hou op om die nuttelose beelde te aanbid . Keer terug na die lewende God voordat dit te laat is . Die tyd is min . ”
Jeremia was die ongewildste man in Jerusalem . “Verraaier! Verraaier!” het hulle vir hom geskree . “Die vyand betaal jou om hierdie dinge vir ons te sê!”
Hulle het die profeet gegryp, geslaan en in die tronk gegooi .
Toe Sedekia tien jaar lank koning was, het hy in opstand gekom . Nebukadnesar het teruggekom en die stad Jerusalem omsingel .
* Sien bladsy 138 . Esegiël is toe al ’n paar jaar vroeër gevange geneem en na Babel geneem .
“Gee oor as julle julle lewe wil red,” het Jeremia gesê . “God gaan hierdie stad vir die Babiloniërs gee . ”
Die leiers van die stad was woedend . Hulle het vir Jeremia in ’n diep put gegooi en hom net daar gelos om van die honger dood te gaan . Daar was nie eens water in die put nie, net modder. Ebed-Melek, ’n man van Etiopië wat in die paleis gewerk het, het na die koning gegaan en hom gevra om Jeremia se lewe te red . Hy en drie ander mans het die profeet uit die put opgetrek .
Koning Sedekia het in die geheim met Jeremia gaan praat . “Wat moet ek doen?” het hy gevra .
“Gee oor, anders gaan die stad vernietig word,” was Jeremia se raad .
Die koning het nie na Jeremia geluister nie . Hy het probeer ontsnap om sy eie lewe te red . Die Babiloniërs het hom gevang . Hulle het sy twee seuns ook gevang en Sedekia se oë uitgesteek .
Toe het hulle deur die stadsmuur gebreek . Hulle het die paleis, God se tempel en al die huise aan die brand gesteek . Hulle het al die skatte uit die tempel gesteel en met hulle saamgeneem . Hulle het ook die mense van Jerusalem saam met hulle weggeneem na Babel om daar as slawe vir hulle te werk . Dit was dieselfde land waar God eeue vroeër vir Abraham geroep het om Hom te volg .
Jeremia het in Jerusalem agtergebly saam met ’n paar mense wat oor was . Al sy waarskuwings het op dowe ore geval . God het sy ongehoorsame volk gestraf, maar God was nog altyd lief vir hulle .
Jeremia het vir die ballinge in Babel ’n brief geskryf . “God sê: Ek belowe Ek sal julle eendag na julle land toe terugbring . Daar in die vreemde land sal julle leer om My lief te hê . Julle sal my opdragte leer ken en begin om daarvolgens te leef . Julle kan uitsien na die dag wanneer Ek julle uit die gevangenskap na julle eie land toe sal terugbring . ”
ESEGIËL
Esegiël het baie huis toe verlang . Hy het sy lewe lank uitgesien na sy dertigste verjaarsdag . Dan sou hy in die tempel kon gaan werk as God se priester.
Maar nou was Esegiël baie, baie kilometers ver van die tempel af . Hy was een van die gevangenes wat uit Juda na Babel weggevoer is toe Nebukadnesar die eerste keer die land Juda ingeneem het .
Vyf jaar het al verbygegaan sedert Esegiël uit sy land weggeneem is . Hoe ver is die tempel tog van hier af, het hy gedink . En God voel net so ver.
’n Skielike rukwind het Esegiël laat opkyk . Was daar ’n storm aan die broei? ’n Vreemde, donker wolk het vinnig nadergekom . Weerlig het geslaan . In die hart van die storm kon Esegiël drie
wesens sien . Hulle het gelyk soos die engele wat die ark met God se tien gebooie in die tempel opgepas het . Hulle het vlerke het aan mekaar geraak terwyl hulle gevlieg het . Daar was ook vreemde wiele wat in alle rigtings kon draai met oë wat in alle rigtings kon kyk .
Bokant die donker wolk kon Esegiël ’n baie helder blou ligglans sien . Deur hierdie ligglans het al die kleure van die reënboog geskyn .
Toe hoor Esegiël ’n stem en hierdie stem het die hele aarde laat bewe . Esegiël self het ook gebewe . Kon dit God wees wat met hom praat? Hier in die vreemde en ver land Babel?
“Mens,” het die stem gesê, “Ek stuur jou om my volk in gevangenskap te gaan waarsku . Hulle het teen My in opstand gekom en hulle het teen My gedraai . Sê vir hulle hulle moet verander. Ek sal vir jou die woorde gee wat jy vir hulle moet sê . ”
Skielik was die visioen weg . Esegiël het bewend teruggestap na sy blyplek toe . God was dan tog hier, en nie net in Juda nie . God was óral . En God het vir Esegiël ’n spesiale werk gegee, nie in die tempel nie, maar tussen die gevangenes .
Na hierdie eerste visioen het God vir Esegiël nog baie visioene
gewys . God het vir hom gewys hoe Nebukadnesar weer teen Juda sou kom oorlog maak om Jerusalem in te neem en die tempel af te breek .
Esegiël het vir sy mense van die visioene vertel, maar nie net met woorde nie . Hy het ook tekeninge gemaak en tonele uitgebeeld .
Só het Esegiël God se boodskap baie duidelik gemaak sodat niemand dit kon vergeet nie .
“Dit is ons eie skuld,” het hy gesê . “God het ons liefgehad . God was goed vir ons . Maar ons het sy reëls geïgnoreer en gedoen wat verkeerd is . Ons het nuttelose afgode aanbid . Nou word ons gestraf . ”
Uiteindelik het die nuus gekom dat Nebukadnesar Jerusalem ingeneem het . Hy het die stad en die tempel verwoes . God se mense het hoop verloor.
“Ons het geen toekoms nie,” het hulle gekla . “Daar is geen hoop vir ons nie . God het ons verlaat . ”
Esegiël het hulle probeer troos . “Dit is nie waar nie,” het hy gesê . “God het ons nog altyd lief . ”
Die volk was egter ontroosbaar.
Toe gee God vir Esegiël ’n spesiale nuwe visioen . Hy het in ’n vallei gestaan . Oral op die grond rondom hom het bene gelê, die droë bene van ou geraamtes .
“Sê vir die bene Ek sal hulle weer lewende mense maak,” het God gesê .
Esegiël het dit gedoen . Toe gebeur ’n wonderwerk . Die bene het begin beweeg . Vleis en senings het aan die bene verskyn . Die liggame het opgestaan . God het lewe in hulle geblaas met sy woorde .
“Sê vir my volk wat Ek kan doen,” het God vir Esegiël gesê . “Ek sal nuwe lewe in hulle blaas en hulle weer een volk maak . Ek sal hulle terugneem na hulle eie land . Hierdie keer sal hulle aan My getrou wees . Sê vir hulle Ek belowe dit . En hulle behoort te weet Ek hou altyd my beloftes . ”
Daniël was nog maar ’n jong seun toe koning Nebukadnesar hom as ’n gevangene uit sy huis in Jerusalem na Babel weggeneem het .
Kort nadat hulle in Babel aangekom het, is Daniël en sy vriende gekies om spesiaal opgelei te word om die koning te dien . Hulle almal was aantreklike jong mans en van goeie afkoms . Hulle was ook slim .
“Sit hulle vir drie jaar in my skool,” het die koning gesê . “Leer hulle ons taal praat . Leer hulle ons geskrifte lees . Hulle moet leer van al ons wyse mense . Ek sal vir hulle die heel beste kos en wyn voorsit . Ek wil hê hulle moet gesond en slim wees . ”
God het egter vir sy mense spesiale reëls gegee oor wat hulle kon eet en hulle wat nie kon eet nie . Daniël en sy vriende wou aan God se reëls gehoorsaam wees . Hulle wou nie van die koning se kos eet nie . Toe vra hulle hulle oppasser om hulle toe te laat om net groente te eet en water te drink .
“Ek kan in groot moeilikheid beland as julle maer of siek word,” het die oppasser gesê . “Maar doen dit vir tien dae, dan kyk ons hoe dit gaan . ”
Na tien dae was Daniël en sy vriende gesonder en sterker as al die jong mans wat die koning se kos geëet het . Hulle het ook goed gevaar in die skool . Daarom het die oppasser toegelaat dat hulle net groente eet en water drink .
Aan die einde van die drie jaar het Daniël en sy drie vriende die heel beste gevaar. Hulle het selfs meer geweet as die wyse mense van Babel . Die koning het hulle toe amptenare in sy paleis gemaak .
Een nag het die koning ’n nare droom gehad . Hy was baie bang toe hy wakker geword . Hy het sy wyse manne na hom toe laat kom .
“Ek gaan nie vir julle vertel wat ek gedroom het nie,” het hy vir hulle gesê . “Julle moet vir my vertel wat ek gedroom het . Én dan moet julle vir my sê wat die droom beteken . ”
Die wyse manne was baie benoud toe hulle dit hoor. Hulle kon maklik drome uitlê, maar dan moes hulle weet wat die droom was .
“As u tog net vir ons u droom sal vertel,” het hulle gevra, “sal ons dit vir u kan uitlê . ” Die koning het hom bloedig vererg .
“Ek sal julle laat doodmaak!” het hy geskree .
“Maar niemand kan doen wat u vra nie,” het hulle gekla .
Toe beveel die koning sy soldate om al die wyse manne in Babel dood te maak .
Hulle het vir Daniël ook laat haal . “Laat ek met die koning praat,” het hy gesê . “Ek sal vir hom vertel wat hy gedroom het . En God sal vir my sê wat sy droom beteken . ”
Daniël het sy vriende vertel wat gebeur het . Hulle almal het gebid dat God die droom en die betekenis daarvan aan Daniël sal openbaar. God het dit gedoen .
Die koning het respek vir Daniël se God gekry . “Jou God is sterker as alle ander gode as Hy sulke geheime kan openbaar,” het die koning gesê .
’n Paar jaar later het koning Nebukadnesar ’n groot goue standbeeld van een van sy gode laat maak . Dit was dertig meter hoog . Al die belangrike mense in die land het na die inwyding van die standbeeld gegaan, al die goewerneurs, raadgewers en regters . Die musikante was ook daar met hulle fluite, siters en harpe .
“Sodra die musiek begin speel, moet julle almal neerbuig en die standbeeld aanbid,” het die koning gesê . “Anders sal ek julle in die warmste vuuroond gooi om te verbrand . ”
Almal het gedoen wat die koning beveel het, behalwe Daniël se drie vriende . (Daniël self was nie toe daar nie .) Hulle het geweier om voor die beeld te buig .
“Ons God kan ons uit die vuur red,” het hulle dapper gesê . “Niks is vir Hom onmoontlik nie . En selfs al red ons God ons nie, sal ons nie voor hierdie beeld buig nie . Ons sal nie ’n ander god aanbid nie!”
Die koning was so woedend dat hy die brandende oond sewe keer warmer as gewoonlik laat maak het . Die drie vriende is vasgebind en in die oond gegooi .
Die koning het gestaan en kyk wat gebeur. Hy kon nie glo wat hy sien nie! In die oond was daar vier mans, nie net die drie nie . En hulle het rustig tussen die vlamme deur geloop . “Die vierde man lyk dan soos ’n hemelwese!” het die koning gesê .
“Kom uit!” het die koning geroep . Die drie vriende het uit die oond gestap . Hulle was nie meer vasgebind nie . En die vlamme het nie eens aan hulle klere geraak of hulle hare geskroei nie .
“Die God wat so iets kan doen, is beslis ’n groot God,” het die koning gesê . “Niemand mag ooit weer iets teen hierdie mans se God sê nie!”
Die jare het verbygegaan . Nebukadnesar het gesterf . Belsasar het die nuwe koning van Babel geword .
Eendag het Belsasar ’n groot fees vir sy duisende amptenare en die belangrike mense in die land gehou . Later het hy te veel wyn gedrink en hy wou met sy skatte spog .
“Bring vir my die goue en silwerbekers wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem saamgebring het,” het hy geroep . Die kelners het dit gaan haal en vir die koning gebring .
Die koning en die mense by die feesmaal het toe wyn gedrink tot eer van hulle eie gode – beelde van metaal, hout en klip – uit die bekers wat in God se tempel was .
Terwyl hulle nog so vrolik feesvier, het hulle skielik gesien hoe ’n hand in die lug verskyn . Die hand het iets teen die muur begin skryf . Die gaste het almal doodstil geword . Die koning was so wit soos ’n laken .
“Roep my wyse mane,” het hy bang gesê . “Die man wat vir my kan sê wat die woorde teen die muur beteken, sal my eerste minister word . ” Nie een van die wyse manne het die vaagste benul gehad wat die woorde teen die muur beteken het nie .
Toe onthou die koningin hoe Daniël vir koning Nebukadnesar gesê het wat sy droom beteken . Hulle het vir Daniël laat kom .
“Sê vir my wat daardie woorde beteken . Dan sal ek jou ’n ryk en magtige man maak,” het die koning vir Daniël belowe .
“Hou maar die geskenke,” het Daniël gesê . “My woorde sal u nie bly maak nie . U het God beledig deur tot eer van u gode te drink uit die bekers wat vir God se tempel bedoel was . God sê die dae van u koninkryk is getel . Dit sal aan die Mediërs en die Perse gegee word . ”
Daardie selfde nag is Belsasar doodgemaak . Die Mediërs en Perse het Babel verslaan en ingeneem . Hulle leier, Darius, het toe koning geword .
Die komplot teen Daniël
Darius het vir Daniël een van sy drie ministers gemaak . Daniël was nou al oud, maar hy het die koning opreg en getrou gedien .
Soos sy gewoonte nog altyd was, het Daniël drie keer per dag tot God gebid . Hy het by sy oop venster gaan kniel, in die rigting van Jerusalem gekyk en met God gepraat .
Die koning se ander leiers was jaloers op Daniël . Toe begin hulle planne maak om van hom ontslae te raak . Waarvan kon hulle hom aankla? het hulle gewonder. Daniël het nooit iets verkeerd gedoen nie . Hulle sou sy geloof in God moes gebruik om hom in die moeilikheid by die koning te laat beland .
Die leiers het toe die koning oortuig om ’n nuwe wet te maak, ’n wet wat nooit verander kon word nie .
“Vir dertig dae mag niemand enige ander god of mens behalwe vir u, die koning, aanbid nie . Elkeen wat hierdie wet verbreek, moet vir die leeus gegooi word . ”
Daniël het geweet die koning het hierdie wet gemaak, maar hy het aangehou om tot God te bid .
Daniël se vyande was verheug . Hulle plan het gewerk . Haastig het hulle na die koning toe gedraf .
Darius was baie ontsteld en kwaad . Hoe hard hy ook al gedink het, hy kon net nie ’n plan uitdink om Daniël se lewe te red nie .
Daardie aand is Daniël in die leeukuil gegooi, tussen die brullende, honger leeus .
Die koning kon nie eens sy aandete eet nie, so ontsteld was hy . Hy het sy musikante weggestuur. Hy het daardie nag nie ’n oog toegemaak nie . Met die eerste daglig is hy haastig na die leeukuil toe .
“Daniël!” het hy geroep . “Kon jou God jou uit die kake van die leeus red?” Die koning het nie ’n antwoord verwag nie . Maar tot sy verbasing het hy Daniël se stem gehoor.
“Ja, U Majesteit . Die leeus het my nie seergemaak nie . God het geweet ek is onskuldig . Ek het u geen kwaad aangedoen nie . ”
“Laat hom dadelik vry,” het Darius beveel . “En gooi die mans wat vir Daniël aangekla het vir die leeus!”
Daniël is gered omdat hy op God vertrou het . Toe het koning Darius ’n nuwe wet gemaak .
“Laat almal in my koninkryk respek hê vir die God van Daniël . Hy het vir Daniël in die leeukuil gered . Hy is die lewende God, vir ewig en altyd . ”
’n Nuwe koning het in Babel op die troon gesit . Sy naam was Kores en hy was ’n goeie man . Op ’n dag het koning Kores ’n belangrike aankondiging gemaak .
“God het gesê ek moet sy volk, die Jode*, laat huis toe gaan . Hulle moet sy tempel in Jerusalem gaan herbou . Hulle is nou vry om te gaan . Ek sal al die tempelskatte wat Nebukadnesar gesteel het toe hy die tempel verwoes het, vir hulle teruggee . ”
Die strate van Babel het weerklink van die Jode se blydskap en gejubel en gejuig .
“Die gevangenskap is verby! God het sy beloftes gehou . Ons is vry . Ons kan huis toe gaan!”
God se volk het daarna uitgesien om Hom weer in hulle eie land te aanbid . Die jare in die vreemde land het hulle baie verander. Hulle het geleer om God lief te hê en Hom te gehoorsaam .
Meer as 42 000 mense het deur die woestyn getrek, saam met al hulle dienaars . Hulle perde, muile en kamele was swaar gelaai met besittings en kos vir die lang reis .
Toe hulle uiteindelik in Jerusalem aankom, wou hulle heel eerste God se tempel begin bou . Geskenke van goud en silwer om die tempel te bou het ingestroom . Die mense het die tempel se fondament met groot blydskap gelê . Die mense wat in die land gewoon het terwyl die Jode in ballingskap was, het aangebied om hulle te help .
“Ons aanbid ook vir God,” het hulle gesê . Die Jode wou egter alles self doen .
Toe begin die mense van die land die lewe vir hulle moeilik maak . Lank het die Jode heeltemal ophou werk aan die tempel . Totdat God se profete met hulle gepraat het .
* Hulle is Jode genoem omdat hulle uit Juda gekom het .
“Julle behoort julle te skaam,” het hulle gesê . “Julle bou vir julle huise, maar God se tempel is nog ver van klaar af . ”
Toe het die Jode verder aan die tempel begin bou . Uiteindelik was die tempel klaar. Dit was nie so pragtig soos Salomo se tempel nie, maar dit was vir hulle baie mooi .
Esra, die geleerde
Die jare het verbygegaan . In Babel was daar ’n man met die naam Esra . Hy het God gedien en God se wet goed geken . Esra was baie bekommerd oor die Jode in Juda . Hy het die koning van Babel gevra of hy kon teruggaan om hulle te leer hoe God wil hê hulle moet leef .
Die koning het groot respek vir Esra gehad . “Jy mag gaan,” het die koning gesê . “Neem almal wat saam met jou wil gaan gerus saam . Ek sal ook vir jou goud en silwer gee vir die tempel van God en vir jou ander behoeftes sorg . ”
God het die koning se hart sag gemaak, het Esra gedink . Die reis is gevaarlik . Daar sal rowers langs die pad wees . Maar God sal ons beskerm . Ek sal nie vir die koning nog soldate ook vra nie .
En God het hulle beskerm .
In Jerusalem was daar baie dinge wat verkeerd was . Die mans het met vreemde vrouens getrou . Die vrouens het hulle eie gode
saamgebring . Dit het al probleme veroorsaak nog voordat God se mense na Babel weggevoer is .
“Julle het julle belofte aan God verbreek,” het Esra gesê . “Julle moet van al die verkeerde dinge in julle lewe ontslae raak . ” Esra het die mense geleer hoe om te leef soos God van hulle vra .
Die Jode het God se tempel herbou, maar die stad het nog in puin gelê . Die mure was afgebreek en het om gelê .
Toe Nehemia hierdie nuus hoor waar hy in die koninklike paleis in Persië gewerk het, het hy gehuil .
Nehemia was ’n belangrike man in die koning se paleis . Hy was in beheer van die koning se wyn . Nehemia was ’n Jood en hy was baie lief vir God . Hy was ook lief vir sy mense . Dae lank het Nehemia nie geëet nie . Hy het sonder ophou tot God gebid . Die hartseer was op sy gesig te sien, en die koning het agtergekom iets pla vir Nehemia .
“Wat makeer?” het hy gevra .
“U Majesteit, Jerusalem lê in puin,” het Nehemia geantwoord . In sy hart het hy gebid dat die koning hom sou help . “Laat my tog teruggaan daarheen om die mense te help om die stad te herbou . ”
God het Nehemia se gebed verhoor. Die koning het hom laat gaan . Hy het ook aan die goewerneurs van al sy provinsies die opdrag gegee om toe te sien dat Nehemia veilig reis . Hulle moes hom help met alles wat hy sou nodig hê .
Toe Nehemia in Jerusalem aankom, het hy gewag totdat dit donker was . Toe het hy reg rondom die stad gery om te kyk hoe die mure lyk . Die volgende dag het hy met die priesters, die leiers en die hele volk gepraat .
“Hierdie mure wat so om lê, is ’n skande,” het Nehemia gesê . “Kom ons bou die mure weer op . God sal ons help . ” Hy het ook vir hulle vertel hoe God sy gebed verhoor het en hoe die Persiese koning hom laat terugkom het na Jerusalem .
Nehemia het geweet hoe om te bid, en hy het geweet hoe om hard te werk . Hy is aangestel as die goewerneur van Juda . Gou het Nehemia alles onder beheer gehad . Elke familie het gewerk aan die stuk muur reg voor hulle huis .
Die mense was opgewonde . Hulle wou ’n ordentlike muur om die stad bou . Maar die ander mense in die land was bang . Hulle wou nie hê Jerusalem moes weer ’n sterk stad met dik mure word nie .
Hulle wou die Jode keer om aan die muur te werk .
Hulle het met die Jode begin spot . “Wat vir ’n ou muurtjie dink julle kan julle nou bou?” het hulle gevra . “Selfs ’n jakkals sal dit kan omspring!”
Die Jode het net aangehou bou . Toe beplan hulle vyande ’n aanval op hulle . Nehemia het gebid dat God hulle sou help . En hy het die mans beurte laat maak om wag te staan . Terwyl die een helfte van die mense gewerk het, het die ander wag gestaan, gereed met hulle wapens .
Toe probeer die vyand ’n ander skelmstreek . “Ons wil met julle onderhandel,” het hulle gesê .
“Ons werk is te belangrik . Ons het nie tyd vir praatjies nie!” was Nehemia se antwoord .
Daarna het hulle gedreig om vir die koning te vertel dat Nehemia ’n opstand beplan . Maar Nehemia het nie vir hulle geskrik nie . Met God se hulp het hulle die muur binne 52 dae klaar gebou .
Jerusalem was weer ’n sterk stad met ’n sterk muur.
Die Jode het ’n groot fees gehou toe die muur klaar was . Hulle het bo-op die muur reg rondom die stad geloop . Die hele tyd het hulle vir God dankie gesê deur vir Hom lofliedjies te sing . Die priesters het op hulle ramshorings geblaas . Die musikante het op hulle instrumente gespeel . Almal was so bly .
Esra, die geleerde, het vir die mense uit God se wetboek voorgelees . Wanneer hulle iets nie verstaan het nie, het hy dit vir hulle verduidelik . Die mense het God gevra om hulle te vergewe . Hulle het belowe om God lief te hê en aan Hom gehoorsaam te wees .
Goewerneur Nehemia en Esra, die geleerde, het God se volk gelei en hulle geleer hoe om te doen wat reg is .
Koning Ahasveros van Persië het ’n groot fees gehou vir al die belangrike mense in sy hoofstad, Susan . Die fees is in die paleis se tuin gehou . Sewe dae lank het hulle feesgevier. Die wyn is in goue bekers bedien en almal kon drink net soveel soos hulle wou .
In die paleis het koningin Vasti ook ’n fees vir die vroue gehou . Op die sewende dag, toe die koning al baie vrolik gevoel het, het hy besluit om voor al die gaste met sy beeldskone koningin te spog . Maar die koningin het geweier om te gaan . Sy het die koning se opdrag geïgnoreer, voor al die gaste .
Koning Ahasveros was woedend . Hy het sy raadgewers laat kom . “As die ander vrouens hiervan hoor,” het hulle gesê, “sal elke vrou in Persië dink sy kan aan haar man ongehoorsaam wees . ”
Die koning kon net een ding doen . “Stuur koningin Vasti weg,” het die koning beveel . “Ek wil ’n nuwe koningin hê . ”
Die koning se amptenare het dadelik na ’n nuwe koningin begin soek . Al die mooiste meisies in Persië is na die paleis toe gebring . Hulle het ’n jaar in die koning se paleis gebly . Hulle het spesiale kos geëet . Elke dag is hulle ingevryf met olies wat lekker ruik .
Die koning het al die meisies een vir een na hom toe laat kom . Die heel mooiste meisie se naam was Ester. Sy was die aangenome dogter van die Jood, Mordegai . Almal was lief vir Ester. Toe die koning haar sien, het hy haar as sy nuwe koningin gekies .
Eendag het Mordegai gehoor van ’n plan om die koning dood te maak . Hy het vir Ester daarvan vertel . Ester het weer vir die koning daarvan vertel . Die koning was baie dankbaar dat sy lewe gered is . Hy het Mordegai se naam in sy paleisverslag laat neerskryf .
Later het ’n wrede en verwaande man met die naam Haman die koning se hoofamptenaar geword . Almal moes voor hom buig . Maar Mordegai het geweier. “Ek is ’n Jood,” het hy gesê . “Ek buig net voor my God . ”
Dit het Haman so kwaad gemaak dat hy vir Mordegai en al die ander Jode wou doodmaak . Hy het na die koning toe gegaan . “In u koninkryk,” het hy vir die koning gesê, “is daar ’n volk wat weier om aan u wette gehoorsaam te wees . Laat my toe om hulle uit te wis . ”
Die koning het vir Haman sy seëlring gegee . Haman kon toe aan die goewerneurs in al die provinsies opdragte stuur en dit met die koning se ring verseël . Haman het almal beveel om al die Jode op ’n sekere dag van die jaar dood te maak .
Niemand by die paleis het geweet Ester is deel van die Joodse volk nie . Mordegai en die ander Jode het hulle klere geskeur. Hulle het geen kos geëet nie . Hulle het hard gehuil .
“Wat gaan aan?” het Ester gevra . Toe vertel Mordegai vir haar van Haman se plan .
“Gaan na die koning toe,” het Mordegai vir Ester gevra . “Pleit by hom om ons volk se lewe te spaar.”
“Dit is nou al ’n maand vandat die koning my laas na hom toe laat kom het,” het Ester geantwoord . “As ek na hom toe gaan sonder dat hy my laat roep het, kan dit my lewe kos . ”
“Dalk het God jou juis die koningin van Persië gemaak om ons almal te red,” het Mordegai vir haar gesê . “Niemand anders kan die koning gaan vra om ons lewe te spaar nie . ”
Dapper het Ester na die koning toe gegaan . Haman was ook daar. Die koning was bly om Ester te sien . Ester het gewag vir die regte oomblik, toe nooi sy hulle al twee om daardie aand by haar te kom eet . Die ete het baie goed afgeloop .
“Kom môreaand weer,” het sy die koning en Haman genooi .
Haman het gevlei gevoel . Stel jou voor, ’n ete saam met die koning en die koningin! Dit was net die gedagte aan Mordegai wat Haman se lewe versuur het . Toe gee hy sy amptenare die
opdrag om ’n hoë galg te bou .
Haman wou die volgende dag vir Mordegai daaraan ophang .
Daardie nag kon die koning nie slaap nie . Hy het lank wakker gelê .
Later het hy begin om die paleisverslag te lees, net om die tyd om te kry . En daar lees hy Mordegai se naam .
Ek moet hierdie man nog beloon, het die koning gedink . So het dit gekom dat die koning die volgende dag vir Mordegai voor al die mense van die stad vereer het omdat hy sy lewe gered het .
Daardie aand by die ete het die koning hom aan sy koningin se skoonheid verwonder. “Ek sal vir jou gee wat jy ook al vra,” het die koning vir haar gesê .
“Ek en al my mense gaan doodgemaak word,” het Ester vir die koning gesê . “Ek vra dat u my lewe en die lewe van my mense sal spaar.”
Die koning het bleek geword . “Wie het hierdie bose plan uitgedink?” het hy kwaad gevra .
“Haman,” was haar antwoord .
“Hy het ook ’n galg vir Mordegai laat bou,” het een van die koning se dienaars bygevoeg .
“Hang hom aan sy eie galg op!” het die koning beveel . Hulle het dit gedoen .
Só het Ester die lewe van al haar mense gered . En die koning het Mordegai sy nuwe hoofamptenaar gemaak .
God se profete, die mense wat Hy met sy boodskappe na sy mense toe gestuur het, het gewoonlik gedoen wat God van hulle gevra het . Maar daar was een uitsondering: Jona .
God het met Jona gepraat .
“Gaan Nineve toe,” het God vir hom gesê . “Sê vir die mense daar Ek weet van alles wat hulle doen wat verkeerd is . Binne veertig dae gaan Ek hulle stad vernietig . ”
Nineve was die hoofstad van Assirië, die groot vyand van God se volk . Jona het nie omgegee om vir die mense te gaan vertel dat God hulle wou vernietig nie . Maar God is so vol liefde, het Jona gedink . Hy vergewe altyd mense en gee hulle nog ’n kans . God sal nie vir Nineve vernietig nie . En hoe verspot sal ek dan lyk!
Jona het toe vertrek, maar nie na Nineve nie . Hy is
Joppe toe . Daar het hy op ’n skip na Tarsis in Spanje geklim .
Die skip was skaars op die oop see toe God ’n vreeslike storm stuur. Die kaptein en die matrose was doodbang .
“Julle elkeen moet tot julle god bid,” het hulle geroep .
Jona was vas aan die slaap . Die kaptein het hom gaan wakker skud . “Bid tot jou God, net soos al die ander,” het hy beveel .
“Ek kan nie my God se hulp vra nie,” het Jona erken . “Ek hardloop vir Hom weg . Dit is my God wat hierdie storm gestuur het . Gooi my in die see, dan sal die storm bedaar.”
Die kaptein wou dit eers nie doen nie . Maar toe word die storm al erger. Uiteindelik het hy gemaak soos Jona gesê het .
Die oomblik toe Jona in die water wegsink, het die storm bedaar. Op die skip het die matrose vir Jona se God dankie gesê en Hom geloof .
Jona het gedink hy gaan verdrink . Hy het na God geroep om hom te help . Toe stuur God ’n groot vis om vir Jona in te sluk .
Drie dae was Jona alleen daar in die donker ingewande van die vis . Jona was baie jammer omdat hy so ongehoorsaam was . Hy het dit vir God gesê .
Toe gee God aan die vis die opdrag om vir Jona op die strand uit te spoeg . Jona was nog nooit so bly om weer die son te sien nie!
Hy het reguit Nineve toe gegaan en God se boodskap aan die mense daar verkondig . “Binne veertig dae sal Nineve vernietig word!”
Die mense van Nineve het Jona se boodskap geglo . Hulle almal het dadelik hulle lewe verander, van die nederigste slaaf tot by die koning . God was baie bly daaroor. Omdat hulle na Hom geluister het, het God nie die stad vernietig nie .
Jona het buite die stad gaan sit . Hy was kwaad en moedeloos .
“Het ek nie gesê U gaan dit doen nie?” het Jona met God geraas . “Ek het geweet hoe goed U is! Laat my tog nou maar net doodgaan!”
God het Jona nie laat doodgaan nie . Hy het oornag ’n plant laat opkom om vir Jona daar in die skroeiende sonskyn skaduwee te gee . Toe het Jona beter gevoel . Maar die volgende dag was die plant dood . Die son het weer op Jona neergebrand .
“Ek was bly oor daardie plant,” het Jona gekla . “Ek is jammer dat dit nou weg is . ”
“Verstaan jy nou?” het God vir Jona gevra .
“Jy is jammer oor ’n plant waarvoor jy niks gedoen het nie . Jy het dit nie laat groei nie . Het Ek dan nie die reg om jammer te wees vir Nineve met al sy mense en onskuldige kinders nie? Om nie eens van al die diere te praat nie! Ek het vir hulle die lewe gegee en Ek het hulle met groot moeite versorg . ”
Jona het uiteindelik begin verstaan .
Nadat God se volk uit die gevangenskap teruggekeer het, het honderde jare verbygegaan . Die Romeine het gekom en die land oorgeneem .
Oral was daar Romeinse soldate .
Die mense moes aan Rome belasting betaal . Hulle het dit gehaat en gewens hulle kon vry wees .
Die profete het belowe dat God eendag sy eie Koning, die Messias, sou stuur.
Hy sal die Romeine verdryf en ons vrymaak, het die volk gedink .
Maar dit was nie wat die profete bedoel het nie . Toe God se Koning kom, het die meeste mense Hom nie herken nie .
Só het dit begin …
LUKAS 2:26-38
In die dorp Nasaret, in die streek Galilea in die noorde van Israel, het ’n meisie met die naam Maria gewoon . Sy was ’n doodgewone meisie . Sy het haar ma gehelp om brood te bak en wol te spin en water te gaan haal . Toe sy oud genoeg was, het haar ouers gereël dat sy met Josef, die dorp se timmerman, trou . Maar op ’n dag het daar iets baie buitengewoon gebeur.
Maria was, soos gewoonlik, besig met alles wat sy die dag moes doen . Sy het gedink aan haar troudag wat al nader kom . Skielik het sy opgekyk . ’n Vreemde man het voor haar gestaan . Voordat sy iets kon sê, het die man gepraat .
“My naam is Gabriël en ek is ’n engel van God,” het hy gesê . “Ek het ’n boodskap vir jou . ”
Maria kon haar ore nie glo nie . Sy was bang . Sy het gewonder wat die engel bedoel .
“Moenie bang wees nie,” het die engel gesê . “God ken jou en God is lief vir jou . Hy het my gestuur om vir jou te sê Hy het jou vir ’n baie besonderse taak gekies het . Jy gaan die ma van God se beloofde Koning word . Die baba sal God se eie Seun wees . ”
“Ek verstaan nie,” het Maria gesê . “Ek is dan nog nie getroud nie …” In haar kop het baie vrae gemaal .
“Dit is iets wat God sal doen . Niks is vir Hom onmoontlik nie .
’n Familielid van jou, Elisabet, verwag ook ’n baba . En almal het gedink sy sal nooit kinders hê nie . Sien jy? Daar is niks wat God nie kan doen nie . ”
Toe Maria dit hoor, het sy besef sy kan op God vertrou om te doen wat Hy belowe het . Dit was nie nodig dat sy alles moes verstaan nie .
“Ek sal doen wat God vra,” het sy gesê .
LUKAS 1:5-25, 2:39-80
“Sy
So gou as wat sy kon, het Maria vertrek om by Elisabet te gaan kuier. Dit was ’n lang reis, maar uiteindelik het Maria aangekom by die huis waar Elisabet en haar man, Sagaria, gewoon het .
“Toe ek die nuus hoor, moes ek net na jou toe kom,” het Maria gesê . Sy het vir Elisabet alles vertel wat met haar gebeur het . Tot haar verbasing het Elisabet reeds daarvan geweet .
“Dit is wonderlik,” het Elisabet gesê, “dat God jou as die ma van sy Koning gekies het . ”
En toe vertel sy vir Maria haar verstommende verhaal …
Elisabet en Sagaria wou baie graag ’n baba hê . Jare lank het hulle vir God vir ’n kindjie gevra . Die jare het verbygegaan, maar nog altyd het hulle nie kinders gehad nie . Hulle het oud geword en hoop verloor.
Sagaria was ’n priester. Toe dit eendag sy beurt was om die wierook op die altaar in die tempel in Jerusalem aan die brand te steek, het iets spesiaal met hom gebeur.
Terwyl hy daar alleen was, het God se boodskapper-engel
Gabriël ook na hom toe gekom .
“Moenie bang wees nie, Sagaria,” het hy gesê . “God het my gestuur om vir jou te sê Hy het jou gebede verhoor. Jy en Elisabet sal ’n seun hê . Julle moet hom Johannes noem . Hy sal julle baie gelukkig maak . En Johannes sal ’n belangrike man wees . God het julle seun gekies om vir sy volk te vertel dat hulle Koning se koms naby is . Johannes sal hulle help om gereed te wees om die Koning te verwelkom . ”
Sagaria kon dit nie glo nie . Hy en Elisabet was te oud om ’n baba te hê!
“Omdat jy nie vir God wil glo nie,” het die engel gesê, “sal jy van vandag af nie ’n woord kan praat nie, totdat die belofte waar geword het . ”
Nadat Sagaria klaar was met sy werk in die tempel is hy huis toe . Hy kon glad nie praat nie . Elisabet kon nie verstaan wat met hom gebeur het nie . Sy was baie bekommerd . Toe skryf Sagaria alles neer om vir haar te verduidelik .
“God het sy belofte gehou,” het Elisabet vir Maria gesê . “Die baba behoort oor vier maande gebore te word . Maar Sagaria kan nog altyd nie praat nie . ”
Maria het drie maande by Elisabet en Sagaria gebly . Net voor hulle baba se geboorte is sy terug na haar huis in Nasaret .
Elisabet het aan ’n seun geboorte gegee . Hulle familie en vriende was saam met hulle bly . Almal het gedink hulle sal die seun
Sagaria noem omdat dit sy pa se naam is . Maar Elisabet het volgehou sy naam moet Johannes wees .
“Maar niemand in julle familie het die naam Johannes nie!” het die mense beswaar gemaak . Toe vra hulle vir Sagaria watter naam hy vir die baba wou gee .
Sagaria het sy skryfbord geneem . Tot hulle verbasing het hy geskryf:
“Sy naam is Johannes . ”
Op daardie oomblik het Sagaria sy stem teruggekry . Hy kon weer praat . En heel eerste het Sagaria vir God ’n loflied gesing om vir Hom dankie te sê vir sy seun .
MATTEUS 1:18-25; LUKAS 2:1-20
Josef, die timmerman, was baie bekommerd . Maria, die meisie vir wie hy lief was, het ’n baba verwag . Dit was nie sy kind nie, en hulle was nie getroud nie . Die mense het al klaar begin skinder. Josef het gedink hy sal die verlowing moet verbreek .
Maar daardie nag het Josef gedroom . In die droom het God se engel vir hom ’n boodskap gebring .
“Moenie jou verlowing aan Maria verbreek nie,” het die engel gesê . “Sy het niks verkeerd gedoen nie . God het haar gekies om die ma van sy Seun, die beloofde Koning, te wees . Julle moet die baba Jesus noem . Hierdie Naam beteken Verlosser. Dit is Hy wat die mense van hulle sondes sal verlos . ”
Josef het wakker geword . Hy het baie verlig gevoel . Dit het nie meer saak gemaak wat die mense sê nie . Hy sou met Maria trou . Hy sou vir haar en die Baba sorg .
Kort daarna het Augustus, die Romeinse keiser, beveel dat almal in die Romeinse Ryk getel moes word . Daarvoor moes hulle teruggaan na die dorp of stad waar hulle families vandaan gekom het . Augustus wou seker maak dat almal getel word en hulle belasting aan Rome betaal .
Josef het uit die familie van koning Dawid gekom . Daarom moes hy na Betlehem gaan, die stad waar koning Dawid gebore is . Josef moes vir Maria saamneem op hierdie baie lang reis suidwaarts deur die heuwels . Hulle moes amper 130 kilometer oor die slegte grondpaaie loop . ’n Donkie het hulle kos gedra, saam met warm klere vir die koue nagte . Hulle het ook klere vir die Baba saamgeneem, want Hy sou enige dag gebore word .
Maria was baie, baie moeg toe hulle uiteindelik in Betlehem aankom . En nêrens kon hulle ’n plek kry waar hulle kon bly nie . Die herberg was oorvol omdat daar so baie reisigers in die stad was . Die eienaar van die herberg het jammer gevoel vir Maria . Die enigste blyplek wat hy vir hulle kon gee, was sy stal . Dit het nie lekker geruik nie . Dit was ook nie baie skoon nie, maar daar tussen die diere kon Maria rus . En daar was geen ander plek nie .
Daardie nag is Maria se Seun gebore . Sy het Hom styf en warm toegedraai in doeke . Toe het Maria Hom neergelê in die diere se voerbak sodat Hy kon slaap .
In die oop veld rondom Betlehem het skaapwagters hulle skape opgepas . Die nag was donker en alles was stil . Die enigste geluid was ’n skaap wat nou en dan saggies geblêr het .
Skielik was daar ’n helder lig, so helder dat die skaapwagters hulle oë moes toeknyp . Uit die helder lig het die stem van God
se engel gekom . Die engel het vir die skaapwagters ’n boodskap gebring .
“Moenie bang wees nie . Ek bring vir julle goeie nuus . Vir julle en vir die hele wêreld . God se beloofde Koning, die Verlosser, is vandag hier in Betlehem gebore . Julle sal die Kindjie kry waar Hy in ’n stal in ’n voerbak lê . ”
Skielik was daar ’n menigte engele by die skaapwagters . Hulle het God geprys .
“Eer aan God in die hoogste hemel,” het hulle gesing . “En vrede op aarde vir al die mense vir wie God lief is . ”
Toe die engele weg was, het die lug weer donker geword . Die skaapwagters het na mekaar gekyk .
“Ons moet Betlehem toe gaan,” het hulle vir mekaar gesê . “Ons moet self gaan kyk wat gebeur het . ”
Hulle het seker gemaak hulle skape is veilig . Toe draf-stap hulle haastig tot in die stad . Daar het hulle vir Josef en Maria in die stal gekry, saam met hulle pasgebore Baba wat in die voerbak lê . Net soos die engele gesê het . Die skaapwagters het toe geweet die engele het die waarheid gepraat .
Die herders het vir Maria en Josef vertel wat met hulle gebeur het . Toe het hulle teruggestap na hulle skape toe . Maar langs die pad het hulle vir almal wat hulle teëgekom het, vertel van die engele se boodskap en die Baba in die stal . Die herders het gesing terwyl hulle gestap het . Hulle het vir God dankie gesê vir alles wat hulle gesien het . Dit was ’n nag wat hulle nooit sou vergeet nie .
Toe Maria se Baba agt dae oud was, het Hy die Naam Jesus gekry . Kort daarna moes
Josef en Maria, soos die Joodse wet vir hulle voorgeskryf het, hulle Seun by die tempel in Jerusalem aan God gaan toewy .
In die stad was daar ’n goeie man met die naam
Simeon . Simeon was al oud, maar God het aan hom belowe dat hy die Koning sou sien voordat hy sterf .
Simeon was in die tempel toe Josef en Maria met Jesus daar aankom . Hy het die baba in sy arms geneem en vir God dankie gesê .
“God het sy belofte gehou,” het Simeon gesê . “Nou kan ek maar sterf . Ek het die Verlosser gesien . ”
Anna was ook daardie dag in die tempel . Sy het ook die Baba gesien en vir God dankie gesê . Anna was al 84 jaar oud . Sy was altyd in die tempel, besig om met God te praat en vir Hom dankie te sê . Anna het vir almal in die stad gaan vertel dat die Koning op wie hulle so lank gewag het, gebore is .
Maria en Josef was verbaas oor alles wat gebeur het . Hulle het teruggegaan Betlehem toe . Nie lank daarna nie, het nog iets verbasend gebeur.
Vreemdelinge uit die ooste het in Jerusalem aangekom . Hulle het die sterre bestudeer en hulle het ’n baie groot en helder ster gesien . Hulle het die ster gevolg .
“Sê vir ons waar ons die Baba kan vind wat as die koning van die Jode gebore is,” het hulle gesê . “Ons het sy ster gesien en ons wil aan Hom geskenke gee . ”
Die hele stad was gou aan die gons oor die sterrekykers en hulle vreemde vraag . Wat kon dit tog beteken?
Die Romeine het ’n man met die naam Herodes koning van die Jode gemaak . Hy was baie ontsteld toe hy die nuus hoor dat daar ’n koning van die Jode gebore is . Herodes wou nie hê enigiemand anders moes koning wees nie . Hy het die priesters en die geleerde mense na hom toe laat kom .
“Wat staan geskryf?” het Herodes gevra . “Wanneer die Verlosser kom, waar sal Hy gebore word?”
“In Betlehem,” het hulle geantwoord . “Dit is wat God se profete gesê het . ”
Koning Herodes het die sterrekykers in die geheim ontmoet om uit te vind wanneer hulle die ster vir die eerste keer gesien het .
“Gaan soek die Kind in Betlehem,” het hy gesê . “En wanneer julle Hom kry, kom vertel vir my . Ek wil ook aan Hom gaan eer bewys . ”
Die vreemdelinge het die ster die hele pad na Betlehem gevolg . Daar het hulle die baba in die stal gekry, by sy ma, Maria . Hulle het hulle sakke oopgemaak en hulle geskenke uitgehaal .
Dit was vreemde maar kosbare geskenke om vir ’n baba te gee: goud, wierook wat lekker geruik het en mirre, ’n salf wat van kruie gemaak is .
God het die sterrekykers in ’n droom gewaarsku om nie na koning Herodes terug te gaan nie . Hulle het toe met ’n ander pad huis toe gereis .
Nadat hulle weg is, het ’n engel in ’n droom na Josef toe gekom .
“Staan gou op,” het die engel gesê . “Jy moet met Maria en die Baba Egipte toe vlug . Nou dadelik . Dit is nie veilig vir julle in Betlehem nie . Koning Herodes sal vir Jesus soek . Hy wil Hom doodmaak . Bly in Egipte totdat ek vir julle sê dit is veilig om terug te kom . ”
Josef het dadelik vir Maria wakker gemaak . Vinnig het hulle alles ingepak wat hulle sou nodig kry . Dit was nog donker toe hulle die stofpad suide toe vat, deur die woestyn tot in Egipte, die land waar ’n ander Josef lank, lank gelede die lewe van sy familie gered het .
Herodes was woedend toe hy besef die sterrekykers het hom bedrieg . Hy was ’n wrede man met baie vyande . Herodes was altyd bang iemand sou hom doodmaak en die troon by hom afvat . Daarom was Herodes vasberade dat die Baba wat as koning gebore is nie sou grootword nie . Hy het sy soldate
Betlehem toe gestuur. Hulle het die opdrag gekry om al die seuntjies jonger as twee jaar oud dood te maak . Herodes wou nie ’n kans waag nie .
Niemand in Betlehem sou ooit vergeet wat daardie verskriklike nag gebeur het nie . Die mense het Herodes meer as ooit gehaat .
Kort hierna is koning Herodes oorlede . Die engel het weer in ’n droom met Josef gepraat en vir hom gesê dit is veilig om huis toe te gaan . Josef, Maria en Jesus is toe terug na Nasaret .
Maria het nooit vir Simeon en Anna, die skaapwagters en die sterrekykers vergeet nie . Sy het baie teruggedink aan al die wonderlike dinge wat met Jesus se geboorte gebeur het .
Die jare het verbygegaan . Jesus het grootgeword . Hy was sterk en slim . God het Hom liefgehad en die mense wat Hom geken het, was ook lief vir Jesus .
Josef en Maria het elke jaar na Jerusalem gereis om die paasfees te vier. (Met die paasfees het elke Joodse familie ’n lam geslag en ’n spesiale ete geëet om hulle te herinner aan hoe God sy mense uit die slawerny in Egipte gered het .) Toe Jesus twaalf was, het Hy saam met Josef en Maria gegaan . Hulle het saam met al die ander vrolike feesgangers by die stad ingestroom .
Die opwindende feestyd was gou verby . Dit was tyd om huis toe te gaan . Maria en Josef het vertrek saam met die groep mense wat na Nasaret gereis het .
Die seuns het altyd vooruit gehardloop of agterna gedrentel . Maria en Josef het eers teen die aand agtergekom Jesus was nie by hulle nie . Nie een van hulle vriende het Hom gesien nie . Maria en Josef was heeltemal te bekommerd om daardie nag te slaap . Die volgende oggend is hulle terug Jerusalem toe om na Jesus te soek . Drie dae het verbygegaan voordat hulle Hom gekry het . In die tempel .
Daar het Hy geluister na die geleerde mense en vir hulle vrae gevra . Almal was verbaas oor hoe baie dinge Hy geweet het .
“Hoekom het jy dit aan ons gedoen?” het Maria vir Jesus gevra . “Ek en jou pa was so bekommerd oor jou!”
Dit het gelyk of Jesus verbaas was oor haar vraag . “Julle moes tog geweet het Ek sal hier wees, in my Vader se huis,” het Hy geantwoord .
Maria en Josef was verwonderd oor Jesus se antwoord . Hulle het nie daaraan gedink dat Jesus nie ’n gewone seun was nie, dat God sy Vader was .
Hulle is terug Nasaret toe . En Jesus was, soos altyd, aan sy ouers gehoorsaam .
Sagaria het sy seun, Johannes, gehelp om God se reëls vir die lewe en die woorde van die profete te ken en te verstaan . Johannes is van die begin af toegerus vir die werk waarvoor God hom gekies het .
Johannes het ouer geword en in die woestyn gaan woon . Hy het klere gedra wat van kameelhaar gemaak is . Om sy middellyf het hy ’n leergordel gedra . Hy het van sprinkane en wilde heuning geleef .
Daar in die woestyn het God vir Johannes sy boodskap gegee . Later het hy God se boodskap aan die mense begin verkondig en hy het hulle geleer hoe hulle moes leef . Groot skares mense het kom luister na hierdie man wat met soveel gesag gepraat het .
“God se Koning kom binnekort,” het Johannes gesê . “Maak seker dat julle gereed is . Verander julle lewe, dan sal God julle vergewe . ”
Johannes was nie bang om te sê wat hy geglo het nie . Hy het vir die mense vertel wat hulle verkeerd doen en baie mense het hulle lewe verander en na die Here toe teruggedraai . Johannes het hulle in die Jordaan gedoop as ’n teken dat hulle sonde weggewas is . Wanneer hulle hom gevra het wat hulle nou moes doen, het Johannes geantwoord:
“Deel julle kos met die mense wat honger is . As julle meer klere het as wat julle nodig het, deel dit met ander wat nie klere het nie . ” Hy het vir die tollenaars gesê hulle moet ophou om die mense te kul . Vir die soldate het hy gesê hulle moet tevrede wees met hulle betaling .
Die mense het begin wonder of Johannes dalk God se beloofde Koning is, maar hy het gesê dit is nie hy nie .
“Ek is net die Koning se boodskapper,” het Johannes gesê . “Ek is gestuur om aan te kondig dat Hy kom . Die Koning is baie belangriker as ek . ”
Jesus het van Nasaret af gereis om Johannes by die Jordaan te gaan ontmoet . Al was hulle familie het hulle mekaar nog nooit gesien nie . Tog het Johannes dadelik geweet Jesus is God se beloofde Koning .
“Hoekom kom U na my toe?” het Johannes gevra . “Ek is die een wat gedoop moet word, nie U nie!”
Maar Jesus het aangedring dat Johannes Hom doop . Toe Jesus uit die water opkom, het Hy ’n stem hoor sê: “Dit is my geliefde Seun oor wie Ek baie bly is . ”
Nadat Hy gedoop is, was Jesus vir veertig dae alleen in die woestyn . Toe Hy al swak was van die honger het Satan, God se vyand, vir Jesus getoets . Satan wou hê Jesus moes ongehoorsaam aan God wees . Hy wou nie hê Jesus moes doen waarvoor God Hom gestuur het nie .
“Jy is honger. Verander hierdie klippe in brood,” het Satan gesê .
Jesus het geweier. God het aan Jesus spesiale mag gegee, maar Hy mag dit nie op ’n selfsugtige manier gebruik het nie .
“Kniel voor my en aanbid my,” het Satan toe gesê . “Dan gee ek vir jou al die rykdom van die wêreld . ”
Jesus het weer geweier.
“God sê ons moet Hom alleen aanbid, en niemand anders nie,” het Hy geantwoord .
Satan het al sy skelmstreke uitgehaal, maar Jesus was nie ongehoorsaam aan God nie . Aan die einde van die veertig dae het Jesus huis toe gegaan . Hy was gereed vir die werk wat God vir Hom gegee het om te doen .
Jesus het nie alleen teruggegaan Galilea toe nie . Hy het reeds sy eerste spesiale vriende gekies . Andreas was eers ’n volgeling van Johannes die Doper. Hy het sy broer, Petrus, gaan haal om ook vir Jesus te ontmoet . Andreas en Petrus was vissermanne wat op die See van Galilea visgevang het . Filippus het in dieselfde dorp as hulle gewoon . Hy het weer vir Nataniël saamgebring om vir Jesus te ontmoet .
In Galilea het Jesus opgehou om as timmerman te werk . Hy moes met sy regtige lewenstaak begin . Jesus het ’n boodskap van God gehad om aan al die mense te verkondig .
“Ons leef in ’n baie spesiale tyd,” het Jesus gesê . “God se regering, sy koninkryk, is naby . ’n Nuwe tyd begin nou! Julle moet wegdraai van al die verkeerde dinge wat julle doen . Glo die goeie nuus!”
Die mense van Nasaret wou nie na Jesus luister nie . “Wie dink dié timmerman is hy?” het hulle gebrom . “Jy kan nie mense leer as jy nie daarvoor opgelei is nie!”
Eendag het Jesus in die sinagoge met die mense gaan praat . Die sinagoge is waar die seuns in die week meer oor God geleer het, en waar die mense op die sabbat bymekaargekom het om die Here te dien . Maar die mense het nie gehou van wat Jesus gesê het nie . Hulle het Hom by die sinagoge uitgegooi .
Jesus het toe na die ander dorpe in die omgewing gegaan . Daar het die mense graag na Hom geluister.
JOHANNES 2
Daar was ’n troue in Kana in Galilea . Jesus se ma is na die troue genooi . Jesus en sy vriende was ook daar. Nog voordat die bruilofsfees verby was, het die wyn opgeraak . Maria het vir Jesus daarvan gaan vertel .
“Doen presies wat Hy vir julle sê julle moet doen,” het Maria vir die kelners gesê .
Eenkant het daar ses baie groot waterkanne gestaan . Volgens die Joodse reëls het die mense voor die ete hulle hande gewas . Die kanne was al leeg .
“Maak die kanne vol water,” het Jesus vir die kelners gesê . Hulle het gedoen wat Jesus gevra het . Die kanne was propvol water.
“Skep nou water uit die kanne en neem dit vir die seremoniemeester van die troue . ”
Die kelners was bekommerd, maar hulle het gedoen wat Jesus gevra het . Toe die seremoniemeester die wyn proe, het hy vir die bruidegom gesê:
“Die meeste mense bedien die beste wyn eerste en hou die gewone wyn vir laaste . Maar jy het die beste wyn vir laaste gehou . ”
Jesus het die water in wyn verander! Dit was die eerste van baie verstommende wonders wat Jesus gedoen het . Toe sy vriende sien wat Jesus gedoen het, het hulle begin glo in alles wat Hy vir hulle gesê het .
LUKAS 5, 6:12-16
Almal wat Jesus hoor praat het, was verbaas oor wat Hy hulle geleer het . Dit was alles vir hulle baie nuut en Jesus het met soveel gesag gepraat . Jesus het ook siek mense gesond gemaak . Dié nuus het soos ’n veldbrand versprei .
Die mense het van heinde en ver na Hom toe gekom . Jesus was van vroeg tot laat besig om die mense te leer en te help . Hy het skaars ’n oomblik gehad om te ontspan . Waar Hy ook al gegaan het, het die mense Hom gevolg . Jesus was dikwels baie moeg, maar Hy het nooit die mense weggestuur nie .
Eendag was daar so ’n groot klomp mense op die strand by die See van Galilea dat Jesus in Petrus se skuit geklim het .
“Roei so ’n entjie uit met My,” het Hy gesê . Toe leer Jesus die mense van die skuit af sodat almal Hom kon sien en hoor.
Later het Jesus vir Petrus gesê hy moet dieper roei en sy nette uitgooi om vis te vang . “Ons het die hele nag lank probeer vis vang,” het Petrus vir Hom gesê . “Ons het niks gevang nie . Maar as U so sê …”
Petrus en Andreas het die nette uitgegooi . Hulle het so baie vis gevang dat die nette wou skeur!
“Kom help ons!” het hulle vir Jakobus en Johannes in die ander skuit geroep . Later was albei skuite vol vis .
“Ek wil hê julle moet nou ophou visvang,” het Jesus vir sy vriende gesê terwyl hulle terug land toe geroei het . “Julle moet My volg . Van nou af sal julle vissers van mense wees!”
Maar nie al Jesus se vriende was vissermanne nie . Eendag het Jesus ’n tollenaar by sy tolhuis sien sit . Sy naam was Matteus .
“Volg My!” het Jesus vir Matteus gesê . Matteus het alles net so gelos en vir Jesus gevolg .
Tollenaars soos Matteus het belasting by die Jode ingevorder om vir die Romeine te gee . Hulle het dikwels ryk geword omdat hulle te veel geld van die Jode gevra het . Dit is hoekom die Jode niks van die tollenaars gehou het nie .
Matteus het vir Jesus genooi om by hom te kom eet . Die godsdienstige mense was so geskok toe Jesus sy uitnodiging aanvaar.
“Kyk net met watter soort mense meng Hy!” het hulle gesê .
“Ek is soos ’n dokter,” het Jesus toe vir hulle gesê . “Ek behandel die siek mense, nie die gesonde mense nie . Ek het gekom om mense wat verlore is na God toe terug te bring . ”
Saans, wanneer al die mense terug is na hulle huise toe, het Jesus dikwels teen ’n berg op geklim na ’n eensame plek . Daar kon Hy stil raak en bid . Soms het Hy die hele nag lank gebid .
Na een so ’n nag het Jesus twaalf van sy getroue volgelinge gekies om sy spesiale vriende te wees:
Petrus en Andreas, Jakobus en Johannes, Filippus en Bartolomeus (wat ook Nataniël genoem is), Matteus, Tomas, Jakobus die seun van Alfeus, Simon, Judas en Judas Iskariot (wat later vir Jesus verraai het) .
Hierdie twaalf mans het oral saam met Jesus gegaan . Hulle was sy beste vriende en Hy was hulle leermeester. Jesus het vir hulle verduidelik hoekom God Hom aarde toe gestuur het .
Op die sabbat het Jesus die mense in die sinagoges gaan leer, maar die meeste van die tyd het Hy in die buitelug met die mense gepraat . (Die somers in Israel is lank, warm en droog .) Op die heuwels rondom die See van Galilea was daar baie plek vir mense om te gaan sit en na Jesus te luister. Jesus het op ’n groot klip of op die gras gesit terwyl die mense rondom Hom gaan sit en na sy woorde geluister het . Jesus het met die mense gepraat oor hoe om gelukkig te wees . “Julle dink die ryk mense is gelukkige mense,” het Hy gesê, “omdat hulle alles het wat hulle harte begeer. Dit is nie waar nie . ”
Jesus het na sy volgelinge gekyk . Hulle was arm . Party van hulle was honger. Maar as burgers van God se koninkryk sou hulle alles kry wat hulle nodig gehad het .
“Gelukkig is julle, die armes,” het Jesus gesê, “want die koninkryk van God behoort aan julle .
“Gelukkig is julle wat nou honger is: Julle sal gevoed word!
“Gelukkig is julle wat nou huil: Julle sal weer lag .
“Gelukkig is julle wanneer mense julle haat en verwerp omdat julle my vriende is . ’n Groot beloning wag vir julle in die hemel . ”
Jesus kon sien die mense verstaan nie regtig wat Hy sê nie . Toe praat Hy verder met hulle en sê:
“Moenie probeer om vir julle baie geld of baie besittings bymekaar te maak nie . Iemand sal dit net steel . Maak eerder vir julle skatte by God bymekaar waar niemand dit kan steel nie .
Julle moet kies . Wil julle leef net om ryk te word? Of wil julle doen wat God van julle vra? Julle kan nie al twee doen nie .
“Julle is te bekommerd . Julle is bekommerd oor wat julle sal eet of oor wat julle sal aantrek . Die lewe gaan oor baie meer as kos en klere . Kyk na die voëls . God sorg vir hulle . En God gee baie meer om vir julle as vir die voëls .
“Kyk om julle rond . Sien julle hoe mooi trek God die veldblomme aan? Nie eens Salomo het sulke mooi klere gehad nie . Moet daarom nie so bekommerd wees nie . Doen wat God van julle vra . Hy sal vir julle alles gee wat julle nodig het . Julle kan op Hom vertrou . ”
Jesus het woord-prentjies gebruik om die mense te help verstaan wat Hy hulle wil leer.
“Julle is soos sout,” het Hy gesê . “Sout gee smaak aan kos en keer dat dit sleg word . Julle moet die slegte dinge in God se wêreld keer. Julle moet aan die wêreld ’n lekker smaak gee .
“Julle is soos lampe . Julle moet julle liggies laat skyn in ’n donker wêreld . Wanneer die mense sien julle doen wat reg is, sal hulle vir God dankie sê . ”
Jesus het dikwels met die mense gepraat oor hoe God wil hê sy kinders sal leef .
“Julle het God se reëls in die Ou Testament,” het Jesus gesê, “maar julle probeer altyd om dit makliker te maak . God gee groot opdragte . Hy sê julle moenie moord pleeg nie, en julle is gehoorsaam aan Hom . Maar om kwaad te wees vir iemand, so kwaad dat jy hulle wil doodmaak, is net so verkeerd .
“Julle dink dit is reg om mense terug te kry as hulle julle seergemaak het . Julle sê ’n oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand . Dit is nie wat God vra nie . God vra dat sy kinders hulle vyande sal liefhê . Hy vra dat ons die slegte dinge wat mense aan ons doen met goeie dinge sal terugbetaal .
“Dit is nie maklik om op God se pad te loop nie . Dit is ’n moeilike en smal pad . Die hek na die ingang is nou . Maar julle moet op daardie pad stap en by daardie hek ingaan . ”
Eendag het Jesus met die mense gepraat oor hoe hulle die mense wat swaarkry, kan help . “Wanneer julle arm mense help,” het Hy gesê, “moet julle stilbly daaroor. Moenie daaroor spog nie .
“Moet ook nie mense probeer beïndruk wanneer julle bid nie,” het Jesus gesê . “Gaan soek ’n stil plek . Praat dan met God as julle Vader. Moenie oor en oor dieselfde ding van God vra nie . Hy weet klaar wat julle nodig het .
“Só moet julle bid:
“Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil op die aarde geskied, net soos in die hemel .
Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergewe ons ons oortredings net soos ons die mense vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose .
“Vra,” het Jesus gesê, “en vir julle sal gegee word . Soek, en julle sal vind . ”
Jesus het lank met die mense gepraat . Toe sluit Hy af met ’n storie .
“Daar was eenkeer twee mans wat elkeen besluit het om vir hulle ’n huis te bou . Die verstandige man het sy huis op rots gebou . Die reën het geval, die vloedwaters het afgekom en die wind het aan die huis geruk . Maar sy huis het vas bly staan omdat dit op rots gebou was . As julle luister na wat Ek sê en aan My gehoorsaam is, is julle soos hierdie man .
“Die dwase man het sy huis op sand gebou . Dit was so maklik om die fondasie grawe . Maar toe die reën begin val en die vloedwaters kom af en die wind ruk en pluk aan sy huis, het sy huis inmekaargeval . As julle luister na wat Ek sê, maar dit nie doen nie, is julle net so dwaas soos hierdie man . ”
“Het julle gehoor van die Leermeester uit Nasaret? Hulle sê Hy kan allerhande siektes gesond maak . ”
In daardie dae kon net die ryk mense dit bekostig om dokter toe te gaan . Daarom het hierdie nuus oor Jesus baie vinnig versprei .
Waar Jesus ook al gegaan het, het die siek mense na Hom toe gekom . En Jesus het hulle gesond gemaak .
Hy het die blinde mense laat sien . Hy het die dowe mense laat hoor. Hy het die stom mense laat praat .
Daar was geen siekte van die liggaam of gees wat Jesus nie kon gesond maak nie . God het hierdie spesiale krag om mense gesond te maak vir Jesus gegee . Toe die mense sien wat Jesus kan doen, het hulle begin glo in wat Hy hulle geleer het .
’n Verlamde man se vriende was seker dat Jesus hom ook sou kon gesond maak . Maar hulle vriend kon nie loop nie . Toe dra vier van sy vriende hom met sy bed en al na Jesus toe .
By die huis waar Jesus besig was om die mense te leer was daar so baie mense dat hulle nie eens tot in die huis kon kom nie . Toe maak die vier vriende ’n plan . Hulle het hulle verlamde vriend met die trap aan die buitekant van die huis op gedra, tot bo-op die plat dak . Toe maak hulle ’n gat in die dak en laat sak hulle vriend deur die gat tot reg voor Jesus . Jesus het na die vier vriende opgekyk . Hoeveel liefde en geloof het hulle! het Jesus gedink .
“Jou sondes is vergewe,” het Jesus vir die verlamde man gesê .
“Net God kan sondes vergewe!” het die geleerde mense gebrom . “Hoe durf Hy dit sê!”
“Wat is die maklikste?” het Jesus vir hulle gevra . “Om ’n verlamde man gesond te maak, of om sy sondes te vergewe? Ek sê dit sodat julle kan weet
God het vir My die mag gegee om mense gesond te maak én hulle sondes te vergewe . ”
“Staan op, vat jou bed en gaan huis toe,” het Jesus vir die verlamde man gesê .
En tot sy vriende se blydskap het die man opgestaan en begin loop .
LUKAS 8:22-25
Dit was ’n rustige aand . Die see was kalm en stil toe Jesus en sy vriende in die skuit klim om na die oorkant toe te vaar. Jesus het die hele dag die mense gehelp . Hy was baie moeg en het gou agter in die skuit aan die slaap geraak .
Skielik, sonder enige waarskuwing, het ’n sterk wind begin waai . Sommer gou was daar enorme golwe rondom die skuit . Die mans het gesukkel om te bly roei, maar Jesus het rustig aanhou slaap .
Die storm het al erger geword . Die golwe het oor die rand van die skuit geslaan . Dit het vol water begin raak . Jesus se vriende het nie sommer bang geraak nie . Die meeste van hulle was vissermanne wat al baie storms oorleef het . Maar hierdie storm het hulle baie bang gemaak . Hulle het gedink hulle gaan verdrink . En hoe kon Jesus deur so ’n storm bly slaap?
Hulle het Hom gaan wakker skud .
“Word wakker! Word wakker!” het hulle geskree . “Ons gaan verdrink!”
Jesus het opgestaan . Hy het met die woeste wind en die groot golwe gepraat . “Wees stil!” het Hy beveel . Skielik was alles weer kalm .
“Waar is julle geloof?” het Jesus vir sy vriende gevra .
Nie een van hulle kon iets sê nie . Hulle het groot geskrik vir die storm, maar nou het hulle groter geskrik vir Jesus . Hy het soos enige ander mens gelyk . Tog het die wind en die golwe na Hom geluister.
“Wie kan Hy regtig wees?” het hulle vir mekaar gefluister.
Elke lente het Jesus vir die paasfees na Jerusalem gegaan . ’n Groot groep mense het daar na Hom kom luister.
Nikodemus was ook ’n leermeester. Hy het baie van Jesus gehoor en wou graag met Hom praat . Maar hy wou nie hê die mense moes sien hy gaan na Jesus toe nie . Daarom het hy in die donker nag met Jesus gaan gesels .
“Ons weet God het U gestuur,” het Nikodemus begin . “Niemand kan sulke wonderlike dinge doen as God nie by hom is nie . ”
Jesus het geweet watter vrae Nikodemus eintlik wou vra .
“Jy is ’n groot leermeester,” het Jesus vir hom gesê, “maar jy het nog baie om te leer. Jy wil God se hart bly maak, maar om te doen wat reg is, is nie genoeg nie . Jy moet weer gebore word om in God se koninkryk te kan kom . ”
“Wat bedoel U?” het Nikodemus gevra .
“Jy het ’n nuwe begin nodig, ’n nuwe lewe,” het Jesus geantwoord . “Ek het hierdie nuwe lewe gebring . Jy sien, God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het . Elkeen wat in My glo, sal hierdie nuwe lewe ontvang . ”
Buite was dit donker, maar in die huis het die lamp geskyn . “God se lig skyn in hierdie wêreld,” het Jesus gesê, “maar die mense hou meer van die donker. Want die lig wys watter verkeerde dinge hulle alles doen . ”
’n Paar dae later het die son neergebrand op Jesus en sy vriende . Hulle was op pad terug na Galilea . Toe hulle by die dorpie Sigar in Samaria kom, was dit al twaalfuur die middag . Jesus se vriende het gaan kos koop in die dorp . Jesus het by die put gaan sit om te rus . Die put was baie diep . Jesus het gesmag na ’n bietjie koue water, maar Hy het niks by Hom gehad om die water mee op te skep nie .
’n Samaritaanse vrou het juis toe na die put gegaan . In daardie dae het die Jode en die Samaritane nie met mekaar gepraat nie . Hulle het nie van mekaar gehou nie . En hulle het beslis nie uit mekaar se bekers gedrink nie . Die Samaritaanse vrou was daarom baie verbaas toe Jesus haar vra om vir Hom water te skep om te drink .
“As jy geweet het wat God vir jou kan gee en wie Ek is,” het
Jesus vir haar gesê, “sal jy Hom vra vir die lewende water sodat jy nooit weer dors sal word nie . ”
“Dit sal wonderlik wees!” het die vrou geantwoord . “Dan hoef ek nie weer put toe te kom nie . Maar waar is daardie water? Jy het dan nie eens ’n skepding by jou nie!”
“Jy verstaan nie,” het Jesus gesê . “Ek praat nie van gewone drinkwater nie . Ek praat van die lewende water wat die ewige lewe gee . Die lewe wat Ek gebring het . ”
Hulle het mekaar nog nooit vantevore ontmoet nie, maar die vrou het ontdek dat Jesus alles van haar weet . Sy was so opgewonde oor wat Jesus alles vir haar gesê het dat sy haar waterkruik net daar laat staan het . Sy het teruggehardloop dorp toe om die goeie nuus vir almal daar te gaan vertel .
“Julle moet hierdie man kom ontmoet,” het sy gesê . “Kan Hy miskien die beloofde Koning wees?”
Jesus se vriende het met kos teruggekom . Hulle kon die mense van die dorp vinnig sien aankom put toe .
“Die graan op die land is ryp en gereed om geoes te word,” het Jesus gesê toe Hy die mense sien .
Jesus het twee dae by die Samaritane in hulle dorp gebly . Terwyl hulle na sy woorde geluister het, het baie van hulle begin glo dat Jesus regtig God se Koning is wat gestuur is om die wêreld te red .
Die gewone mense was baie lief vir Jesus . Hy was ook vir hulle lief . Baie van hulle het hulle werk en hulle huis en hulle familie agtergelaat om vir Jesus te volg .
Jesus het baie vriende gehad, maar Hy het ook gou baie vyande gehad . Party van die godsdiensleiers en geleerde mense was jaloers omdat Jesus so gewild onder die mense was .
Een sabbatdag, in die oestyd, het Jesus en sy vriende deur ’n saailand geloop . Hulle was honger. Toe pluk hulle van die koringare en eet die koringkorrels . Die Fariseërs, ’n godsdiensgroep wat die Joodse wette baie streng gevolg het, was geskok oor wat Jesus en sy vriende gedoen het .
“Julle oortree die reëls!” het hulle gesê . “Om koring te pluk is werk . En niemand mag op die sabbat werk nie . ”
“God vra net liefde van ons,” het Jesus hulle geantwoord . “Julle veroordeel mense wat nie skuldig is nie . ”
Daarna het Jesus na die sinagoge gegaan . Daar was ’n man met ’n gebreklike hand . Die mense het Jesus stip dopgehou om te kyk of Hy die man op die sabbat sou gesond maak . Dit sou in hulle oë óók werk wees .
“Wat laat die wet ons toe om op die sabbat te doen?” het Jesus gevra . “Moet ons doen wat reg is, of wat verkeerd is? Moet ons iemand se lewe red, of dit vernietig? Julle sal op ’n sabbat ’n skaap red wat in ’n put geval het . Is mense dan nie belangriker as skape nie?”
“Steek jou hand uit,” het Jesus vir die man gesê . Dadelik het die man se hand sterk en gesond geword .
’n Ander keer in Jerusalem het Jesus na die bad van Betesda gegaan . Daar het hy ’n man op sy mat sien lê . Die man was al 38 jaar lank siek .
“Wil jy gesond word?” het Jesus vir die man gevra . “Staan op . Tel jou goed op en loop!”
Dit was ook ’n sabbatdag . Die man het in die moeilikheid beland by die Joodse leiers omdat hy op die sabbat sy goed gedra het . Hulle het dadelik met Jesus gaan praat .
“God hou nooit op werk nie,” het Jesus vir hulle gesê, “en Ek werk ook altyd . ”
Dit het die godsdiensleiers nóg kwater gemaak . Jesus het die wet oortree . Maar erger nog, met sy woorde het Jesus Homself gelyk gestel aan God .
Johannes die Doper was in groot moeilikheid . Koning Herodes
Antipas* het van sy vrou geskei om met Herodias, die vrou van sy halfbroer Filippus, te trou . Johannes het reguit vir Herodes gesê wat hy gedoen het, was verkeerd . Daarom het Herodes hom laat vang en in die tronk laat gooi . Herodias wou Johannes laat doodmaak, maar Herodes was te bang . Hy het geweet Johannes was ’n goeie mens .
Toe koning Herodes verjaar, het Herodias ’n kans gesien om van Johannes ontslae te raak . Haar dogter het by die feesmaal gedans om die gaste te vermaak . Die koning het dit so geniet dat hy vir Herodias se dogter gesê het sy kan enigiets vra . Wat sy ook al wou hê, sou sy kry, het hy belowe . Al was dit die helfte van sy koninkryk .
“Vra hom vir Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord,” het Herodias haar dogter aangehits . Die meisie het dit gedoen . Herodes was baie hartseer. Hy het ’n lawwe belofte gemaak .
En nou kon hy dit nie verbreek nie . Veral nie voor al sy gaste nie . Herodes het dadelik ’n soldaat gestuur om Johannes se kop in die tronk te gaan afkap .
Johannes se vriende het daarvan gehoor. Hulle het sy liggaam gaan begrawe . Daarna het hulle vir Jesus gaan vertel wat gebeur het .
* Hy was die seun van Herodes die Grote wat koning was toe Jesus gebore is .
Die Jode het die Romeinse soldate gehaat, maar hulle was nie almal sleg nie . Daar was ’n Romeinse offisier in Kapernaum wat goed was vir die Jode . Hy het selfs sy eie geld gebruik om vir hulle ’n sinagoge te laat bou .
Op ’n dag het die Romeinse offisier se dienaar baie siek geword . Die offisier het sy Joodse vriende gevra om vir Jesus te gaan vra of Hy sy dienaar sou gesond maak .
“Hierdie Romein is ’n goeie man,” het hulle vir Jesus gesê . “Hy is lief vir ons mense . Help hom, asseblief!” Jesus het toe saam met hulle na die offisier toe gegaan .
Toe hulle amper by sy huis was, het die offisier saam met vriende vir Jesus ’n boodskap gestuur. “Ek verwag nie dat U na my huis toe moet kom nie,” het hy gesê . “U kan maar net die opdrag gee en my dienaar sal gesond word . Ek is ’n soldaat . Ek is gewoond daaraan om opdragte te gee en aan opdragte gehoorsaam te wees . ”
Jesus was verbaas toe Hy dit hoor.
“Ek het nog nooit so ’n groot geloof teëgekom nie,” het Hy gesê, “nie eens onder die Jode nie . ”
Die boodskappers het teruggegaan . Toe hulle by die Romeinse offisier kom, het hulle gehoor dat sy dienaar gesond geword het . Jesus het gedoen wat die Romeinse offisier gevra het .
’n Rukkie later het Simon die Fariseër vir Jesus vir ete genooi . Hulle het plat op die vloer langs die lae tafel gesit . Skielik het ’n vrou ongenooid by die huis ingestap . Sy het ’n flessie baie duur reukolie by haar gehad . En sy het aanmekaar gehuil .
Die vrou het by Jesus gaan staan . Haar trane het op sy voete geval . Die vrou het dit met haar lang hare afgedroog . Toe gooi sy die duur en kosbare reukolie oor Jesus se voete uit .
Simon was skaam en verleë . Dié vrou het ’n slegte naam gehad . Hoe kon Jesus toelaat dat sy aan Hom raak?
Maar Jesus het geweet wat Simon dink .
“Simon,” het Hy gevra, “wie is die dankbaarste wanneer sy skuld afgeskryf word: die man wat baie skuld het, of die man wat net ’n bietjie skuld het?”
“Die man wat baie skuld het,” het Simon geantwoord .
“Julle almal het God se vergifnis vir iets nodig . Maar dit is die mense wat die meeste vergewe word, soos hierdie vrou, wat God die liefste het . ”
“Jou sondes is vergewe,” het Jesus vir die vrou gesê . “Jou geloof het jou gered . Gaan in vrede . ”
LUKAS 15; JOHANNES 10
Wanneer Jesus gepraat het, het almal na Hom geluister. Selfs die kindertjies was stil . Hulle het altyd gehoop Jesus vertel ’n storie . Jesus het dikwels stories vertel wanneer Hy gepraat het oor dinge wat moeilik is om te verstaan . Hierdie stories word gelykenisse genoem . Jesus wou hê die mense moes dink oor sy stories . As hulle Hom wou volg, moes hulle verstaan wat die stories beteken .
“As julle ore het,” het Jesus dikwels gesê, “moet julle luister.” Hiermee het Hy bedoel: Dink goed oor my woorde en probeer dit verstaan .
Jesus het alledaagse en bekende dinge in sy stories gebruik . In die velde en op die heuwels van Israel was daar oral skaaptroppe . Herders het die skape opgepas .
“As een van julle 100 skape het,” het Jesus gesê, “en een van die skape dwaal af en raak weg, wat sal die herder doen? Hy los die 99 skape wat veilig is net daar en gaan soek na daardie een skaap wat weg is .
“Hy luister mooi of hy die skaap êrens kan hoor blêr.
“Hy gaan soek op al die plekke waarheen die skaap kon weggedwaal het . Hy gaan kyk of die skaap nie dalk iewers vassit of seergekry het nie . Dit maak nie saak hoe moeg hy is of hoe lank dit hom kos nie . Die herder gee nie moed op voordat hy sy verlore skaap gekry het nie .
“En wanneer die herder sy skaap kry, is hy baie bly . Hy tel die skaap op en dra dit huis toe . Dan roep hy al sy vriende: ‘Kom! Vier saam met my fees . Want ek het my verlore skaap gevind . ’
“Net so bly is die hemel wanneer een mens wat van God af weggedwaal het na Hom toe terugkom,” het Jesus gesê . “Ek het gekom om mense te soek wat ver van God af is en hulle na Hom toe terug te bring .
“Ek is die goeie herder,” het Jesus gesê . “Ek los nooit my skape alleen nie . Ek lei hulle na groen gras en vars water. Ek ken elkeen van my skape . Ek hardloop nie weg wanneer ’n wolf my skape wil aanval nie . My skape ken My en hulle ken my stem . Hulle volg My wanneer Ek hulle roep .
“Ek is die goeie herder. Almal wat My volg, is deel van my kudde . Hulle ken My en hulle vertrou My . Ek lei hulle en Ek beskerm hulle . Ek gee my lewe vir my skape . ”
Jesus het altyd mense wat swaargekry het, jammer gekry en gehelp . Eendag het Jaïrus, ’n leier in die plaaslike sinagoge, vir Jesus kom vra om hom te help .
“My dogtertjie is baie siek,” het Jaïrus gesê . “Ek dink sy is besig om dood te gaan . Kom help haar, asseblief!”
Jesus het saam met Jaïrus na sy huis toe gestap . ’n Groot groep mense het hulle gevolg .
In die groep mense was ’n vrou wat al jare lank van die een dokter na die ander gegaan het . Nie een van hulle kon die bloeding wat haar so siek gemaak het, gesond maak nie . Jesus was haar enigste hoop .
As ek maar net aan sy klere kan raak, het sy gedink, sal ek gesond word .
Sy het tussen die mense deur gebeur, tot by Jesus . Toe raak sy net van agter af aan die soom van sy klere . Die vrou het dadelik gesond geword .
“Wie het aan My geraak?” het Jesus gevra . Dit was ’n vreemde vraag . Daar was dan so baie mense rondom Jesus . Maar Jesus het geweet iemand het aan Hom geraak en gesond geword .
Bang het die vrou voor Jesus gaan staan . Sy het vir Hom van haar siekte vertel en dat dit sy was wat aan Hom geraak het .
“Jou geloof het jou genees,” het Jesus vir haar gesê . “Gaan in vrede . ”
Op daardie oomblik het boodskappers van Jaïrus se huis by hulle aangekom . “Moenie vir Jesus langer lastig val nie,” het hulle vir Jaïrus gesê . “Jou dogtertjie is dood . ”
“Moenie bang wees nie,” het Jesus vir Jaïrus gesê . “Glo net . Jou dogtertjie sal gesond word . ”
Toe hulle by Jaïrus se huis kom, het almal gehuil en getreur omdat die dogtertjie dood was .
“Moenie huil nie,” het Jesus vir die mense gesê . “Die dogtertjie is nie dood nie . Sy slaap net . ” Jesus het na die dogtertjie se kamer toe gestap . Hy het net vir Petrus, Jakobus en Johannes en die kind se ouers met Hom saamgeneem .
Jesus het die dogtertjie aan haar hand geneem en vir haar gesê: “Dogtertjie, staan op!”
Dadelik het sy haar oë oopgemaak en regop gesit .
“Gee vir haar iets om te eet,” het Jesus gesê .
Haar ma en haar pa kon skaars glo wat gebeur het . Maar hulle was baie bly dat hulle dogtertjie weer geleef het en gesond was .
Jesus het aarde toe gekom om vir alle mense ’n nuwe lewe in God se koninkryk te gee . In God se koninkryk is God self die goeie koning . Sy mense is gelukkig . In God se koninkryk is daar nie sonde of dood nie . Eendag sal alles volmaak wees . En hierdie koninkryk van God het aangebreek toe Jesus aarde toe gekom het . Jesus het baie stories vertel om vir die mense te verduidelik hoe God se koninkryk werk .
Die saaier
“Daar was ’n saaier wat eendag gaan saad saai het,” het Jesus vertel . “Van die saad wat hy gesaai het, het op die pad geval . Die voëls het dit opgepik . Van die saad het op klipbanke geval . Dit het opgekom, maar in die son verlep omdat daar nie diep grond vir die wortels was nie . Van die saad het tussen die onkruid geval . Dit het saam met die onkruid opgekom, maar die onkruid het dit laat versmoor. Van die saad het in goeie grond geval . Dit het opgekom en ’n goeie oes gelewer.”
Jesus het die storie vir die mense verduidelik .
“Dit is wat gebeur met mense wat God se goeie nuus hoor,” het Hy gesê . “Die duiwel kom na party mense toe en gryp die goeie boodskap van hulle weg . Ander luister met blydskap na die goeie nuus, maar wanneer hulle swaarkry, vergeet hulle weer daarvan .
Ander laat toe dat hulle liefde vir geld of hulle bekommernisse die boodskap doodsmoor. Maar daar is ook dié mense wat, soos die saad in die goeie grond, die goeie nuus hoor en dit verstaan . Hulle lewe wys dat hulle God se boodskap glo . ”
Jesus het nog ’n storie vertel .
“’n Boer het sy land gaan ploeg en koring gesaai . Die saad was goed, maar die boer het ’n vyand gehad . Toe almal geslaap het, het die boer se vyand onkruid tussen sy koring gaan saai . Niemand het daarvan geweet nie, totdat die saad opgekom en begin groei het .
“‘Moet ons die onkruid uittrek?’ het die boer se werkers gevra .
“‘Nee,’ het hy gesê . ‘Want netnou trek julle van die koring ook uit . Laat al twee saam groei totdat dit oestyd is . Dan sal ons die onkruid uittrek en verbrand . Die koring sal ons in die skuur bêre . ’”
Nadat die mense huis toe is, het Jesus se vriende vir Hom gevra wat hierdie storie beteken .
“Ek is die saaier,” het Jesus gesê . “Die saailand is die wêreld . Die goeie saad is die mense wat aan God behoort . Die onkruid is die mense wat aan God se vyand, die duiwel, behoort . Die oes is die einde van die wêreld . ”
“’n Man het ’n mosterdsaadjie in sy land gaan plant,” het Jesus vertel . “Die saadjie was so klein soos ’n stofkorreltjie . Maar dit het begin groei . Sommer gou was dit ’n groot plant . Dit het aanhou groei totdat dit ’n groot boom was . Die voëls het hulle neste in die boom se takke gebou .
“So is God se koninkryk . Dit sal aanhou groei en al groter word . En daar is plek vir baie mense . ”
“God se koninkryk is soos ’n skat wat in ’n saailand onder die grond lê . Wanneer iemand daar gaan spit en die skat ontdek, is hy baie opgewonde . Omdat die saailand nie syne is nie, gooi hy die skat weer toe . Dan gaan verkoop hy alles wat hy besit en koop daardie saailand waar die skat begrawe lê . Dan is die skat syne .
“Maak seker dat julle die skat van God se koninkryk kry . ”
“Daar was ’n handelaar wat pêrels gekoop en verkoop het . Eendag het ’n man na hom toe gekom met die mooiste pêrel wat die handelaar nog ooit gesien het . Dit was baie groot en blink en so pragtig . Die handelaar het geweet hy sou nooit gelukkig kon wees as die pêrel nie aan hom behoort nie . Toe gaan verkoop hy alles wat hy het en koop die pêrel .
“God se koninkryk is so . Dit is meer werd as enigiets anders . ”
Dit was weer ’n besige dag vir Jesus . Daar was nie eens tyd om te eet nie . ’n Groot skare mense het na Jesus geluister. Die son het begin sak en almal was baie honger.
“Stuur die mense weg om vir hulle te gaan kos koop,” het Jesus se vriende vir Hom gesê .
“Nee,” het Jesus geantwoord . “Ons moet vir hulle iets gee om te eet . Wat het julle by julle?”
Andreas, Petrus se broer, het gesê:
“Hier is ’n seuntjie wat vyf garsbrode en twee vissies het . Maar dit is glad nie genoeg vir al hierdie mense nie . ”
“Sê vir die mense hulle moet op die gras gaan sit,” het Jesus gesê . Daar was meer as 5 000 mense .
Toe neem Jesus die seuntjie se brode en vissies en sê vir God dankie daarvoor. Jesus het die brood en die vis begin breek . Hy het dit vir sy vriende gegee om aan die mense uit te deel . Tot almal se groot verbasing was daar vir genoeg kos vir almal om te eet . Daar het selfs twaalf mandjies vol kos oorgebly .
Die volgende dag het Jesus met hulle oor ’n ander soort brood gepraat .
“Ek is die brood wat lewe gee,” het Hy gesê . “Kom na My toe en Ek sal vir julle alles gee wat julle nodig het . Dan sal julle die nuwe lewe kan leef wat Ek bring . ”
LUKAS 9:18-36
Die mense het geluister na alles wat Jesus hulle geleer het . Hulle het al die wonderlike dinge gesien wat Hy gedoen het .
“Wie sê die mense is Ek?” het Jesus eendag vir sy twaalf vriende gevra .
“Party sê U is Johannes die Doper wat uit die dood opgestaan het . Of dalk een van die ander profete,” het hulle geantwoord .
“En julle?” het Jesus gevra . “Wie sê julle is Ek?”
Petrus was doodseker van sy antwoord . Hy het sommer namens almal gepraat . “U is die beloofde Koning, die Seun van die lewende God . ”
Jesus was bly oor Petrus se antwoord . Toe kon Hy vir sy vriende vertel wat vir Hom op aarde voorgelê het . Hy moes sorg dat hulle gereed was daarvoor.
“Binnekort,” het Jesus gesê, “moet Ek Jerusalem toe gaan . Die mense sal My nie as God se Koning aanvaar nie . Hulle sal My doodmaak . Maar ná drie dae sal Ek uit die dood opstaan . Ek sal weer leef . ”
Jesus het sy vriende gewaarsku dat hulle ook sal swaarkry omdat hulle in Hom glo .
“As iemand My wil volg,” het Hy gesê, “moet hy sy kruis optel en agter My aan kom . ”
Omtrent ’n week later het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom teen ’n hoë berg op geneem . Jesus wou daar gaan bid . Terwyl hulle daar was, het Jesus se voorkoms verander. Sy gesig en sy klere het helder geskitter. Skielik was daar nog twee mans by Jesus wat met Hom gepraat het . Dit was Moses en die profeet Elia . Hulle het met Jesus oor sy dood gepraat .
Jesus se drie vriende het aan die slaap geraak . Toe hulle wakker word en sien hoe Jesus skitter en dat Moses en Elia by Hom was, was hulle baie bang .
’n Wolk het oor die berg kom lê, en ’n harde stem het uit die wolk gepraat .
“Dit is my Seun . Luister na Hom!” het die stem gesê .
Daarna was Jesus se vriende weer alleen saam met Hom op die berg .
15:11-32
Dit was nie net die goeie mense wat na Jesus kom luister het nie . Jesus het ook gemeng met die soort mense met wie niemand anders wou praat nie . Die Fariseërs was baie ontevrede oor die mense saam met wie Jesus gekuier en met wie Hy gesels het .
Toe vertel Jesus eendag vir hulle hierdie storie .
“Daar was ’n man wat twee seuns gehad het . Die jongste seun het sy pa gevra vir sy deel van die besittings wat hom toekom . Sy pa het dit vir hom gegee . Die jongste seun het die geld gevat en na ’n ver land gereis . Daar het hy al sy geld uitgemors . Sommer gou was al sy geld op . Toe breek daar ’n vreeslike hongersnood in die land uit . Die mense was baie honger. Die seun het werk gekry . Hy moes ’n man se varke oppas . Die seun was so honger dat hy die varke se peule wou eet!
“Hy het baie huis toe verlang .
“‘Ek kan nie hier bly nie,’ het die seun gesê . ‘My pa se werkers het meer as genoeg kos om te eet . En hier sit en vergaan ek van die honger. Ek sal huis toe gaan . Ek sal vir my pa sê hoe jammer ek is oor alles wat ek gedoen het . Ek is te sleg om sy seun genoem te word . Dalk sal hy my as een van sy werkers aanstel . ’
“Die seun het teruggegaan huis toe . Sy pa het hom van ver af al sien aankom . En sy pa het na hom toe gehardloop . Hy het sy arms om sy seun gegooi en hom styf vasgehou .
“‘Bring vir hom nuwe klere,’ het die pa vir sy werkers gesê . ‘En slag die kalf wat ons vetgemaak het . Ons moet ’n groot fees hou . Ek het gedink my seun is dood, maar, kyk, hy leef!’
“Toe die oudste seun by die huis kom, was hy woedend kwaad . ‘Al die jare nog werk ek vir Pa,’ het hy gesê . ‘En nog nooit het Pa vir my ’n fees gehou nie . Tog slag Pa nou die beste kalf vir hierdie nikswerd seun van Pa!’
“‘Jy weet alles wat ek het, is joune,’ het die pa vir sy oudste seun gesê . ‘Maar ons moet nou feesvier en bly wees . Want jou broer was verlore, maar nou het ons hom teruggekry . ’”
Die Fariseërs en die godsdiensleiers was jaloers op Jesus . Maar hulle was ook bang vir Hom . Hulle het Hom begin haat en wou van Hom ontslae raak . Toe begin hulle vir Jesus strikvrae vra om Hom te probeer uitvang . Hulle het iets gesoek waarvan hulle Hom kon aankla . Maar Jesus het altyd ’n antwoord reg gehad .
Die goeie Samaritaan
“Meneer,” het een van die geleerde mans gevra, “wat moet ek doen om die nuwe lewe te kry?”
“Wat sê God se reëls hieroor?” het Jesus vir hom gevra .
“Ek moet God liefhê met my hele hart en my hele siel en my hele verstand en met al my krag,” het die man geantwoord .
“En ek moet my naaste liefhê soos myself . ”
“Dit is reg,” het Jesus gesê .
“Maar wat beteken dit?” het die man gevra . “Wie is my naaste?”
Toe vertel Jesus vir hom hierdie storie .
“’n Man het van Jerusalem af na Jerigo gereis . Op ’n verlate plek langs die pad het rowers hom aangeval . Hulle het al sy geld gesteel en hom baie seer geslaan . Toe laat lê hulle hom net daar.
“’n Rukkie later het ’n priester daar verbygeloop . Hy het die man daar sien lê, maar niks gedoen om hom te help nie . Hy het sommer aan die ander kant van die pad gaan loop .
“Toe kom ’n Leviet wat in die tempel gewerk het daar verby . Ook hy het die man daar sien lê, maar hom nie gehelp nie .
“Maar ’n Samaritaan wat met daardie pad langs gereis het, het die beseerde man daar sien lê . Hy het hom jammer gekry en na hom toe gegaan . Hy het die man se wonde skoongemaak en
verbind . Toe laai hy die man op sy donkie en neem hom na die naaste herberg .
“Die volgende dag, toe die Samaritaan verder moes reis, het hy vir die herbergier geld gegee .
“‘Sorg mooi vir hom,’ het die Samaritaan vir die herbergier gesê . ‘En as dit jou meer geld kos as wat ek nou vir jou gee, sal ek vir jou nog gee wanneer ek weer hierlangs verbykom . ’ Dit het die Samaritaan vir ’n vreemdeling gedoen . Boonop was die vreemdeling ’n Jood, en die Jode sien neer op die Samaritane . ”
Jesus het gekyk na die man wat die vraag gevra het . “Wie van hierdie drie mense was die naaste van die man wat so seergemaak is?”
“Die een wat hom gehelp het,” het die man geantwoord .
“Gaan doen jy dan dieselfde,” het Jesus vir hom gesê .
Jesus het ’n storie vertel vir mense wat gedink het hulle is baie beter as ander mense .
“Twee mense het in God se tempel gaan bid . Die een was ’n Fariseër. Die ander een was ’n tollenaar.
“Die Fariseër het gebid: ‘Ek sê vir U dankie, Here, dat ek nie so gierig is soos die ander mense nie . Ek kul ook nie ander mense soos daardie tollenaar daar anderkant nie . Ek doen alles wat U van my vra . En ek gee selfs vir U ’n tiende van alles wat ek verdien . ’
“Die tollenaar het net koponderstebo daar gestaan . ‘O Here, wees tog jammer vir ’n sondaar soos ek!’ het hy gebid .
“Ek sê vir julle,” het Jesus gesê, “dit was die tollenaar wie se verhouding met God reg was toe hulle huis toe gegaan het, nie die Fariseër s’n nie . Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word . En almal wat nederig is, sal gerespekteer word . ”
Die mense het eendag hulle kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak . Jesus se vriende het met die mense geraas en wou hulle wegjaag . Maar Jesus het gesê: “Moet die kindertjies nie keer nie . Laat hulle na My toe kom . God se koninkryk behoort juis aan hulle . Elkeen wat in God se koninkryk wil ingaan, moet soos ’n kindjie na Hom toe kom . ”
LUKAS 10:38-42; JOHANNES 11
Wanneer Jesus Jerusalem toe gegaan het, het Hy graag by sy goeie vriende Marta, Maria en hulle broer, Lasarus, gaan bly . Hulle het in Betanië gewoon, ’n dorpie wat omtrent drie kilometer van Jerusalem af was .
Marta was altyd besig . Sy het kos gemaak, die huis skoongemaak en gesorg dat alles reg is vir hulle gas . Marta het al hierdie werk baie goed gedoen . Maria was die stil en rustige een . Wanneer Jesus by hulle kom kuier het, het sy skoon vergeet van alles wat in die huis gedoen moes word . Sy het net by Jesus gaan sit en na Hom geluister. Dit het vir Marta baie kwaad gemaak .
“Sê vir Maria sy moet my kom help,” het Marta eendag by Jesus gaan kla .
“Marta,” het Jesus gesê, “moenie so besorg wees nie . Jy is oor te veel dinge bekommerd . ’n Eenvoudige ete sal genoeg wees . Maria doen die regte ding om na My te luister terwyl sy nog die kans het . ”
Op ’n dag het die susters ’n boodskap na Jesus toe gestuur. “Lasarus is baie siek . ”
Hulle het geweet Jesus is baie lief vir hulle almal . Hulle het verwag dat Hy dadelik na hulle toe sou kom om vir Lasarus gesond te maak .
Maar Jesus het twee dae gewag voordat Hy na hulle toe gegaan het .
Jesus het geweet dat Lasarus reeds gesterf het . Maar Hy het ook geweet God het ’n spesiale doel met alles .
“Kom, laat ons nou gaan,” het Jesus vir sy twaalf vriende gesê .
“Dit is te gevaarlik,” het hulle gesê . “U het te veel vyande in Jerusalem . ”
Jesus was egter vas van plan om Jerusalem toe te gaan . “Kom ons gaan saam met Hom,” het Tomas toe gesê, “sodat ons almal saam met Hom kan sterf . ”
Toe Jesus in Betanië aankom, was Lasarus al vier dae in die graf . Marta het uitgestap om Jesus te gaan ontmoet .
“As U net vroeër hier was,” het Marta gesê, “sou my broer nie gesterf het nie . ”
“Jou broer sal weer leef,” het Jesus gesê .
“Ek weet hy sal,” het Marta gesê, “wanneer God op die laaste dag almal uit die dood laat opstaan . ”
“Ek is die opstanding en die lewe,” het Jesus vir haar gesê . “Wie in My glo, sal leef, al sterf hulle ook . ”
Marta het vir Maria gaan roep en vir haar gesê Jesus is daar. Maria het huilend na Jesus toe gestap .
“As U net hier was, sou my broer nie gesterf het nie,” het sy vir Jesus gesê, net soos Marta .
Toe Jesus Maria se trane sien, en sien hoe hartseer al hulle vriende is, het Hy ook gehuil .
Almal kon sien dat Jesus baie lief was vir Lasarus . Toe het hulle nog meer gewonder hoekom Jesus nie vroeër gekom het nie .
“Waar het julle vir Lasarus begrawe?” het Jesus gevra . Hulle het Hom na die graf toe geneem .
“Rol die klip voor die ingang weg,” het Jesus gesê .
“Here,” het Marta ontsteld gesê . “Hy lê al vier dae daar. Die liggaam sal sleg ruik!”
“Het Ek nie vir julle gesê as julle glo, sal julle die wonderlike krag van God sien nie?” het Jesus vir haar gevra .
Jesus het gebid . Toe roep Hy in ’n harde stem: “Lasarus, kom uit!”
Lasarus het uit sy graf gestap . Hy was van kop tot tone nog toegedraai in die grafdoeke wat hulle om hom gedraai het .
“Haal die doeke af,” het Jesus gesê, “sodat hy kan huis toe gaan . ”
Die mense wat daar was, het geglo dat God vir Jesus na hulle toe gestuur het . Maar toe die Fariseërs en die priesters in Jerusalem hoor wat gebeur het, het hulle haastig bymekaargekom .
“Ons moet hierdie man keer,” het hulle gesê . “Anders sal almal later in Jesus glo . Die Romeine sal dink daar gaan ’n opstand teen hulle uitbreek . En dan sal hulle ons almal doodmaak . ”
Van daardie dag af het hulle planne gemaak om vir Jesus dood te maak .
LUKAS 17:11-19, 19:1-9; MARKUS 10:46-52
Jesus was vir die laaste keer op pad na Jerusalem . Net toe Hy en sy vriende by ’n dorpie wou ingaan, het tien mans na hulle toe aangekom .
Hierdie mans het almal aan ’n baie ernstige velsiekte gely . Dit het hulle hande en hulle gesigte vermink . Hierdie siekte was baie aansteeklik . Daarom moes die mans hulle families verlaat en ver buite die dorpie gaan woon .
Die tien mans het ’n hele entjie van Jesus af bly staan . “Kry ons tog jammer!” het hulle vir Jesus gevra .
“Gaan na die priester toe,” het Jesus vir hulle gesê . “Vra hom om julle te ondersoek . ” (Die mans kon eers weer huis toe gaan as ’n priester gesê het hulle is heeltemal gesond .)
Terwyl hulle nog op pad was na die priester toe, het hulle almal gesond geword . Hulle kon dit nie glo nie .
Net een man, ’n Samaritaan, het dadelik omgedraai en vir Jesus gaan dankie sê . Die ander was heeltemal te haastig om by die huis te kom .
“Tien mans is gesond gemaak,” het Jesus gesê . “Waar is die ander nege? Hoekom is hierdie Samaritaan die enigste een wat teruggekom het om vir God dankie te sê?”
Bartimeus het in Jerigo gewoon . Hy was blind . Daarom kon hy nie werk om geld te verdien om kos te koop nie . Elke dag het hy langs die stofpad gesit om geld en kos te bedel by almal wat daar verbygekom het .
Bartimeus wou regtig baie graag sien . Hy wou werk en die lewe geniet, net soos die mense wat kon sien . Bartimeus het die stories gehoor wat die mense vertel het oor Jesus wat siek mense gesond kan maak . Hy het besluit as Jesus ooit in Jerigo kom, sal hy Hom vra om sy oë gesond te maak .
Op ’n dag het Bartimeus gehoor hoe ’n groot klomp mense daar naby verbyloop .
“Wat gaan aan? Wat gebeur?” het hy aanhou vra . “Vertel vir my wat julle sien!”
“Dit is Jesus,” het die mense vir hom gesê . “Hy kom met hierdie pad langs verby . ”
Bartimeus kon nie sien nie, maar sy stem het niks makeer nie . Toe begin hy roep:
“Jesus van Nasaret! Kry my tog jammer!”
Hy het so ’n geraas gemaak dat die mense vir hom vies geword het . Maar Bartimeus het net aanhou roep .
Jesus het gaan staan en gevra dat hulle vir Bartimeus na Hom toe bring . Bartimeus het sy kleed net daar neergegooi, opgespring en na Jesus toe gestap .
“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” het Jesus vir hom gevra .
“Ek wil sien,” het Bartimeus geantwoord .
“Jy sal sien!” het Jesus gesê . “Jou geloof het jou genees . ”
Onmiddellik kon Bartimeus sien . Hy kon vir Jesus sien! Vol blydskap het Bartimeus vir Jesus begin volg .
Saggeus
Die hoof van die tollenaars in Jerigo se naam was Saggeus . Saggeus was baie ryk, maar hy was nie baie gewild nie . Hy was ook ’n kort mannetjie .
Saggeus wou baie graag vir Jesus sien, maar daar was te veel mense wat voor hom gestaan het . Hy kon nie bo-oor hulle koppe sien nie . Saggeus het amper moed verloor toe hy ’n blink plan kry . Hy het voor die skare uit gehardloop en in ’n groot vyeboom geklim . Dit was nie ’n baie waardige ding om te doen nie, maar uit die boom kon Saggeus vir Jesus sien .
Jesus het reg verby die boom geloop waarin Saggeus gesit het . En Jesus het opgekyk .
“Klim af, Saggeus,” het Jesus vir hom gesê . “Ek gaan vandag by jou huis bly . ”
Saggeus het amper uit die boom geval van pure verbasing . Hy kon sy ore skaars glo .
Hy was baie bly dat Jesus na sy huis toe wou kom . Daardie dag het Saggeus ’n nuwe mens geword .
“Ek gaan die helfte van my geld vir die armes gee,” het hy belowe . “En as ek iemand gekul het, sal ek vir hulle vier keer meer teruggee . ”
Jesus was al baie naby aan Jerusalem . Hy wou daar wees vir die paasfees . Jesus het met twee van sy vriende gepraat .
“Gaan na die volgende dorpie,” het Hy gesê . “Daar sal julle ’n jong donkie kry wat vasgemaak is . Niemand het nog ooit op daardie donkie gery nie . Maak hom los en bring hom na My toe . As iemand vir julle vra wat julle doen, sê Ek het julle gestuur.”
Jesus se twee vriende het die donkie vir Hom gebring . Hulle het van hulle klere oor die donkie se rug gegooi en Jesus het op die donkie geklim .
Daar was vreeslik baie mense in Jerusalem . Toe hulle hoor dat Jesus op pad was na die stad toe, het hulle na Hom toe gestroom . Sommige het hulle klere op die pad voor Hom oopgegooi . Ander het palmtakke afgesny en dit deur die lug geswaai . “Hier kom God se Koning!” het hulle uitgeroep . “Loof die Here!”
Jesus het soos ’n koning by die stad in gery, maar soos ’n koning wat in vrede kom .
In die stad het Jesus na die tempel gegaan . Daar het Hy mense gesien wat duiwe as offers verkoop . Ander het vreemde muntstukke omgeruil vir die spesiale geld wat in die tempel gebruik is . Dit het vir Jesus baie kwaad gemaak . Hulle het die mense wat God kom aanbid het, gekul . “God se tempel is ’n plek waar mense bid,” het Jesus uitgeroep . “Maar julle maak dit ’n plek om besigheid te doen en mense te beroof!” Toe gooi Jesus hulle tafels om en jaag hulle daar weg . Die hele plek was in oproer.
Die priesters was toe éérs kwaad . Hulle wou Jesus dadelik gevange neem . Maar hoe kon hulle dit regkry? Hulle was te bang om ’n oproer onder die mense te veroorsaak .
Twee dae voor die paasfees het Judas Iskariot, een van Jesus se twaalf spesiale vriende, na die priesters toe gegaan . Hy was baie kwaad en teleurgesteld . Hy het gedink Jesus sou ’n opstand teen die Romeine begin . Omdat dit nie gebeur het nie, wou Judas vir Jesus verraai .
“Ek sal julle na Hom toe neem wanneer daar nie baie mense rondom Hom is nie,” het Judas vir die priesters gesê . Hulle het vir hom dertig silwermuntstukke betaal om vir Jesus te verraai .
“Waar gaan ons die paasmaaltyd vier?” het Jesus se vriende op die oggend van die fees vir Hom gevra . Dit was tyd om alles reg te kry .
“Gaan na die stad,” het Jesus vir hulle gesê . “Julle sal daar ’n man kry wat ’n waterkruik dra . Volg hom na sy huis toe . Hy het ’n vertrek waar ons die paasmaaltyd saam kan geniet . ”
Daardie aand, toe hulle begin eet, het Jesus ’n handdoek geneem en dit om sy lyf vasgebind . Toe maak Hy ’n skottel vol water en begin sy vriende se voete was . Dit was die werk van ’n slaaf . Petrus was baie geskok omdat Jesus sy voete wou was .
Maar Jesus het vir hulle verduidelik hoekom Hy dit doen .
“Julle moet bereid wees om mekaar te dien, net soos Ek julle gedien het . ”
Jesus het geweet Hy sou nie baie langer by hulle wees nie . Sy dood was naby . Sy vriende kon sien iets is fout . Jesus het baie hartseer gelyk .
“Een van julle gaan My verraai,” het Jesus uiteindelik gesê . Hulle almal was geskok . Niemand kon ’n woord uitkry nie .
Toe fluister Johannes, wat langs Jesus gesit het, vir Hom: “Wie is dit?”
“Dit is die een vir wie Ek die stukkie brood gee wat Ek in die sous gedoop het,” het Jesus geantwoord .
Toe gee Jesus die brood vir Judas Iskariot .
“Gaan doen wat jy moet doen,” het Jesus vir hom gesê . Judas het in die donker nag uitgestap .
Daardie aand het Jesus lank met sy vriende gepraat . Hulle het sy woorde nooit vergeet nie . Hy het vir hulle gesê hoe lief Hy vir hulle is, so lief dat Hy vir hulle sou sterf .
“Maar Ek sal julle nie alleen agterlaat nie,” het Jesus belowe . “God sal sy Gees stuur om vir altyd by julle te wees en julle te
help . Ek gaan terug na God om daar vir julle woonplek reg te maak . Eendag sal Ek weer kom en julle kom haal om by My te wees . Moenie bekommerd wees nie . En moenie bang wees nie . ”
Jesus het die brood geneem, vir God daarvoor dankie gesê en dit vir sy vriende uitgedeel .
“Dit is my liggaam,” het Hy gesê . “My liggaam gaan gebreek word, net soos hierdie brood . Ek sal sterf, vir julle . ”
Toe het Jesus ’n beker wyn geneem, vir God dankie gesê daarvoor en dit ook aan sy vriende uitgedeel .
“Dit is my bloed wat vir baie mense uitgestort sal word . My dood sal ’n nuwe vrede tussen God en sy mense bring . ”
Na die ete het hulle die huis verlaat . Saam het hulle gestap na ’n tuin vol olyfbome met die naam Getsemane .
Verraai!
Op pad na die tuin het Jesus sy vriende weer gewaarsku wat sou gebeur.
“Oor net ’n paar uur,” het Hy gesê, “gaan julle almal weghardloop . Julle sal My alleen laat . ”
“Ek sal dit nooit doen nie!” het Petrus gesê .
Jesus het na Petrus gekyk . “Nog voordat die haan kraai,” het Jesus vir hom gesê, “sal jy drie keer sê jy ken My nie . ”
“Ek gaan liewer dood!” het Petrus gesê .
Toe hulle in Getsemane aankom, het Jesus net vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom geneem .
“Kom saam met My en hou wag,” het Jesus vir sy drie vriende gevra . Hy was baie ontsteld . Jesus het ’n entjie van hulle af weggestap . Daar het Hy gekniel om te bid .
“Vader,” het Hy gesê, “as dit moontlik is, red My van hierdie dood . Maar net as dit is wat U wil hê . ” Drie keer het Jesus hierdie gebed gebid, en drie keer is Hy terug na sy vriende toe .
Elke keer het Jesus hulle vas aan die slaap daar gekry .
Toe Hy die derde keer vir Petrus, Johannes en Jakobus gaan wakker maak, kon hulle stemme hoor. Mense was op pad daarheen . Hulle het die fakkels gesien . Die tempelwagte en die priesters, met Judas heel voor, het Jesus kom gevange neem .
“Die een wat ek soen, is die man wat julle soek,” het Judas vir die soldate gesê . Toe stap hy na Jesus toe en soen Hom . Die soldate het rondom Jesus gaan staan .
Jesus het nie probeer ontsnap of teen die soldate baklei nie .
Maar Petrus het sy swaard uitgepluk . Hy het die regteroor van Malgus, die hoëpriester se dienaar, afgekap .
“Bêre jou swaard,” het Jesus vir Petrus gesê . Toe raak Hy aan die man se oor en maak hom gesond .
Jesus het na die priesters toe gedraai . “Hoekom kom julle met swaarde en stokke na My toe asof Ek ’n rower is?” het Hy gevra .
Hulle het Hom nie geantwoord nie . Die soldate het Jesus net vasgegryp en Hom daar weggeneem .
Al sy vriende het weggehardloop en Hom in die steek gelaat .
Die soldate het vir Jesus na die hoëpriester se huis geneem .
Petrus het hulle op ’n afstand gevolg . In die binnehof van die hoëpriester se huis het ’n warm vuur gebrand . ’n Paar mense het rondom die vuur gesit . Petrus het ook daar gaan sit om sy hande warm te maak .
’n Diensmeisie het daar verbygestap en vir Petrus raakgesien . “Jy was saam met Jesus van Nasaret,” het sy vir hom gesê .
Petrus het dit ontken . Hy het ’n entjie van die vuur af weggestap .
Maar die diensmeisie het weer vir die ander mense daar gesê:
“Hy was een van Jesus se volgelinge . ”
“Dit is nie waar nie!” het Petrus hard gesê . “Ek ken die man nie!”
’n Bietjie later het iemand gehoor dat Petrus soos die mense van Galilea praat .
“Jy kom van Galilea,” het die man gesê . “Jy moet vir Jesus ken . ”
“Ek sweer ek ken die man glad nie!” het Petrus bang uitgeroep .
Net toe kraai ’n haan . En Petrus het onthou wat Jesus gesê het . Hy het buitentoe gestap en gehuil .
In die huis was die Joodse Raad besig om Jesus te ondervra . Dit was nog donker toe die hoëpriester se dienaars hulle almal laat roep het . Hulle was vas van plan om Jesus ter dood te veroordeel, maar hulle wou dit soos ’n regverdige verhoor laat
lyk . Hulle het getuies daarheen laat kom om leuens oor Jesus te vertel . Nie een van hulle stories het dieselfde geklink nie .
Uiteindelik het die hoëpriester self vir Jesus ondervra . “Hoekom wil jy nie antwoord op die aanklagte teen jou nie?” wou hy weet .
Jesus het nie ’n woord gesê nie .
Toe vra die hoëpriester Jesus om onder eed te sê of Hy die Koning, die Seun van God, is .
“Ek is,” het Jesus gesê . “Julle almal sal My aan God se regterhand sien wanneer Ek op die wolke van die hemel kom . ”
“Julle het gehoor wat hierdie gevangene gesê het,” het die hoëpriester hard uitgeroep . “Ons het nie meer getuies nodig nie .
Hierdie man het God gelaster. Dink julle ook hy is skuldig?”
“Ja, hy is skuldig!” het die mense hard geskree . Hulle het Jesus ter dood veroordeel . Maar hulle het die Romeinse goewerneur se toestemming nodig gehad om hierdie vonnis te voltrek . Daarom het hulle vroeg die volgende oggend vir Jesus na Pontius Pilatus geneem .
Toe Judas hoor dat Jesus ter dood veroordeel is, was hy baie hartseer en spyt oor wat hy gedoen het . Hy het die dertig silwermuntstukke voor die priesters gaan neergooi . Toe het hy weggestap en homself gaan ophang .
Jesus het voor die Romeinse goewerneur, Pontius Pilatus, gestaan . Die Joodse priesters het Jesus van verraad aangekla, want hulle het geweet Pilatus sal nie iemand wat God gelaster het ter dood veroordeel nie .
“Hy sê hy is ’n koning,” het hulle vir Pilatus gesê .
Pilatus het vir Jesus baie vrae gevra . Maar hy kon geen rede vind om Jesus ter dood te veroordeel nie .
Jesus het volgens hom niks verkeerd gedoen nie . In daardie tyd was dit die gebruik om elke paasfees een gevangene vry te laat .
“Ek vind geen skuld in Jesus nie,” het Pilatus gesê . “Ek gaan Jesus vrylaat . ”
Die skare mense, wat deur die priesters opgesweep is, wou egter niks daarvan hoor nie .
“Maak hom dood!” het hulle geskreeu . “Kruisig hom! Laat
Barabbas vir ons vry!” Barabbas was ’n moordenaar wat in die tronk was .
Die mense het so ’n oproer veroorsaak dat Pilatus op die ou end ingegee het . Hy het geweet hy doen nie wat reg is nie . Maar hy was bang daar breek ’n opstand uit en dan sou hy in die moeilikheid by die keiser wees .
“Ek is nie verantwoordelik vir die dood van hierdie man nie,” het Pilatus gesê . “Julle wil hom dood hê . ”
Pilatus het vir Jesus laat slaan en Hom toe aan die soldate oorgegee om gekruisig te word . Om mense te kruisig was ’n pynlike en stadige dood . Dit is hoe die Romeine misdadigers tereggestel het .
Die soldate het Jesus weggeneem . Hulle het Hom soos ’n koning aangetrek deur vir Hom ’n pers mantel om te hang en ’n doringkroon op sy kop te druk . Hulle het Hom gespot en Hom in sy gesig gespoeg . Toe trek hulle die mantel weer uit . Hulle het Jesus deur die strate van die stad gelei na Golgota, die plek waar die mense gekruisig is .
Die kruis
Jesus was baie swak nadat hulle Hom so seer geslaan het . Maar die soldate het Hom gedwing om self die swaar balk van sy kruis te dra . Jesus was so swak dat Hy langs die pad gestruikel en geval het . Toe ruk hulle ’n man uit die skare en beveel hom om Jesus se kruis te dra . Dié man se naam was Simon van Sirene . By Golgota, buite die stad se mure, het die soldate Jesus se hande en voete aan die kruis vasgespyker.
Bokant Jesus se kop het hulle ’n bordjie vasgemaak . Op die bordjie was geskryf: “Dit is Jesus, die Koning van die Jode . ”
Jesus het daar gehang en die verskriklikste pyn verduur. Tog het Hy nie die mense wat Hom gekruisig het, gehaat nie . “Vader, vergewe hulle,” het Jesus gebid, “want hulle weet nie wat hulle doen nie . ”
“As jy regtig die Seun van God is,” het die mense rondom die kruis met Jesus gespot, “red jouself!”
Twee misdadigers is saam met Jesus gekruisig . Hulle het weerskante van Hom gehang . Die een het ook met Jesus gespot, maar die ander het met hom geraas . “Ons verdien hierdie straf,” het hy gesê, “maar hierdie man het niks verkeerd gedoen nie . Dink aan my, Jesus, wanneer U in u koninkryk kom . ”
“Vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees,” het Jesus hom geantwoord . “Ek belowe jou . ”
Jesus se ma en van sy vriende het daar naby gestaan . Jesus het na Johannes gekyk . “Neem my moeder saam met jou huis toe,” het Hy gesê, “en sorg vir haar.”
Teen die middag het ’n skadu voor die son ingeskuif . Drie uur lank was daar ’n vreemde donkerte oor die stad .
“My God, my God, waarom het U My verlaat?” het Jesus gefluister. En toe het Hy hard uitgeroep: “Dit is volbring!” Daarna het Jesus sy laaste asem uitgeblaas en gesterf .
Op daardie oomblik het die gordyn in die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur. Die aarde onder die mense se voete het begin skud . Die soldate wat besig was om lootjies te trek oor wie Jesus se klere sou kry, was skielik baie bang .
“Hierdie man was regtig die Seun van God!” het een gesê .
Om seker te maak Jesus is regtig dood, het die soldate ’n spies in sy sy gesteek .
’n Man met die naam Josef van Arimatea was ’n volgeling van Jesus . Hy het na Pilatus toe gegaan en hom gevra of hy Jesus se liggaam van die kruis kon afhaal en gaan begrawe . Pilatus het ingestem . Josef en Nikodemus, die man wat in die nag met Jesus gaan gesels het, het sy liggaam saam met mirre en aalwyn in doeke toegedraai . Toe het hulle Hom gaan begrawe . Hulle het ’n swaar klip voor die ingang van die graf gerol . Die sabbat sou met sononder begin . Daarom het die vroue huis toe gegaan om solank reukolie en salf te begin regkry om na die sabbat aan Jesus se liggaam te smeer.
Die Joodse leiers het vir Pilatus gevra om wagte by die graf te laat staan . Hulle was bang Jesus se vriende steel sy liggaam en sê dan Hy het uit die dood opgestaan .
Die Sondagoggend, net voordat die son sou opkom, was alles doodstil . Toe die eerste ligstrale begin skyn, het die aarde gebewe en geskud . ’n Engel het verskyn en die klip voor Jesus se graf weggerol . Die wagte het so groot geskrik dat hulle net daar flou geval het .
Toe die vroue met hulle reukolie en salf daar aankom, was die graf oop . Jesus se liggaam was nie daar nie . Die engel het met hulle gepraat .
“Moenie bang wees nie,” het hy gesê . “Ek weet julle soek na Jesus . Hy is nie hier nie . Hy het uit die dood opgestaan . Kyk, hier het sy liggaam gelê . Gaan vertel dadelik vir sy vriende die goeie nuus . Julle sal Jesus gou weer sien . ”
Jesus se vriende wou glad nie die vroue se storie glo nie . Hulle het gedink die vroue verbeel hulle net . Maar Petrus en Johannes het besluit om na die graf te gaan en self te gaan kyk .
Johannes het vinniger gehardloop as Petrus . Hy was eerste by die graf . Hy het ingeloer, maar nie ingestap nie . Toe Petrus daar aankom, het hulle al twee tot in die graf gestap .
Hulle het die doeke gesien waarin Jesus se liggaam toegedraai was, ook die doek wat om Jesus se kop was . Dit het eenkant gelê, netjies opgerol . Johannes het dadelik geweet niemand kon Jesus se liggaam gesteel het nie . Wat die vroue gesê het, was waar! Jesus het uit die dood opgestaan!
Die twee mans het huis toe gegaan . Maar Maria Magdalena, wat hulle tot by die graf gevolg het, het agtergebly . Sy het daar gestaan en huil . Sy kon nie verstaan wat gebeur het nie . Toe sy ’n man naby die graf sien, het sy gedink dit is die tuinier.
“As u Hom weggeneem het,” het sy vir die man gesê, “sê tog vir my waar ek Hom kan kry . ” Sy het nie besef sy praat met Jesus nie .
“Maria!” het Jesus vir haar gesê . Toe Maria haar naam hoor, het sy dadelik geweet wie by haar is . Sy was so bly!
“Gaan vertel vir my vriende jy het My gesien,” het Jesus vir haar gesê .
Later daardie dag het ’n man met die naam Kleopas en sy vriend, wat ook vir Jesus gevolg het, van Jerusalem af teruggeloop na Emmaus . Dit was ’n dorp buite Jerusalem waar hulle gewoon het . Terwyl hulle nog so loop en praat, het ’n vreemdeling langs hulle begin stap . Hulle het nie geweet dit is Jesus nie .
“Hoekom is julle so hartseer?” het Hy gevra .
“Is jy die enigste mens in Jerusalem wat nie weet wat die afgelope paar dae hier gebeur het nie?” het Kleopas vir Hom gevra .
“Waarvan praat jy?” het Jesus gevra .
“Van Jesus van Nasaret,” het Kleopas gesê . “Hy was ’n groot leermeester. Ons almal het gedink Hy is God se beloofde Koning . Maar Vrydag het hulle Hom gekruisig . En vanoggend het die vroue na sy graf toe gegaan . En nou sê hulle sy liggaam is weg . En dat ’n engel vir hulle gesê het Jesus leef weer.”
“Hoekom is julle so verbaas daaroor?” het Jesus gevra . “Weet julle dan nie dat die profete gesê het dit alles gaan gebeur nie?”
Toe begin Hy vir hulle verduidelik wat die profete oor Hom geskryf het .
Toe hulle by die huis kom, het hulle die man ingenooi . “Dit is amper donker. Kom in en eet saam met ons . ”
Aan tafel het die vreemdeling die brood geneem en vir God dankie gesê daarvoor. Op daardie oomblik het die twee vriende besef dit is Jesus self wat by hulle is . Maar net toe hulle Hom herken, het Jesus verdwyn .
Baie opgewonde het die twee vriende haastig teruggegaan Jerusalem toe . Daar het hulle vir hulle vriende alles vertel wat met hulle gebeur het .
Jesus se vriende was een aand almal bymekaar, saam met nog vriende van Jesus . “Dit moet waar wees,” het hulle gesê . “Petrus het Hom ook gesien . ”
Die deur van die vertrek waar hulle was, was gesluit . Hulle was bang . Maar skielik het Jesus daar by hulle gestaan, in die vertrek . Hulle het groot geskrik, want hulle het gedink hulle sien ’n spook . Maar Jesus het hulle gerus gestel . Hy het vir hulle die merke van die spykers aan sy hande en sy voete gewys . Toe het hulle besef dit is regtig Jesus .
“Raak aan My,” het Hy hulle genooi . “Spoke het nie vleis en bene nie . ” Weer het hulle besef dit moet regtig Jesus wees .
Tog kon hulle skaars hulle oë glo . Hulle was so bly om Jesus weer te sien en met Hom te praat .
“Het julle iets hier om te eet?” het Jesus gevra . Hulle het vir Hom vis gegee en gekyk hoe Hy dit eet . Daarna kon hulle glad nie meer twyfel nie . Dit was regtig Jesus . Hy leef!
Jesus het vir hulle verduidelik dat alles wat gebeur het, deel was van God se wonderlike plan om mense te verlos . Hy het aangehaal uit God se wet, uit die profete en uit die psalms .
“God se Koning moes ly en sterf,” het Jesus gesê, “en uit die dood opstaan . Die straf vir die sonde is betaal . Die dood het
verloor. God vergewe elkeen wat in My glo en die nuwe lewe by My kry . Dit is die goeie nuus vir mense van elke taal en volk . Julle moet in die wêreld uitgaan en dit vir almal vertel . ”
Tomas was nie daardie aand by die ander nie . Toe hulle vir hom vertel hulle het vir Jesus gesien, het hy geweier om hulle storie te glo .
“As ek nie die merke aan sy hande sien en raak aan die wond in sy sy nie,” het Tomas gesê, “sal ek dit nie glo nie . ”
’n Week later was hulle almal weer bymekaar. Tomas was ook daar. Die deur was weer gesluit . Skielik was Jesus by hulle in die vertrek .
“Kyk na die merke van die spykers aan my hande,” het Jesus vir Tomas gesê . “Raak aan die wond in my sy . Hou op twyfel en glo!”
Dit was nie eens vir Tomas nodig om aan Jesus te raak nie . Hy het dadelik ophou twyfel .
“My Here en my God!” het hy bly geroep .
Baie van Jesus se volgelinge het Hom in die weke daarna gesien . Sy vriende het Jerusalem verlaat en na Galilea teruggekeer.
“Ek gaan visvang,” het Petrus eendag vir die ander gesê .
“Ons kom saam,” het hulle gesê . Hulle het met die skuit uitgegaan en was die hele nag op die see . Maar hulle het niks vis gevang nie .
Toe die son opkom, het Jesus op die strand gestaan . Maar hulle het nie geweet dit is Hy nie .
“Het julle enige vis gevang?” het Jesus geroep .
“Nee, niks nie,” was hulle antwoord .
“Gooi die net aan die regterkant uit . Dan sal julle iets vang . ”
Hulle het die net aan die regterkant van die skuit uitgegooi . En hulle het so baie vis gevang dat hulle die net nie kon intrek nie .
“Dit is Jesus!” het Johannes vir Petrus gesê .
Jesus het klaar vuur op die strand gemaak .
“Bring van die vis wat julle gevang het,” het Hy gesê, “dan eet ons saam ontbyt . ”
Ná die ete het Jesus na Petrus toe gedraai .
“Petrus, het jy My lief?” het Jesus vir hom gevra .
“Ja, Here,” het Petrus gesê . “U weet ek het U lief . ”
Drie keer het Jesus vir Petrus dieselfde vraag gevra . En drie keer het Petrus geantwoord: “Ja, Here, U weet ek het U lief . ”
“Sorg goed vir my volgelinge,” het Jesus vir Petrus gevra .
Jesus en sy vriende was saam op die Olyfberg net buite Jerusalem . Dit was tyd om mekaar vir die laaste keer te groet . Amper ses weke het verbygegaan vandat Jesus uit die dood opgestaan het .
“Binnekort,” het Jesus gesê, “sal God sy Gees na julle toe stuur. Hy sal julle help om dapper te wees en vir die mense van Jerusalem, Judea, Samaria en die hele wêreld te gaan vertel wat Ek gedoen het . Vertel vir hulle die goeie nuus dat elkeen wat in My glo en regtig jammer is oor alles wat hulle verkeerd gedoen het, vergewe sal word . Ek sal vir hulle die nuwe lewe gee . ”
Nadat Jesus dit gesê het, het ’n wolk Hom in die hemel opgeneem . Sy vriende kon Hom nie meer sien nie . Terwyl hulle nog so daar staan, was daar skielik twee mans in wit klere by hulle .
“Jesus het weggegaan om weer by God te wees,” het hulle gesê . “Maar eendag sal Hy terugkom net soos Hy nou weggegaan het . ”
Op die dag van die pinksterfees, die fees wat die Jode aan die begin van die oestyd vier, was Jesus se vriende weer saam in ’n huis in Jerusalem . Skielik het hulle ’n geluid soos ’n baie sterk wind gehoor. En iets soos vuurvlamme het verskyn . Die vuur het in kleiner vuurtonge verdeel en op hulle elkeen gaan sit .
God het sy Heilige Gees na hulle toe gestuur, net soos Jesus belowe het .
Jesus se vriende het begin praat in tale wat hulle nog nooit voorheen gepraat het nie . Jerusalem was stampvol mense wat daar was vir die fees . Daar was mense uit Egipte en NoordAfrika, uit Persië, Kreta en Arabië . Tot hulle verbasing het hulle gehoor hoe hierdie mense in hulle eie taal vir hulle van God se wonderdade vertel .
Petrus het opgestaan om te praat . “Ek wil vir julle van Jesus vertel,” het hy gesê . Petrus het vir al die mense vertel van die wonderlike dinge wat Jesus gesê en gedoen het . Hy het vir hulle vertel hoe Jesus gekruisig is, en dat God Hom uit die dood opgewek het .
“Julle het iets verskriklik gedoen,” het Petrus gesê . “Julle het God se beloofde Koning gekruisig . ”
“Wat kan ons nou doen?” het die mense hartseer gevra .
“Vra God om julle te vergewe . Ontvang die nuwe lewe wat Hy gee . Word gedoop in die Naam van Jesus . God sal sy Gees ook vir julle gee . Hy sal altyd by julle bly en julle help . ”
Daardie dag het 3 000 mense in Jesus begin glo .
Jesus se vriende en die nuwe gelowiges het elke dag in die tempel bymekaargekom . Petrus en Jesus se ander vriende het die mense daar meer van Jesus geleer. Hulle het saam geëet . Die geld wat hulle gehad het, het hulle met mekaar gedeel .
Eendag het Petrus en Johannes tempel toe gegaan om daar te gaan bid . By ’n poort het hulle ’n man ontmoet wat sy lewe lank verlam was . Hy het elke dag daar by die tempel gesit en bedel vir geld .
Petrus het met die man gepraat .
“Ek het nie vir jou geld nie,” het hy gesê . “Maar ek kan vir jou iets baie beter gee . In die Naam van Jesus, staan op en loop!”
Petrus het sy hand uitgesteek om die man op te help . Skielik was daar krag in die man se voete en enkels . Hy kon opstaan! Hy kon loop! Hy kon selfs spring!
“Dankie, Here! Dankie, Here!” het die man uitgeroep . Al die mense wat hom gesien het, was verbaas oor wat gebeur het .
Die priesters was kwaad vir Jesus se vriende omdat hulle vir almal vertel het Jesus het uit die dood opgestaan . En nou het hulle nog ’n verlamde man laat loop ook . Die hele stad het gegons oor die nuus . Die priesters het soldate gestuur om vir Petrus en Johannes gevange te neem .
Die twee mans het voor die Joodse Raad gaan staan .
“Hoe het julle dit reggekry om die verlamde man gesond te maak?”
“Jesus het hom gesond gemaak,” het hulle geantwoord .
“Julle mag nooit weer oor Jesus praat nie . Julle mag nie eens sy Naam noem nie!” het die Joodse Raad hulle beveel .
Petrus en Johannes het geweet hulle lewe was in gevaar. ’n Paar weke vroeër sou hulle baie bang gewees het . Maar nou was God se Gees in hulle .
“Wat is reg? Om te doen wat julle van ons vra? Of om te doen wat God van ons vra?” het hulle dapper gevra . “Ons kan nie ophou praat oor alles wat ons gesien en gehoor het nie . ”
Die Joodse Raad het hulle gedreig en gewaarsku . Daarna het hulle Johannes en Petrus vrygelaat . Hulle is reguit na hulle vriende toe . Saam het hulle gebid en vir God gevra om vir hulle die moed te gee om aan te hou praat oor Jesus . En God het hulle gebede verhoor.
Die mense het van oraloor na Jesus se vriende toe gestroom om na hulle te luister. Hulle het siek mense gebring sodat hulle gesond gemaak kon word . Baie van hulle het in Jesus begin glo .
Die gelowiges het alles wat hulle gehad het, verkoop en die geld onder mekaar verdeel sodat almal genoeg kon hê . Maar dit was moeilik om altyd heeltemal regverdig te wees .
Jesus se vriende kies toe sewe mans om te sorg dat almal genoeg het . Een van hierdie mans was Stefanus . Hy was baie lief vir Jesus en het met sy hele hart op God vertrou .
Stefanus se vyande het egter mense betaal om leuens oor hom te vertel . “Ons het hom lelike dinge oor Moses en God hoor sê,” het hierdie mense beweer.
Stefanus is voor die Joodse Raad gebring . Daar het hy met almal gepraat oor die geskiedenis van Israel, oor Abraham, Isak, Jakob en Josef . Hy het vir hulle vertel van Moses en hoe ongehoorsaam die Israeliete aan God was .
“Vanaf die tyd daar in die woestyn tot nou toe,” het Stefanus gesê, “het julle aanhou weier om na God se boodskap te luister.
En nou het julle sy Seun doodgemaak . ”
Stefanus het opgekyk en sy oë het wyd gerek . “Ek sien vir Jesus!” het hy uitgeroep . “Hy staan aan God se regterhand!”
Dit was een te veel vir die Joodse Raad . Hulle het op Stefanus afgestorm en hom tot buite die stad gesleep . Daar het hulle hom met klippe begin gooi .
“Here Jesus,” het Stefanus gebid, “vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie . ” Toe het hy gesterf .
’n Jong man met die naam Paulus het daar gestaan en kyk hoe hulle vir Stefanus met klippe doodgooi . Hy self het nie klippe gegooi nie, maar hy wou ook van al die Christene ontslae raak .
Paulus was ’n Fariseër. Hy was baie trots op hoe gehoorsaam hy aan God se reëls was . Al is Paulus in Tarsus gebore, het hy in Jerusalem by die beste leermeesters studeer.
Na Stefanus se dood het Paulus van huis tot huis gegaan om na al die Christene te soek . Hy het baie van hulle in die tronk laat gooi . Ander het ontsnap . Filippus het na Samaria gegaan om vir die mense daar van Jesus te vertel . Op ’n dag het die Here vir hom gesê hy moet gaan na die pad wat na Gasa loop . Daar het Filippus ’n wa stadig na hom toe sien aankom . Op die wa was ’n hoë amptenaar van die koningin van Etiopië . Hy het hardop uit ’n boek gelees . Filippus het die woorde herken .
“Verstaan jy wat jy lees?” het hy vir die Etiopiër gevra .
“Hoe kan ek dit verstaan as niemand dit vir my verduidelik nie?” het die man geantwoord . Toe nooi hy vir Filippus om saam met hom op die wa te ry . Die Etiopiër het uit die profeet Jesaja se boek gelees . Die gedeelte wat hy gelees het, het Jesus se dood voorspel . Filippus kon toe die goeie nuus oor Jesus vir die Etiopiër vertel . Hy wou dadelik ’n Christen word . Filippus het hom in water langs die pad gedoop . Filippus het daarna verdwyn . En die man het vol blydskap verder gereis .
Paulus het uit Jerusalem weggegaan na Damaskus in Sirië . Hy het gehoor dat daar ook Christene is . Hy wou hulle gaan vang en terugneem Jerusalem toe . Op pad na Damaskus het daar iets vreemd met Paulus gebeur. Terwyl hulle gestap het, het ’n baie helder lig uit die hemel op Paulus geval . Die lig was so helder dat dit Paulus skoon verblind het . Hy het gestruikel en geval . Toe hoor hy hoe iemand sy naam roep .
“Paulus! Paulus! Hoekom wil jy My doodmaak?”
“Wie is U?” het Paulus gevra .
“Ek is Jesus . Gaan na die stad toe . Wanneer jy daar is, sal iemand vir jou kom sê wat jy moet doen . ”
Die mans by Paulus het die stem gehoor, maar hulle kon niemand sien nie . Paulus het opgestaan . Hy het sy oë oopgemaak, maar hy kon niks sien nie . Hy was blind! Die mans by hom het hom aan sy hand na Damaskus gelei .
In Damaskus was daar ’n man met die naam Ananias . Hy het in Jesus geglo . Die Here het in ’n droom met Ananias gepraat .
“’n Man met die naam Paulus bly in ’n huis in Reguitstraat . Ek het vir hom gesê jy sal jou hande op hom gaan lê sodat hy weer kan sien . ”
“Maar hierdie man het die vreeslikste dinge aan die Christene gedoen, Here,” het Ananias beswaar gemaak . “Hy het hierheen gekom om ons te vang . ”
“Ek het Paulus gekies om my boodskap na al die volke van die wêreld uit te dra . Ek sal vir hom wys hoe swaar hy ter wille van My sal moet kry . ”
Ananias was gehoorsaam en het na Paulus toe gegaan .
“Jesus het my na jou toe gestuur,” het hy gesê, “sodat jy weer kan sien . En sodat jy God se Gees kan ontvang . ” Dadelik kon Paulus weer sien, ná drie donker dae .
Hierdie ontmoeting met Jesus het Paulus se lewe heeltemal verander. Eers was hy teen Jesus gekant . Nou het hy geglo Jesus is regtig die Seun van God . Paulus was skaam oor wat hy vroeër gedoen het . Van toe af het sy hele lewe aan Jesus behoort .
Paulus het na die Joodse sinagoges gegaan en vir almal die goeie nuus oor Jesus vertel . Die mense kon nie glo dit was dieselfde man wat die Christene wou doodmaak nie .
Maar dit was nie lank nie, toe wou die Jode ook vir Paulus doodmaak . Een donker nag het sy vriende hom in ’n mandjie van die stadsmuur af tot onder laat sak . Paulus is reguit Jerusalem toe om daar by Jesus se vriende aan te sluit .
HANDELINGE 10, 12
Die Christene het op verskillende plekke in groepies gaan bly . Petrus het by al hierdie groepe gaan kuier. Die gelowiges het daarvan gehou om te luister terwyl Petrus vir hulle van Jesus vertel . In Joppe het Petrus by die see in die huis van Simon, ’n leerlooier, gaan bly .
’n Hele paar kilometer van daar af, in Sesarea, het Kornelius gewoon . Hy was ’n soldaat in die Romeinse leër, ’n kaptein in die Italiaanse regiment . Kornelius het die Jode baie gehelp en gereeld tot hulle God gebid . Hoe anders was die Jode se God as die gode van Rome! Kornelius het alles in sy vermoë gedoen om die armes te help . Hy het elke dag gebid, maar hy was nie ’n Jood nie . Daarom het Kornelius geen hoop gehad om ooit deel van God se volk te word nie .
Een middag het ’n engel na Kornelius toe gegaan .
“God het jou gebede verhoor,” het die engel vir hom gesê . “In Joppe is daar ’n man met die naam Petrus . Laat bring hom na jou toe . Hy het goeie nuus wat God wil hê jy moet hoor.” Die engel het vir Kornelius gesê presies waar Petrus bly .
Twaalfuur die volgende middag het Petrus opgestap na die plat dak van Simon se huis om daar te bid . Hy kon die kos ruik wat hulle besig was om te maak . Petrus het baie honger geword . Sy oë het begin toeval …
… Iemand het ’n groot doek uit die hemel laat afsak . Soos ’n groot seil is dit aan al vier die hoeke vasgehou . In die doek was daar allerhande soorte voëls en diere . Sommige van hierdie diere was volgens die Jode onrein . Geen Jood sou daarvan eet nie, want God se reëls het dit verbied .
“Kom, Petrus,” het ’n stem gesê . “Slag en eet . ”
“Nee, ek kan dit nie doen nie . Daardie diere is onrein . ”
“Moenie sê iets is onrein as God sê dit is rein nie . ”
Drie keer het presies dieselfde gebeur. Petrus het besef sy droom is ’n boodskap van God . Maar wat kon dit beteken?
Net toe klop die mans wat Kornelius gestuur het aan die deur. En toe Petrus vir Kornelius ontmoet, het hy God se boodskap verstaan . Die goeie nuus van Jesus is nie net vir die Jode bedoel nie . Dit is vir álle mense .
Kornelius het al sy vriende genooi om na Petrus te kom luister.
“Dit maak nie saak uit watter land julle kom nie,” het Petrus gesê . “Voor God is almal gelyk . ” Toe vertel hy vir hulle van Jesus .
Toe Petrus klaar gepraat het, het God sy Gees gestuur. Dit was presies soos op die pinksterdag .
Nie lank daarna nie het koning Herodes Agrippa, die kleinseun van koning Herodes die Grote, vir Jakobus laat vang en hom doodgemaak . Petrus is ook in die tronk gegooi . Die Christene het almal saam vir hom gebid . Petrus het geen hoop gehad dat hy vrygelaat sou word nie . Sy hande was met kettings geboei en hy het tussen twee soldate geslaap .
Maar in die nag het God se engel na Petrus se sel gegaan . Die engel het vir Petrus wakker gemaak . Die boeie het van sy hande afgeval .
“Maak jou gordel vas . Trek jou bokleed en jou skoene aan en kom agter my aan,” het die engel vir hom gesê .
Petrus het gedink hy droom!
Hulle het by al die wagte verbygestap . Toe hulle by die ysterdeur kom wat na die stad toe lei, het dit voor hulle oopgegaan . Hulle het uitgestap en skielik was Petrus alleen .
Die engel was nie meer by hom nie . Petrus het begin bewe .
Dit is regtig waar! het hy gedink . God het sy engel gestuur om my te red! Haastig is hy na die huis van Maria, die ma van Johannes Markus .
Die Christene was almal saam daar, besig om te bid . Petrus het aan die deur geklop .
’n Diensmeisie met die naam Rodé het gaan kyk wie klop . Sy het Petrus se stem herken . Dadelik het sy vir die ander gaan vertel Petrus is by die deur. Sy was so opgewonde dat sy skoon vergeet het om vir Petrus die deur oop te maak .
Eers het die ander gedink sy verbeel haar net . Maar hulle het die geklop aan die deur bly hoor. Uiteindelik het hulle die deur gaan oopmaak . Petrus het vir hulle vertel wat met hom gebeur het .
Die volgende oggend by die tronk kon niemand verstaan wat gebeur het nie, veral nie die geskokte wagte nie . En toe niemand vir Petrus kon kry nie, het Herodes die wagte laat doodmaak .
In Antiogië in Sirië het al meer mense Christene geword . Hulle het ander mense nodig gehad om hulle meer van Jesus te leer. Barnabas het uit Jerusalem gekom om te help . Hy het ook vir Paulus laat kom, wat na sy huis in Tarsus gegaan het .
Maar God het ander werk vir hierdie twee mans gehad .
“Ek wil hê Paulus en Barnabas moet ’n spesiale werk vir My doen,” het God vir die leiers van die gemeente gesê . “Hulle moet na dié mense toe gaan wat nog nooit van Jesus gehoor het nie . ”
Heel eerste is hulle Siprus toe, waar Barnabas gebore is . Die eiland se goewerneur het hulle hartlik verwelkom . Hy het geluister na alles wat hulle vir hom vertel het . Hy het ’n volgeling van Jesus geword .
Daarna het hulle met ’n skip na Turkye gevaar. Daar het hulle meestal te voet van dorp tot dorp gereis .
Hulle het altyd eers na die sinagoges gegaan om daar vir die Jode die goeie nuus van Jesus te vertel . Maar min van die Jode wou na hulle luister. Hulle wou nie glo Jesus is regtig God se beloofde Koning nie . Hulle het ook dikwels moeilikheid gemaak . Paulus en Barnabas het ’n paar noue ontkomings gehad .
Maar in elke dorp en stad was daar mense wat graag na hulle wou luister. Hierdie mense het in Jesus begin glo .
Paulus en Barnabas het leiers gekies vir elke nuwe groep Christene voordat hulle verder gereis het .
Terug in Antiogië het hulle vir die Christene vertel wat alles met hulle gebeur het . Kort voor lank was Paulus weer op reis . Hierdie keer het hy vir Silas saam met hom geneem . Hulle het te voet na Listra in Turkye gereis . Daar het ’n jong man met die naam Timoteus by hulle aangesluit . Toe hulle by die kus kom, was Paulus nie seker waarheen hulle volgende moes gaan nie . Een nag het Paulus gedroom . In die droom het ’n man van Griekeland na hom geroep . “Kom Griekeland toe en help ons!”
Toe Paulus wakker word, was hy oortuig dit was ’n boodskap van God . Toe vaar hulle oor die Egeïese See na Griekeland .
In die tronk in Filippi
Ongeveer ’n week later was Paulus en Silas in die tronk in Filippi . Hulle is daar gevange geneem en geslaan . (Dit was teen die wet, want Paulus was nie net ’n Jood nie; hy was ook ’n Romeinse burger. Daarom het hy sekere regte gehad . Maar die mense van Filippi het dit nie geweet nie .)
Toe dit middernag was, het Paulus en Silas in die tronk tot God gebid en lofliedjies gesing . Hulle rûe was so seer dat hulle nie kon slaap nie . Skielik het hulle gevoel hoe ’n aardbewing die fondamente van die tronk laat skud . Die tronk se deure het oopgeswaai . Die gevangenes se boeie het van hulle afgeval .
Die bewaarder van die tronk het gedink al die gevangenes het ontsnap . Hy wou homself doodmaak, maar toe roep Paulus na hom en sê hulle almal is nog daar. Die bewaarder het net daar ’n Christen geword! Teen die tyd dat Paulus en sy vriende Filippi verlaat het, was daar ook ’n groepie Christene . Paulus het vir al die gelowiges op die verskillende plekke begin briewe skryf om te hoor hoe dit met hulle gaan . Sy briewe was vol troos . Hy het die gelowiges moed ingepraat en vir hulle praktiese raad gegee . Hy het hulle ook al meer oor Jesus geleer.
Atene en Korinte
Vanaf Filippi het Paulus en sy vriende suidwaarts gereis . Toe Paulus in Atene aankom, was hy ontsteld oor al die afgode in die stad . Die geboue, die tempels en die markplein was pragtig, maar die mense het nie die enigste ware God geken nie . Paulus het dadelik vir die mense van Jesus se lewe, sy dood en sy opstanding vertel .
Die mense van Atene was lief vir redeneer. Hulle het Paulus voor die stadsraad gebring sodat hulle na sy nuwe leer kon luister. Hulle het lekker met mekaar geredeneer, maar nie baie mense in Atene het Christene geword nie .
Daarna het Paulus na die besige stad Korinte vertrek . Daar het hy twee nuwe vriende gemaak, ’n Jood met die naam Akwila en sy vrou, Priscilla . Paulus het by hulle gebly . Hy het geld verdien deur tente te maak, net soos Akwila en Priscilla . Paulus het agttien maande in Korinte gebly en die mense daar van Jesus geleer.
Hulle almal is later saam uit Korinte weg . Akwila en Priscilla is Efese toe, en Paulus en sy vriende is terug Antiogië toe . Kort daarna het Paulus ook Efese toe gegaan . Hy het twee jaar daar gebly en die mense van Jesus geleer.
Efese was beroemd vir die tempel van die godin Artemis . Die silwersmede het ryk geword deur silwerbeeldjies van hierdie godin te maak en dit te verkoop . Paulus en sy vriende het die goeie nuus van Jesus daar verkondig en baie mense het in Jesus begin glo . Toe het al minder mense beeldjies van Artemis gekoop .
Demetrius, een van die silwersmede, het toe ’n groot opskudding daaroor veroorsaak . Die mense het in opstand gekom . Twee van Paulus se vriende is na die opelugteater gesleep . Die mense het ure lank daar gebly en geskreeu en ’n hele oproer veroorsaak . Uiteindelik het die stadsklerk hulle tot bedaring gebring .
Toe almal kalm was, het Paulus die Christene bymekaargeroep om hulle te groet . Eers is hy terug Griekeland toe, en daarna het Paulus Jerusalem toe gegaan .
Paulus het geweet dit is vir hom gevaarlik om Jerusalem toe te gaan . Toe die skip waarmee hy gevaar het by ’n hawe in Efese aandoen, het hy sy vriende daarheen laat kom . Paulus het hulle bemoedig en hulle het saam gebid . Daarna het hulle vir Paulus hartseer gegroet en gekyk hoe die skip wegseil .
Paulus was skaars in Jerusalem toe beland hy in nog ’n opstand .
Die Jode het gedink hy het ’n vriend wat nie ’n Jood was nie saam met hom by die tempel ingeneem . Dit was glad nie toelaatbaar nie . Die Romeinse soldate het net betyds daar aangekom om Paulus se lewe te red .
Selfs in die tronk was Paulus nie veilig nie . Mense het ’n plan gemaak om hom dood te maak . Toe moes hulle vir Paulus na Sesarea neem . Daar het die Jode vir Paulus aangekla . Die Romeinse goewerneur, Feliks, het na Paulus geluister terwyl hy homself verdedig het . Maar hy het nie gesê of Paulus skuldig of onskuldig is nie . Twee jaar later, toe Festus in Feliks se plek goewerneur geword het, was Paulus nog altyd in die tronk .
“Is jy bereid om Jerusalem toe te gaan om daar verhoor te word?” het Festus gevra .
Paulus was ’n Romeinse burger. Hy het die reg gehad om sy saak vir die keiser te stel .
“Nee,” het Paulus gesê . “Ek wil met die keiser praat . ”
“Dan stuur ek jou Rome toe,” het Festus gesê .
Die skip het laat in September vertrek . Julius, ’n Romeinse offisier in die keiser se regiment, was in beheer van Paulus en die ander gevangenes . Naby Kreta het die skip in ’n groot storm beland . Die skip kon nie op koers bly nie . Daarom het hulle die seile laat sak en die skip net laat dryf . Die volgende dag het hulle van die vrag oorboord gegooi om die skip ligter te maak . Die storm het veertien dae gewoed .
Hulle kon nie die son of die sterre sien nie . Hulle het nie geweet waar hulle is nie .
Een nag het die matrose besef hulle is naby land . Hulle was bang die skip loop op die rotse . Toe gooi hulle al die ankers uit . Teen die oggend het Paulus almal op die skip aangemoedig om iets te eet .
“Die skip sal vergaan,” het hy gesê . “Maar God het my belowe dat ons almal gered sal word . ”
Teen dagbreek het die skip ’n sandbank getref . Die branders het die skip uitmekaar begin breek . Die soldate wou al die gevangenes doodmaak, maar Julius het hulle gekeer. Hy wou Paulus se lewe red . Toe beveel hy almal wat kon swem om die land te probeer bereik . Die ander moes aan houtplanke vasklou en strand toe dryf . Almal was uiteindelik veilig op die land . Daar het hulle uitgevind hulle is op die eiland Malta .
Hulle moes tot die lente wag om verder te kon vaar. Hierdie keer het alles goed afgeloop . Paulus het in Rome aangekom .
Die Christene daar het na Paulus toe gekom om hom te ontmoet . Die volgende twee jaar, terwyl Paulus gewag het om verhoor te word, het baie mense na hom toe gekom . Hy het almal verwelkom en vir hulle van die Here Jesus Christus vertel .
Die goeie nuus van Jesus het vanaf Jerusalem versprei . Eers na Antiogië in Sirië, na Griekeland en na Rome . Later is dit deur die hele Romeinse Ryk verkondig omdat die Christene die boodskap van Jesus vir al hulle vriende vertel het . Soos Paulus, was hulle ook bereid om swaar te kry en te sterf vir hulle geloof in Jesus .
Wat daarna gebeur het, is ’n ander verhaal . Hierdie verhaal strek oor meer as 2 000 jaar en oor die hele wêreld . En hierdie verhaal is nog nie klaar nie . Dit sal eers klaar wees wanneer
Jesus weer kom . Dan sal die nuwe hemel en die nuwe aarde aanbreek .
En God sal vir altyd by sy kinders wees .
This modernised Southern African edition of the much-loved, multimillion-selling Lion Children’s Bible contains faithful retellings of all the important stories of the Bible.
Attractively presented with appealing illustrations, these timeless stories start with the creation, continue through the story of the people of Israel and the life of Jesus, and end with Paul’s shipwreck and arrival in Rome.
This trusted edition unlocks for every child the enjoyment of reading Bible stories, either alone or with the help of an adult.
‘Modernised to be clear and simple enough for children to read easily ... the thread of God’s purpose runs clearly but unobtrusively through.’ Church Times
ISBN: 978-1-928437-39-0 9 781928 437390
ISBN 978-1-928437-39-0 www.christianmediapublishing.com